STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (3)

                                                                                    LW Bienedell

Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing

Naakte Magsdeling in Kabinetsraad

16 Maart 1983

Die Nasionale Party se grondwetlike voorstelle van 1977 is in die afgelope dae opnuut in die politiek ingeruk met die voormalige Eerste Min­ister, mnr. John Vorster, se optrede hy die Universiteit van Pretoria as gas van die KP. Daar kan aangeneem word dat dit ’n belangrike strydvraag in die komende reeks tussenverkiesings gaan word.

In sy toespraak voor die Pretoriase studente het mnr. Vorster twee vanselfsprekende uitlatings gemaak: dat hy steeds die 1977-voorstelle onderskryf en dat dit nie politieke magsdeling is nie. Dit is wesenlik ook die amptelike standpunt van die KP namens wie hy opgetree het. Die Leier van die KP, mnr. Andries Treumicht, was persoonlik daar en het mnr. Vorster oor sy standpunt toegejuig. KP-leiers voer aan dat die 1977-voorstelle nie magsdeling sou wees nie en dat die Blanke Parlement sy soewereiniteit sou behou het. Verder is hulle argument dat die voorgestelde Raad van Kabinette van Blankes, Kleurlinge en Indiërs nie ’n Kabinet in die ware sin van die woord sou wees nie en bloot in ’n raadgewende rol sou optree.

BONTRAAD

Dit is daarom nodig om weer sorgvuldig na die 1977-voorstelle te kyk.

Volgens die 1977-voorstelle sou die beoogde uitvoerende gesag onder die voorgestelde bedeling bestaan het uit ’n Uitvoerende Staatspresident, verkies deur ’n veelrassige kieskollege en ’n Raad van Kabinette, bestaande uit die Staatspresident, sewe Blankes, vier Kleurlinge en drie Indiërs. Drie Parlemente, een elk vir Blankes, Kleurlinge en Indiërs, sou die wetgewende gesag uitmaak. ’n Presidentsraad wat uit al drie rassegroepe sou bestaan, sou die Raad van Kabinette adviseer. Gesamentlike komitees, bestaande uit lede van al drie die Parlemente, sou beraadslaag om verskille ten opsigte van wetgewing uit te stryk.

Dit is van die grootste belang om daarop te let dat geen voorsiening daarvoor gemaak is dat die drie Parlemente elk oor sy eie grondgebied sou regeer nie. Daar was dus geen sprake dat afsonderlike tuislande met die 1977-voorstelle gerym kan word nie. Hulle sou dus al drie gesamentlike beheer uitoefen oor Blanke Suid-Afrika.

WETGEWING

Hierdie punt is baie sterk beklemtoon in ’n artikel in ’n amptelike NP- publikasie, Nat ’80, van September 1978. Die blad skryf dat daar ’n “wanopvatting” bestaan dat die Regering die “onmoontlike” probeer regkry deur drie soewereine Parlemente binne een geografiese geheel tot stand te bring. Die blad sê dat daar nie gepoog word om soewereine Parlemente te skep nie, maar om elke groep die geleentheid te bied om in sy eie verteenwoordigende liggaam oor die aangeleenthede wat hom alleen raak, self te besluit.

Dan gaan die blad voort: “Terselfdertyd sal die drie groepe deur hulle Parlemente effektiewe seggenskap hê oor sake van gemeenskaplike belang (byvoorbeeld Verdediging, Buitelandse Sake, Vervoer, Poswese, Finansies, Justisie, ens.) aangesien wetgewing daaroor deur al drie Parlemente geloods moet word.

“Indien die funksionele onderskeid begryp word en die drie Parlemente ten opsigte van gemeenskaplike belange as drie Huise van dieselfde Parlemente gesien word, is dit duidelik dat die beswaar van ‘drie soewereine Parlemente’ nie korrek is nie,” skryf Nat ’80.

PRAATWINKEL

Die 1977-voorstelle het dus uitdruklik behels dat die Blanke Parlement sy soewereiniteit sou verloor. Tewens, die NP het hom in ’n amptelike propagandastuk verweer teen beskuldigings dat hy van plan sou wees om drie soewereine parlemente te skep, soos duidelik uit die aanhaling hierbo gesien kan word!

Geen ander vertolking is hieraan gegee deur selfs Ministers in mnr. Vorster se Kabinet nie. Die destydse Minister van Polisie en tans KP-lid, mnr. Jimmy Kruger, het byvoorbeeld in 1978 voor ’n gehoor in Pretoria verklaar dat die Blanke Parlement se magte so verminder sou word dat dit net ’n “praatwinkeltjie” sou wees.

Wat sou die magte en funksies van die Raad van Kabinette wees? Op 12 April 1978 het mnr. Vorster hom soos volg hieroor uitgelaat in die Volksraad: “Die Raad van Kabinette sal funksioneer op dieselfde wyse waarop ons Kabinet op die oomblik funksioneer en indien die huidige Kabinet ’n uitvoerende Kabinet is, sal die Raad van Kabinette ook uitvoerend van aard wees. Hy sal op dieselfde beginsels funksioneer as die waarop die huidige Kabinet funksioneer.” (Hansard, 12/4/78, kol. 4470).

