Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is ‘n doel met pyn. Daardie doel ontdek net jyself in jou worsteling met God! Dit mag selfs ‘n wonderlike ontdekking wees. Die kind van God loop die pad van beproewing nooit alleen nie. God is elke oomblik met hom. Hy hoor die versugtinge van sy kinders!
DIE BROEDERBOND IN DIE AFRIKANER- POLITIEK (20)
B M Schoeman
(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )
Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.
WOELINGE EN STRYD
Die kern van die stryd in die AB wat in 1970 begin het met die skorsing van sekere HNP-leiersfigure se lidmaatskap en twee jaar later op die spits gedryf is, is geleë in die feit dat die Uitvoerende Raad in die politieke stryd tussen die Nasionale Party en die HNP sy grondwet en reglement geïgnoreer en kant gekies het teen die HNP.
Binne die AB is oor ’n tydperk van ’n paar jaar deur middel van omsendbriewe, verslae, studiestukke, toesprake en fluisterveldtogte vyandskap teen die HNP en sy leiers in die afdelings aangewakker en van agter die geslote deure is hierdie vyandskap dan onder die publiek uitgedra. Mettertyd het die veldtog die vorm van ’n uitskoppery aangeneem. Van die leiers en ander lede van die HNP moes ontslae geraak word en hierdie inligting het na die pers uitgelek. Berekend is name van HNP-mense in die gedrang gebring op ’n manier wat ’n stigma van oneerbaarheid aan hulle sou laat kleef. Die indruk moes gewek word dat hierdie persone optree op ’n wyse wat hulle nie langer geskik gemaak het vir lidmaatskap van so ’n eerbare organisasie nie.
Hoewel die stigting van die HNP op 25 Oktober 1969 die onmiddellike aanleidende oorsaak tot hierdie veldtog teen mede-broers was, het die toestand waarbinne dit in die AB geskied het, ’n lang aanloop gehad. Dit was ’n aanloop wat saamgehang het met gebeure in die Afrikanerlewe in die algemeen en wat dieselfde tekens getoon het as die proses van verval in die Nasionale Party.
Dit was veral na republiekwording dat die insakking in die AB sigbaarder geword het. Dit was asof die Afrikaner ’n soort eindpaal bereik het, “gearriveer” het. Op afdelings- en ander vergaderings is die vraag herhaaldelik gestel: “Het die AB nog ’n taak?” En telkens is geantwoord: “Ons taak is om aan hierdie Republiek ’n suiwer Afrikaanse inhoud te gee.”
Maar toe mense in die politiek en ook in die AB aan hierdie opdrag uitvoering wou gee, is hulle nie net uit die Party nie, maar ook uit die AB geskop. Wyle Schalk Pienaar, seinior amptenaar van Nasionale Pers Beperk, skryf op 23 Mei 1971 in Rapport in verband met die uitskoppery van HNP-mense uit die NP: “Dit was in wese ’n verwerping deur die NP van ’n poging deur Nasionale Afrikaners om van die RSA ’n Afrikaner-republiek te maak in plaas van ’n Suid-Afrikaanse Republiek.” Die uitskoppery het dus geskied omdat die betrokke persone dieselfde ideale nagestreef het as wat die AB nog kort tevore bely het.
Die kwaad binne die AB was egter reeds gedoen en dit het ook sy neerslag gevind in die werwing van nuwe lede. Die standpunt was altyd dat ’n lid nie gewerf word om van hom ’n goeie Afrikaner te maak nie, maar omdat hy reeds bewys het dat hy vir die Afrikanersaak veg. Inskakeling by die AB sou hom sy diens net nog beter kon laat lewer. Hoewel hierdie gedagte nog in omsendbriewe beklemtoon is, het die praktyk verander en is mense ingetrek omrede die posisies wat hulle beklee. Hulle opname in die AB sou dan nuttig wees om beter “kontak” in die bepaalde kringe te hê.
Dat die AB self vir sy lede ’n nuttige kontakmiddel geword het, spreek vanself. Dit het weer veroorsaak dat belangegroepe in die organisasie begin kop uitsteek het, en dit geld veral ten opsigte van die al sterker wordende “Afrikaanse” geldmag. Amptenare van sekere finansiële instellings het hulle bes gedoen om kollegas ingeskakel te kry en ook goed daarin geslaag. En namate hierdie instellings al minder Afrikaans geword het, moes die betrokke amptenare natuurlik saambeweeg en die nuwe rigting binne en buite die AB goedpraat. In al meer afdelings het ’n gees begin posvat wat vreemd was aan die aard van die organisasie.
