STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (14)

LW Bienedell

Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing

Jaap Marais bedank uit die NG Kerk

29 Oktober 1993

NA langdurige korrespondensie met die lede van die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) van die NG Kerk, het mnr. Jaap Marais uit die NG Kerk bedank.

In ’n brief aan dr. Fritz Gaum, die skriba van die ASK, voer hy redes aan waarom hy nie langer lidmaat van die kerk kan wees nie.

Mnr. Marais verwys na die Noord-Transvaalse sinode van die kerk se “afwysing van apartheid as sonde” en na die “betekenis vir die kerk om trou aan die waarheid te bly”. Hy vermeld dat dit hoofsaaklik gaan om “eerstens vasstelling van die waarheid, en tweedens, die eer van die Afrikanerpolitiek.” Die antwoord wat hy daarop gekry het, was onbevredigend. Daar is altesaam 9 punte genoem as antwoord op sy kritiek, waarvan vyf gladnie ter sake was nie.

In Kerk en Samelewing 1990 word beweer dat apartheid ’n etnosentriese basis sou gekry en ’n ideologie sou geword het, op grond waarvan die Algemene Sinode dit as sondig afgewys het. Mnr. Marais skryf: “...die beginsels en die beleid van apartheid het nie ’n verandering ondergaan soos hierdeur beweer word nie. Dit gaan derhalwe hier om die waarheid, wat ek beweer deur Kerk en Samelewing 1990 geweld aangedoen word. En ’n erger aanklag teen die Sinode is nie te oorweeg nie as dat die veroordeling van apartheid as ’n sonde op valse gronde gedoen is. Waar daar, soos ek telkens aangetoon het, nie bewys kan word nie dat ‘apartheid’ ’n etnosentriese basis ‘gekry het’ en tot ”n ideologie uitgebou is’, soos in Kerk en Samelewing 1990 beweer word, verval die grondslag waarop ‘apartheid’ tot sonde verklaar is. ’n Ernstiger vergryp oor so ’n allergewigtigste saak kan kwalik bedink word, veral waar dit die hoogste liggaatn van ’n kerk se optrede is.” Mnr. Marais het voorts beswaar daarteen dat die NG Kerkleiers hulle in die Rustenburg-deklarasie van November 1991 vereenselwig met ’n uitspraak dat apartheid in sy bedoeling sondig sou wees. Hy meld voorts dat “gelykluidenheid hiervan met die ANC-SAKP se Harare-deklarasie van Augustus 1989 waargeneem word.”

Leiers soos dr. Malan, adv. Strijdom en dr. Verwoerd is bewustelik deur die Sinode verdag gemaak deur hulle beleid te veroordeel. Persone wat vanaf 1948 apartheid verkondig en toegepas het, het volgens hierdie Sinodestelling sonde gepleeg en staan daarom as sondaars veroordeel. As apartheid volgens die Sinode sonde is, is ondersteuners en beoefenaars daarvan uiteraard sondaars. Mnr. Marais voeg daaraan toe: “Die Sinode het my en ander Afrikaners—ook die vroeër gestorwenes—tot sondaars verklaar op grond van ’n politieke leuen, terwyl die Noord-Transvaalse Sinode te kenne gee dat die kerk daardeur trou aan die waarheid bly!”

Mnr. Marais se hoofbeswaar is dus die arbitrêre en teologies onverantwoorde aanvaarding dat etnosentrisme ’n sonde sou wees. Daar word geen teologiese beredenering vir die stelling gegee nie. Dit is alleen ’n dienstige vereenselwiging met die linkse politieke ideologie van die liberalisme en Kommunisme. “Die koppeling van apartheid, etnosentrisme en sonde is so klaarblyklik ’n berekende aanval op Afrikanernasionalisme dat dit geen bespreking behoef nie. Etnosentrisme is onafskeidelik van volksbewustheid en nasionalisme.”