UITVOEREND

Uit hierdie uitlating van mnr. Vorster is dit glashelder dat die voorgestelde Raad van Kabinette met uitvoerende mag beklee sou wees en daar geen sprake was dat die liggaam net raadplegend van aard en sonder enige magte sou wees nie.

Mnr. Vorster se Minister van Kleurlingsake, mnr. Hennie Smit, het die saak egter nog duideliker gestel: “In gemeenskaplike Staatsdepartemente soos Vervoer, Verdediging, Ekonomie, Finansies, byvoorbeeld, moet daar ruimte vir die Bruinmense wees. So kan daar eendag ’n Bruin Minister wees.”

Die Raad van Kabinette sou in alle opsigte soos ’n gewone Kabinet funksioneer. Dit sou onder meer wetgewing inisieer voordat dit na die onderskeie drie Parlemente vir goedkeuring verwys word. Verder sou dit, volgens NP-inligtingstukke van daardie tyd, gesag uitoefen oor alle gemeenskaplike sake, soos Buitelandse Sake, Verdediging, Finansies, Vervoerwese, Landbou, Binnelandse Aangeleenthede, ens. Die Raad van Kabinette sou dus die Regering van die land wees, net soos die huidige Kabinet die Regering is.

Dat die 1977-grondwet suiwer op magsdeling sou berus, kom verder na vore in die feit dat die Staatspresident deur ’n veelrassige kieskollege, bestaande uit 50 Blankes, 25 Kleurlinge en 13 Indiërs verkies sou word. Kleurlinge en Indiërs deel dus die mag saam met Blankes om die hoogste uitvoerende gesag te verkies.

Wat die saak nog emstiger maak, is dat daar in 1977 geen voorsiening gemaak is dat die Staatspresident ’n Blanke sou wees nie. Mnr. Vorster het hierdie feit duidelik in ’n toespraak in die Volksraad gestel: “Die wetsontwerp wat voor die Parlement sal dien, sal geen bepaling bevat dat die Staatspresident ’n Blanke, Kleurling of Indiër moet wees nie. Kleur sal hoegenaamd nie ’n rol speel nie.” (Hansard, Woensdag 12 April 1978, kol 4467.)

PRESIDENT

Vroeër, tydens ’n openbare vergadering wat die destydse Minister van Verdediging en tans Eerste Minister, mnr. PW Botha, op Brakpan toegespreek het, het hy ook verklaar dat die beoogde Grondwet geen bepaling oor die ras van die Staatspresident sou bevat nie. Mnr. Vorster was teenwoordig by die geleentheid en het mnr. Botha nie gerepudieer nie.

Benewens die feit dat die Staatspresident deur ’n veelrassige kieskollege aangewys sou word, sou hy dus ook ’n Kleurling of Indiër kon wees. Hierdie feit kry bykomende betekenis as in ag geneem word dat die Staatspresident ’n besonder magtige figuur ingevolge die 1977-grondwet sou wees.

Hy sou byvoorbeeld die mag kry om die eerste ministers van die drie Parlemente aan te stel en te ontslaan asook om enige minister van die drie Parlemente te ontslaan. Verder sou hy as voorsitter van die Raad van Kabinette (Kabinet) optree waar wetgewing opgestel sou word en ’n finale besluit kon neem wanneer die lede van die Raad van Kabinette nie eenstemmigheid kan bereik nie.

MAGSDELING

Hy sou in vele opsigte die magte van ’n diktator gehad het en sou byvoorbeeld net deur die kieskollege ontslaan kon word. Anders as die huidige Eerste Mnister, sou hy nie verantwoordelik aan enige van die drie Parlemente wees nie.

Vanuit KP-kringe word deesdae ernstige kritiek uitgespreek oor die funksies van die voorgestelde Presidentsraad, wat as arbiter sal kan optree in gevalle van geskille tussen die drie Kamers. Hoewel daar ingevolge die 1977-voorstelle nie vir so ’n funksie van die Presidentsraad voorsiening gemaak is nie, sou net een persoon, die Staatspresident, daardie magte geniet het. En hy sou, volgens mnr. Vorster se eie erkenning, ’n Blanke, Kleurling of Indiër kon wees.

Die verskille tussen die grondwette van 1977 en 1982 is in werklikheid hoogs oppervlakkig. In wese is albei suiwer magsdeling in sy voile konsekwensies.

Naskrif:            Gedurende Februarie  1989 het mnr Jaap Marais ’n pamflet onder die titel, “KP Leuens”, in die Schweizer-Reneke Kiesafdeling versprei waarin geskryf staan:

POLITIEKE NAAKTHEID BEDEK MET VYEBLAAR

Dr. Andries Treumicht beweer dat hy met mnr. PW Botha gebots het oor “magsdeling” terwyl dit ’n feit is dat hy minstens vyf jaar lank in die NP magsdeling in beginsel aanvaar het.

Die waarheid is dat dr. Treumicht in Februarie 1982 uit die NP gevlug het, nadat mnr. Jaap Marais in 1981 die NP-meerderheid in Waterberg afgebring het van 4,600 tot 1,400 en dr. Treumicht geweet het dat hy in die daaropvolgende verkiesing deur die HNP verslaan sou word, toe hang hy die “Papier vyeblaar van magsdeling” voor, en hy vra mense om nie sy politieke naaktheid raak te sien nie.

Vervolg...