DIE BROEDERBOND IN DIE AFRIKANER- POLITIEK (4)

B M Schoeman

(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )

Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.

Hertzog se filosofieë

Hertzog het so kort soos 'n jaar voor die algemene verkiesing van 26 Mei 1948 geglo dat dit nooit weer vir die Afri­kaner moontlik sou wees om in Suid-Afrika te regeer nie. En toe die HNP in die 1948-verkiesing die oorwinning behaal het, het hy geglo dat dit net 'n frats was en dat die Afrikaner gou weer die mag sou verloor. Hy het daarom gesoek na middele om die Afrikaner se politieke mag vir altyd te vestig. Een van die middele wat hy as redding vir die Afrikaner gesien het, was die sosialisme. 'n Ander middel was samewerking met 'n sekere deel van die Jode.

Hertzog se kennismaking met die sosialisme dateer terug uit sy studiedae in die buiteland waar hy onder die indruk gekom het van die geweldige invloed en mag van die vakbonde in die algemene lewe, maar veral in die politiek. Klaarblyklik moes die opkoms van die so­sialisme so 'n groot indruk op hom gemaak het dat dit sy denke en optrede in sy latere lewe steeds beïnvloed het. Sy hele optrede in die verskillende aksies wat hy aangepak het in sowel die politiek as op ander terreine, het van die invloed van die sosialisme op hom getuig. Sy voorliefde vir die geheime en vertroulike, vriendekringe en groepe, kan alles waarskynlik teruggevoer word na sy kennismaking met die opkomende so­sialisme in die buiteland.

Dit is ook die invloed van die sosialisme wat hom, voordat hy in 1948 aktief tot die politiek toegetree het, altyd op 'n afstand van die HNP geplaas het. Selfs nadat hy tot die Volksraad verkies is, was hy nooit werklik in die hart, in die sentrum van die HNP en daarna die Nasionale Party nie. Die partykoukus was   vir   hom   'n vreemde instelling wat hy moeilik met sy eie opvattinge kon versoen en die partystelsel, waar die leiers en die Eerste Minister die gesag beklee het, net hom ewe min aangestaan. Uit sy geskrifte blyk dit duidelik dat hy horn baie moeilik hierby aangepas het. Hy het telkens, selfs toe hy reeds 'n lid van die koukus geword het, na buite die partyverband geneig, na aksies en optredes hier op die rand van die Party,

Dit moes hom noodwendig in botsing gebring het met die politieke leiers, veral die leiersfigure van die HNP in Transvaal en hulle geesgenote in die Vrystaat en Kaapland. Hertzog self maak geen geheim daarvan nie dat daar nie 'n besonder goeie verhouding tussen hom en Strijdom bestaan het nie. Die verklaring hiervoor is dat Strijdom 'n man vir die reguit-paadjie in die politiek was en nie tyd gehad het vir allerlei geheime en halfgeheime aksies buite die Party nie. Hierdie eienskap het Strijdom dan ook in die oorlogsjare met taamlike skeptisisme na die bedrywighede van die Broederbond laat kyk toe die organisasie hom 'n paar keer op die politieke terrein begewe en sy vingers lelik verbrand het. Hertzog het hierin 'n prominente rol gespeel en dit het Strijdom met nog groter argwaan teenoor hom vervul.

Geoordeel aan sy geskrifte, moet 'n mens aflei dat Hertzog in die jare voor die HNP-oorwinning van 1948 nie 'n lid van die Party was nie. Hy het hom meer aangetrokke gevoel tot mense soos dr. Hans van Rensburg (Ossewabrandwag), Oswald Pirow (Nuwe Orde), Klaas Havenga (Afrikanerparty) en mederandeiers soos Piet Meyer, Nic Diederichs, Avril Malan, Theo Schumann en Wim Buhrmann. In daardie tyd was sy simpatie eerder by die Afrikanerparty as by die HNP.

Dit is so dat Strijdom in 1948 Hertzog persoonlik gevra het om hom as kandidaat van die HNP in die Mei-verkiesing verkiesbaar te stel, maar op grond van al die beskikbare feite kan die stelling met taamlike sekerheid gemaak word dat dit nie vanweë 'n groot voorliefde vir en vertroue in Hertzog was nie. Strijdom se probleem daardie tyd was die probleem waarmee alle leiers van opposisiepartye vandag nog worstel: kandidate in 'n algemene verkiesing.