Oor die feit dat die Sinode “ruimte laat vir goeie bedoelings aan die begin van apartheidsreëlings in Suid-Afrika, maar dat die beleid algaande ’n etnosentriese en ideologiese basis gekry het”, en daaraan toevoeg: “Skeidingsmaatreëls en -wette het algaande meer geword as ’n middel tot ’n doel, maar ’n doel op sigself. In die proses is mense leed aangedoen,” sê mnr. Marais dat dit die kern van die saak uitmaak. Hy wys daarop dat hy teenoor die Dagbestuur van die ASK en briewe aan die Voorsitter telkens gevra het om aan te dui wanneer en op grond waarvan apartheid na bewering ’n etnosentriese basis en ideologiese aard gekry het. Hy wys daarop dat niemand daarop geantwoord het nie. Mnr. Marais maak die afleiding dat die bewering bedink is as ’n uitweg uit die Sinode se probleme: “Die sonde moes op die rekening van die Afrikanerpolitiek van 1948-1966 geplaas word, sodat enersyds die vroeëre rasseskeiding onder ander nasies kwytgeskeld word, en andersyds die anti-apartheidskoor teen Afrikanernasionalisme gelyk gegee word.”

Mnr. Marais is baie stellig wanneer hy sê dat dit nie waar is dat apart­heid “algaande” ’n etnosentriese basis gekry het en ’n ideologic geword het, waardeur dit tot iets anders gemaak is as wat dit voor 1948 was nie. “Dit gaan hier om die waarheid en harde historiese feite, nie om arbitrêre uitsprake wat in newelagtige terme ingeklee word nie. Die wette wat ‘algaande’ na 1948 gemaak is, verskil wat motiewe en oogmerke betref, in geen opsig van die wette wat in die vorige eeu deur sowel die Boere-republieke as die Britse regeerders in Kaapland en Natal gemaak is, en ook nie van die wette wat na 1900 deur die verskillende regerings in SA gemaak is nie.

Hierop noem mnr. Marais verskillende wette wat in die kategorie val. Hierdie wette rus almal op die erkenning van rasse-identiteit en is derhalwe “etnosentries”. Daarby kan op grond van hierdie benadering gesê word dat deur al die wette van voor 1948 “mense leed aangedoen is”. Dog, omdat dit nie gedoen is uit naam van apartheid nie, sou dit in die oë van die Sinode nie sonde wees nie! “Die politieke oneerlikheid en huigelary wat hierin verskuil word, pas nie in beskaafde samelewings nie, en allermins by ’n kerklike liggaam wat hom uiteraard moet beroep op waarheid.”

“Die feit dat die Sinode nie beleide van rasseskeiding en rasse- diskriminasie, onder name soos segregasie, ‘separation’, afsonderlike ontwikkeling en eiesoortige ontwikkeling, as sonde veroordeel nie, maar die veroordeling voorbehou vir die beleid wat ooreenstemmende uitgangspunte en oogmerke het, dog apartheid genoem is, getuig nie net van politieke oneerlikheid nie, maar is blykbaar bedoel om ’n klad te werp op die NP- leiers van 1948-1966 en die eer van die hele Afrikanerpolitiek van die tyd. Op grand daarvan het prof. Willie Jonker hom aangematig om ‘namens die Afrikanervolk’ ’n skuldbelydenis af te lê. Die Afrikanervolk is deur die NG Kerkleiding skuldig verklaar en moet bieg voor sy vyande. Ek verwerp die implikasie met die grootste beslistheid,” skryf mnr. Marais.

Sy beswaar is ook dat die NG Kerk-sinode hom deur KS 1990 vereenselwig het met die vyande van die Afrikanervolk wat sedert 1948 die “Boer War” met ander middels voortgesit het om die Afrikaners se politieke mag te breek. Die aanvalle op apartheid wat gelei is deur die Kommuniste, die Amerikaanse imperialiste, die georganiseerde geldmag en die erkende anti-Afrikaanse liberaliste was die herkenbare indirekte metode om die vyandskap teen Afrikanernasionalisme onder ’n ander dekmantel voort te sit.