Van besondere betekenis was die inskakeling van meer polisie-amptenare, veral Veiligheidspolisiemanne. Daar was natuurlik wel polisiemanne in die AB wat op die gewone manier en op meriete van hulle Afrikanerskap lede geword het. Skielik is egter gekla dat daar te min polisielede was en toe het die ongewone ding gebeur dat polisielede nie meer gewerf is op voorstel van plaaslike afdelings nie, maar op grond van die voorlegging van ’n lys name deur ’n komitee van polisie-offisiere onder leiding van genl. Hendrik van den Bergh, die Hoof van die Buro vir Staatsveiligheid (Boss).
Die implikasie van hierdie stap was dat die vertroulikheid van die AB in die gedrang gekom het. Van hierdie nuwe lede het onder verpligting gestaan om oor sommige sake aan hulle hoofde, wat nie noodwendig mede-lede was nie, te rapporteer. In baie afdelings is die openhartigheid van besprekings hierdeur gedemp.
Hierdie nuwe toestand het ingetree nadat Vorster reeds die premierskap oorgeneem het en nadat uit die gewoneVeiligheidspolisie en sy uitloper, die Republikeinse Intelligensie, die Buro vir Staatsveiligheid ontstaan het. Tien jaar later sou dit uit Van den Bergh se getuienis voor die Erasmus-kommissie van ondersoek na die Inligtingskandaal duidelik word waarom ook ’n liggaam soos die Broederbond ingesypel moes word. Van den Bergh het getuig dat hy, uit hoofde van sy posisie, Vorster se oë en ore geword het. Hy moes altyd “sy oor op die grond hou”, sodat hy kon weet wat in die land aan die gang was en daaroor aan Vorster kon rapporteer. Vorster wou die Broederbond volkome inpalm vir die bevordering van sy politieke oogmerke en daarom moes sy hoofspioen sorgdra dat hy presies weet wat in elke afdeling van die organisasie bespreek word. Van den Bergh het inderdaad die mag agter die troon geword, soos regter Rudulph Erasmus bevind het, en die Uitvoerende Raad van die AB het hom gehelp om dit te word. Die UR was mede-verantwoordelik vir die skepping van hierdie monster wat stelselmatig in die Suid-Afrikaanse volkslewe gegroei en uiteindelik sulke bedenklike gevolge vir Suid-Afrika gehad het.
Met verloop van tyd het die onrus in die Broederbond, net soos in die Nasionale Party en instellings soos die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, toegeneem. Koerante soos Die Burger en die nuwe Sondagkoerant, Die Beeld, het onder leiding van hulle Broederbond-redakteurs, mnre. Piet Cillie en Schalk Pienaar, al meer Afrikaner-vreemd geword. Die direkteure van hierdie koerante, wat ook lede van die AB was, het niks gedoen om hulle tot orde te roep nie.
Die redakteurs wat so aan die eenheid in die Party en die AB geknaag het, het trouens die steun van Vorster geniet. In sy verbasende Koffiefontein-toespraak in 1967 het hy hierdie redakteurs onder sy beskerming geneem en op Heilbron in Augustus 1968 het Vorster volkome agter hulle ingeskuif. Hy het dieselfde mense begin aanval as wat deur hierdie redakteurs aangeval is: die “Wagters op die mure”, die “Super Afrikaners”, die “Taalhandhawers”, ens. Omdat die AB meermale van buite met die naam “Super Afrikaners” aangedui is, is dadelik gevoel dat die Eerste Minister hier ’n bedekte waarskuwing aan die organisasie gerig het.
Die derde toespraak wat besondere aandag getrek het, was die een waarin Vorster sy persoonlike filosofie uiteengesit het. Dit het daarop neergekom dat in die Afrikanerlewe slegs die kerk en die Nasionale Party selfstandige bestaansreg het en dat vir ander organisasies slegs plek ingeruim kan word as hulle bereid is om “stutorganisasies” (Vorster se woord) vir die kerk of die NP te wees. Dat hierdie opmerking nie net vir die Rapportryers nie maar ook vir die AB bedoel was, was sonder meer duidelik.