Dat Strijdom nie baie genoeë geneem het met Hertzog se werkmetode in die politiek nie, blyk uit die probleme wat tydens en na die algemene verkiesing in Ermelo, Hert­zog se setel, ontstaan het. Toe hy as HNP-kandidaat in Ermelo aangewys is, was die eerste ding wat Hertzog gedoen het die stigting van 'n geheime "vriendekring" wat eintlik die verkiesing vir hom gevoer het. 'n Mens kan verwag dat so 'n geheime organisasie binne die plaaslike Party-organisasie noodwendig probleme moes oplewer en in Ermelo was daar baie probleme. Strijdom was woedend toe hy hiervan verneem het en dit het sekerlik nie bygedra om die verhouding tussen die twee te bevorder nie.

Strijdom het reeds in 1939 laat blyk dat hy nie baie geesdriftig kon raak met Hertzog se optrede nie. Dit was toe Hertzog in daardie jaar, eers alleen en daarna in samewerking met 'n klompie Stellenbosse akademici, probeer het om Malan en genl. Hertzog weer bymekaar te bring. Na die soveelste mislukking van Hertzog, wat beweer het dat hy namens die Uitvoerende Raad van die Broederbond opgetree het, was Strijdom se reaksie: "Albert het aan die professore geskryf dat hy en sy groep (wie hulle ook al mag wees) die oproep of beroep wat hulle op Hertzog en Malan gemaak het, goedkeur mits dat aan sekere vier vereistes voldoen word. En die vier vereistes? Hulle is nie eers 'n skim van die Albert Hertzog Basis van kort gelede nie! As dit so is, moet 'n mens Albert en sy groep (is hulle A.B. Uitvoerende Komiteelede?) — ook maar as 'n klomp gebroke riete beskou!" Van die kant van Hertzog was daar natuurlik ook nie 'n baie groot toegeneentheid jeens Strijdom nie. Die verwydering tussen Strijdom en sy vader en die wedersydse aanvalle deur hulle op mekaar in die openbaar het waarskynlik baie tot Albert Hertzog se houding jeens Strijdom bygedra. 'n Mens vind in sy geskrifte feitlik iets wat grens aan vyandigheid teenoor Strijdom. By een geleentheid het hy aangeteken dat Strijdom soos 'n dom man optree. Jy kan nie met hom redeneer nie. As hy 'n ding wil doen en hy glo dit is die regte ding, sal hy deur die see of deur 'n rots loop om dit te doen en niemand sal hom kan beïnvloed om 'n ander standpunt of 'n ander metode te oorweeg nie, aldus Hertzog.

Die verskillende wêrelde waarin Strijdom en Albert Hert­zog gelewe het, het duidelik geblyk toe Hertzog kort voor en ook na die verkiesing van 1948 met die idee gespeel het om 'n soort alliansie met 'n sekere seksie van die Jode te sluit ten einde te verseker dat die Jode nie in die volgende verkiesing 'n blokstem teen die Afrikaner vorm nie. Hertzog het besef dat Strijdom nie vir so 'n groot gedagte te vinde sou wees nie en horn dit ernstig sou verkwalik dat hy, as kandidaat van die HNP en later lid van die koukus so iets kon oorweeg. Daarom het hy van sy geesgenote wat soos hy oor die saak gevoel het, voorgestoot om Strijdom daaroor te gaan nader. Hyself het hom tot Malan gewend waar hy geweet het hy met groter simpatie ontvang sou word.

Hertzog het vas geglo dat die sosialisme die enigste werklike middel was om die Afrikaner se mag in Suid-Afrika vir alle tye te vestig. Ten grondslag van sy vrese het die beeld van die destydse Smuts-regering gelê. Hy wys op die groot getalle "Duits-Afrikaners" wat die regering voornemens was om uit Suid-Afrika te deporteer; die dreigende "industriële revolusie" wat die Engelse hier in Suid-Afrika aan die gang wou sit deur Suid-Afrika "die bolwerk van hul oorlogsmasjien” te maak; die Asiatiese vraagstuk en die aggressiwiteit van Indië in die Indiër-stemregkwessie; die "vreeslike denasionalisasie onder die naturelle as gevolg van hierdie liberalistiese stelsel wat gaan meebring dat die swartes binne in die volgende geslag 'n groot politieke seggenskap het". Hy sê dit alles is "dreigings wat ons onmiddellik rondom ons sien — en as net 'n paar daarvan verwesenlik word, sal die Afrikanerideaal nooit weer verwesenlik word."

Hy wys dan in sy aantekening op 9 Junie 1947 op die belangrikheid van die daaropvolgende jaar se verkiesing. Hy meen dit sou die laaste geleentheid vir die Afrikaner wees. As die Afrikaner aan bewind kom en sake nie ingrypend verander nie, sou hulle die stroom teen die Afrikaner net tydelik kon keer. Wanneer hulle die bewind verloor, sal alles verlore wees.

