STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (9)

LW Bienedell

Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing

Verfynde man van daad: Dr. Albert Hertzog

6 Augustus 1993

DIE veiling van ’n deel van dr. Albert Hertzog se versameling van oudhede en kosbaarhede het weer die uitsonderlike hoedanighede van die merkwaardige man onder die aandag gebring.

Onder die politieke figure van sy tyd was hy ongetwyfeld die mees gekultiveerde en verfynde persoon, maar tegelyk die man wat in harde stryd op ’n verskeidenheid terreine groot suksesse behaal het. Dat hy teenstanders en vyande onder sy tydgenote en kollegas sou hê, was verseker deur sy voortreflike en veelsydige menslikheid. Voortreflikheid en beginselvastheid en toegewydheid in die openbare lewe roep altyd naywer op by die gefrustreerdes, die oorambisieuses en die middelmatiges. En menslike voortreflikheid, politieke beginselvastheid en patriotiese toegewydheid was sinoniem met dr. Hertzog se naam.

Dit is opvallend dat sy politieke teenstanders en vyande binne die Nasionale Party byna almal ook teenstanders en vyande van ander voortreflike openbare figure soos adv. JG Strijdom en dr. HF Verwoerd was — Ben Schoeman, John Vorster, PW Botha, Piet Cillié. Dit bevestig meteens dat dit om die politieke denke en beleid gegaan het wat hierdie manne verteenwoordig het.

As ’n seun van die befaamde genl. JBM Hertzog, het dr. Albert uiteraard in sy skadu gestaan. Hierdie verhouding het dr. Hertzog beïnvloed om sy politieke aktiwiteite aanvanklik meer in die agtergrond te beoefen en Afrikanernasionalisme buite die party-politiek te beoefen, soos later hierin behandel word.

Wat hom al ’n hoë uitsondering maak is dat hy die enigste seun van ’n Suid-Afrikaanse regeringshoof was wat in die politieke stryd —- die terrein van sy vader — uitgestyg het.

By watter deugde die seuns van die ander Suid-Afrikaanse Eerste Min­isters en Presidente het of gehad het, nie een van hulle het op die politieke terrein ’n merk gelaat nie. Genl. Botha, genl. Smuts, dr. Malan, adv. Strijdom, dr. Verwoerd, mnr. John Vorster, mnr. PW Botha en mnr. FW de Klerk het geen seuns in die rigting opgelewer nie.

Soos dikwels by groot figure het dr. Hertzog in sy veelsydigheid ook hoedanighede gehad wat met ander gekontrasteer het—sy uiterste beleefdheid teenoor sy onwrikbare standpuntstelling; sy liefde vir goeie en mooi dinge, soos sy Porsche-motorkar, sy kosbare oudhede, sy mooi tuin en skaars broodboomspesies teenoor sy aksievolle toewyding aan volksorganisasies.

Hy was een van die groot dryfkragte agter die stigting van Volkskas. Hy was die sentrale figuur in die stryd om die Mynwerkersbond in Afrikaans-nasionale hande te kry. Hy was die toonaangewende krag in die verowering van die Pretoriase en sekere Witwatersrandse stadsrade deur Afrikaners. Hy was in die Broederbond die lid wat die langste diens in die Uitvoerende Raad gehad het—waarvoor hy met ’n medalje vereer is. Hierdie enkele gegewens raak eintlik net die rand van dr. Hertzog se rustelose toewyding aan sy volk.

Dat dié eervolle en karaktervolle Afrikaner onder aanvoering van John Vorster, Ben Schoeman, Piet Cillié en PW Botha op openbare vergaderings met eiers en tamaties bestook is, het een van die afskuwelikste hoofstukke van die Afrikanervolk se geskiedenis geword.

Met sy goedertrou teenoor mense het dr. Hertzog nie die intensiteit van die naywer binne die kabinet en sekere Kaapse kringe teen hom besef nie. Hy was in dr. Verwoerd se Kabinet verreweg die mees onderlegde en polities kundige lid. Hy kon met gesag praat oor die ekonomie, oor justisie, oor rasseverhoudings, oor die geskiedenis, oor grondwetlike sake, oor die rol van die media, oor buitelandse sake. Buiten dr. Verwoerd was net dr. Eric Louw so ’n toegewyde en bedrewe politieke figuur.

Daarby het hy buite die eng partypolitiek ’n sterk basis in eie reg gehad weens die verskillende fondse wat hy beheer het, die vertroue wat hy in vakbondkringe geniet het, die direkteurskap in Afrikaanse Pers en ander Afrikaanse maatskappye, en die invloed in die Afrikanerorde en in die Broederbond. Gepaard hiermee was sy smettelose diens aan die Afrikanervolk.

Hierteen het sy oorambisieuse kollegas se beperkte agtergrond sleg afgesteek. Wat egter die grootste prikkel tot vyandigheid teen dr. Hertzog was, was die besef dat hy die enigste Kabinetslid was wat die integriteit, die moed, die kennis en die deursettingsvermoë gehad het om dr. HF Verwoerd se voetspore te volg en sy suksesvolle staatsbestuur voort te sit. Dr. Albert Hertzog het groot in die pad van hierdie kollegas se ambisies en ander groepe se belange gestaan. Daarom is die veldtog geloods om hom omstrede en verdag te maak voordat dr. Verwoerd vermoor is, sodat hy as opvolger van dr. Verwoerd uitgeskakel kon word.

Dit is tyd dat die wanvoorstellings en leuens oor dr. Hertzog aan die lig gebring word. Dit is tyd dat Afrikaners besef watter groot historiese betekenis die stryd teen dr. Albert Hertzog in ons geskiedenis gehad het. Dit is tyd dat die stryd teen dr. Hertzog gesien word in samehang met die verrotting en verraad wat vandag die Suid-Afrikaanse politiek kenmerk. Dit is veral tyd dat kennis geneem word van die verfynde menslikheid en karakteradel van hierdie man.