A1 hierdie gebeure het die spanning in baie afdelings laat oplaai en spoedig het dit weerklank gevind in die Pretoriase Sentrale Komitee (SK) waarin al die plaaslike afdelings verteenwoordig is. Van soveel afdelings is klagtes ontvang dat die dagbestuur van die SK afvaardigings van die betrokke afdelings moes ontmoet om besware aan te hoor, dit te formuleer en aan die UR voor te lê. Hierdie byeenkoms is op 29 Julie 1968 gehou en volgens die notule van daardie vergadering is duidelik en soms skerp taal gepraat. Na die samesprekings is die klagtes onder nege punte saamgevat met die weglating van besonderhede vir geval die dokument in verkeerde hande sou beland. Die stuk wat bedoel was as basis vir samespreking met die dagbestuur van die UR, het gelui:
- Die onrus in Afrikanerkringe is baie wydversprei.
- Daar is onduidelikheid oor die toepassing van sekere aspekte van regeringsbeleid ten opsigte van onder andere sport, Nie-Blanke diplomate in Blanke gebiede, uitwaartse beleid, werkreservering en immigrasie. Voorts is daar kommer oor ekonomiese en plaaslike bestuursbeleid en oor die dreigende breuk in die NP.
- Die liberalistiese element kry volle lewensruimte terwyl die behoudende element altyd hok geslaan word.
- (a)Blykbaar is daar ’n gebrek aan kommunikasie tussen die Regering en die AB. Die AB (bedoelende die gewone AB-lid) weet slegs wat hy in die koerante lees.
(b) Al meng die AB hom nie in met die partypolitieke masjinerie nie, kan nie gesê word dat hy verder met die Nasionale politiek niks te maak het nie, aangesien die politiek die hele staatshuishouding raak en die AB daar is om op elke terrein te waak oor Afrikanerbelange op Christelik-nasionale grondslag.
- Die Afrikaanse geldmag werk tans tot groot hoogte saam in vennootskap met vyande van die Afrikaner en hierdie vennootskap word nou ook na ander terreine oorgeplant.
- Broederskap kom ernstig in die gedrang. Sommige broers verkondig en doen dinge wat die Afrikaner se identiteit aftakel en direk indruis teen die instellingsbelofte. Veral sekere koerantredakteurs is hieraan skuldig. Onder andere val hulle voortdurend broers aan (byvoorbeeld die UR-voorsitter) en speel broers teen mekaar af. Afrikanerorganisasies wat op Christelik-nasionale grondslag staan, word op allerlei wyse afgekraak, terwyl die volksvreemde meermale vergoeilik word.
- As daar broers is, moet daar ’n vader wees en dit is die UR wat vaderskap oor die broers moet aanvaar. Waar broers verskil oor basiese dinge, is dit nodig dat die UR: (a) vasstel wie die instellingsbelofte en Bondsideaal nakom en uitleef en wie nie, (b) die saak probeer besleg, (c) uitsluitsel gee, (d) gehoorsaamheid eis en (e) dissiplinêr optree as bogenoemde nie help nie. As dit nie gebeur nie, ontwikkel die AB in ’n gesplete persoonlikheid en stuur op ’n ramp af vir onsself en vir ons volk.
- Dit is noodsaaklik dat die UR aan bogenoemde dringende aandag gee en die afdelings op hoogte stel van sy bevindings en optrede.
- Voorts word gevoel dat dit noodsaaklik is dat UR steeds betyds meer direkte en duidelike leiding gee in verband met strominge in die volkslewe, sodat verwarring soos die huidige liewer voorkom kan word. Die AB mag nie ’n soort agterryer van ander organisasies word wat agterna die kastaiings uit die vuur moet krap nie. Hy moet die gewete van die volk wees en betyds duidelike prinsipiële en praktiese leiding gee — ook om doelbewus aan die Republiek ’n Afrikaanse karakter te verleen.
Die dagbestuur van die SK wou graag die dagbestuur van die Uitvoerende Raad ontmoet, maar kon slegs daarin slaag om Meyer te spreek. Die voorafgaande stuk is aan hom oorhandig en mondelings breedvoerig toegelig. Volgens die afvaardiging het Meyer met alles saamgestem. Hy het die afvaardiging gevra om hom net ’n tydjie kans te gee om die sake reg te stel.
Presies ’n jaar later, op 28 Julie 1969, verskyn die volgende verslag in die SK se notule: “Die sekretaris het aan hoofsekretaris geskryf oor die vroeëre voorgelegde stukke. Daar word nog op ’n antwoord gewag.”
Vervolg...