Net soos die Britte deur die stemreg voor die oorlog die Afrikaner wou onderploeg, word die veldtog nou voortgesit uit naam van stemreg vir die Swartes— met die Kommuniste op die voorpunt daarvan—om weer die Afrikaners se politieke mag te breek. Dit is waartoe die NG Kerk-leiding hom geleen het op die politieke spoor van die mees oneervolle en beginsellose regering wat Suid-Afrika ooit gehad het en wat verandering en hervorming gebruik as rasionalisasie van vcrraad—’n verraad waaroor die NG Kerk- leiding swyg. In die proses word gepoog om die Regering se drostersoptrede die skyn van teologiese geldigheid te gee en word die Afrikanervolk se vyande na die mond gepraat. Die implikasie daarvan is dat die NG Kerk in vyandskap gegaan het teen die politieke beginsels en beleid van die HNP en wat ingebou was van die vroegste begin van rassekontak in Suid-Afrika.

Die voorspoed van die sestigerjare word deur mnr. Marais as bewys aangevoer dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling nie misluk het nie. Dit was eerder die verwerping en aftakeling van apartheid wat gelei het tot die gruwelike misstande wat tans in Suid-Afrika ervaar word in die vorm van wetteloosheid en werkloosheid, van plakkery en rampokkery, van dood en hongersnood.

“Apartheid het nie misluk nie. Dit is verraai deur politieke leiers wat nie die intellektuele vermoê en die morele moed gehad het om in die spore van dr. Verwoerd en sy voorgangers te volg nie. En die NG Kerk-leiding het nou hulle teologies-politiese apologete geword.”

“Die ineenstorting van die Sowjet-Unie en die Sentraal-Europese state is ’n aanskouingsles van die mag van nasionalisme (of etnosentrisiteit, as u wil). En die mislukking van die beleid van rassegelykmaking word nêrens beter geillustreer nie as in die VSA, waar “Black Power” bepleit word, hoewel die Swartes veronderstel is om geen ander etnisiteit as Blanke Amerikaners te hê nie. In die Amerikaanse Kongres verenig Swartes van die verskillende partye bo-oor partygrense in ’n “Black Caucus” net op grond van ras en kleur. En in Suid-Afrika vier geweld hooggety tussen Zoeloes en Xhosas, is selfs Xhosas van Ciskei en van Transkei in oorlog teen mekaar, en skree ANC-Xhosas “Kill a farmer, kill a Boer”. Het die NG Kerk-leiding hierdie “etnosentrisme” as sonde veroordeel?

“Die HNP is die herleefde Nasionale Party van Hertzog, Malan, Strijdom en Verwoerd, wat die groot konstitusionele, diplomatieke, ekonomiese en opvoedkundige ontwikkeling in Suid-Afrika gelei het. Vir die HNP is dit nie ’n probleem om sy politieke en godsdienstige oortuigings te versoen nie. Ons beroep ons op die intellektuele uitmuntendheid en morele moed van ’n Tobie Muller as NG teoloog wanneer ons op die beginsels van nasionalisme staan.

“In sy ‘Die geloofsbelydenis van ’n Nasionalis ’ sê Muller byvoorbeeld: “Die nasionalisme is ’n intensiewe en geen ekstensiewe saak nie... Om ons volkslewe diep te maak, is ons eerste taak... Sy volk is tewens vir elke per soon die aangewese kring waarin hy in die eerste plek sy roeping vervul. ” En dan bind Muller die band tussen nasionalisme en godsdiens. “Godsdiens ”, sê hy, “sluit moraliteit in. Daarom is dit reeds hierom ’n godsdienstige plig om nasionalis te wees... Uit hierdie oogpunt beskou, is papheid op nasionale gebied ’n religieuse oortreding, dit wil sê ’n sonde".

“Ons is derhalwe in baie goeie teologiese geselskap as ons die NG Kerk- leiding se ‘papheid op nasionale gebied’ saam met Tobie Muller as sonde veroordeel en ons nasionalisme as ’n godsdienstige plig beskou.

“Hiermee beëindig ek my gesprek met die NG Kerk-leiding omdat die ASK klaarblyklik vashou aan die onwaarhede in KS 1990. Tegelyk beëndig ek daarom my lidmaatskap van die NG Kerk, sluit mnr. Marais af.

Vervolg...