Dan skets hy die toestand in die HNP destyds soos volg: "Die teenswoordige Nasionale Party is en bestaan vandat uit twee groepe: die een is die konserwatief kapitalis-georiënteerde ouer groep wat veral sy lede in Kaapland tel. Hulle is mense soos dr. Dönges, Erasmus, Sauer, ens. Die ander groep is die meer idealistiese groep van die Noorde, veral soos Strijdom en Verwoerd. Maar die ongeluk is dat hierdie idealiste met die uitsondering van 'n paar vae beginsels geen groot rigting voorstaan nie. Ek kan nie help om dikwels te dink dat hulle halfgebakte idealiste is nie. Hulle sien byvoorbeeld die euwel van die myne, maar deins terug vir die nasionalisasie daarvan. Hulle besef die mag van die pers, maar droom nie daaraan om die pers te nasionaliseer nie, omdat hulle ook belange by die pers het. {Hertzog was self in daardie tyd 'n direkteur van die ou Afrikaanse Pers Beperk).

"Daarom die vreeslike gevaar dat met hierdie kombinasie daar 'n tydelike verligting vir die Afrikaner gaan kom, maar op die lange duur gaan geen oplossings gevind word nie, en die stroom gaan voort. Daarom is dit so noodsaaklik dat 'n klompie idealiste soos Avril (Avril Malan), Schu (Theo Schumann) en ek met 'n ander klompie Broers daarby met die volgende verkiesing in die Volksraad moet ingaan. Van so 'n groep wat in die Partykoukus gaan wees, sal daar geweldig groot krag van uitgaan. Dit sal veral die geval wees as ons byvoorbeeld vir Commie (J. Combrink), Fanie Geldenhuys, van Bronkhorstspruit, Theo Wassenaar, en nog 'n klompie Broers, wat soos ons voel, saam daarin kan kry." (In daardie tyd was Avril Malan, Hertzog, Wassenaar, Schumann en van die ander reeds in die UR van die Broederbond.)

Hertzog sit dan sy planne verder uiteen: "As ons dan tegelykertyd die mynwerker so organiseer dat daar 'n groot aantal mynwerkers op die Rand gekies word, dan sal die blok van mynwerkers saam met ons 'n magtige faktor word. Die Nasionale Party is uiters demokraties georganiseer. Mense word in kiesafdelings genomineer omrede dat hulle daar bekend is en 'n klompie vriende het wat vir hulle dit kan bewerkstellig. Maar vir uitstaande manne is daar nie anders 'n maklike opening nie. En die hoofbestuur en Nasionale leiers wil liewer volgelinge hê en nie sterk doelvaste jong Afrikaners nie. Om die rede sal hulle ook nooit hul hand uitsteek om vir enigeen van ons jong idealiste in die Parlement te help nie. As ons genomineer word, dan sal dit net van ons eie selwe afhang."

Hertzog skryf voorts: "Die kapitalistiese organisasies en groepe is so geweldig sterk dat tensy ons ?n magtige sosialistiese bolwerk daarteen opgooi, hulle hul te diep in ons samelewing gaan ingraaf om vir honderde van jare ontslae van te raak. So 'n bolwerk wil ons nou op drie maniere bewerk­stellig.

"Ons eerste idee is om die vakbonde een vir een skoon te maak en dan laat aansluit by 'n Federasie van Vakbonde wat 'n vat oor elke vakbond se amptenare en sy uitgawes sal hê. Ons idee meen ons om so te laat werk. Die Federasie moet die reg hê om elke amptenaar wat hy beskou as onbekwaam of as handelende teen die belange van die vakvereniging onmiddellik te ontslaan. Sodoende sal hy 'n geweldige houvas op elke amptenaar kry. Tegelykertyd moet hy enige uitgawe kan stop as hy meen dat dit teen die belang van die werker is. Ons idee is dan verder om een vir een vakbond 'n verkie­sing te laat hou, nadat ons deeglik die vakbond bearbei het en om dan te sorg dat die regte manne gekies word en dat hulle aansluit by die Federasie van Vakbonde. In 'n paar jaar tyd sal ons sodoende 'n magtige Federasie vorm wat 'n bolwerk teen die kapitalis kan wees."

Die   invloed van die sosialisme in   Engeland   slaan   hier duidelik deur. Dit is byvoorbeeld bekend dat die vakbondwese in Brittanje vir 'n lang tyd reeds die Arbeiderparty beheer.

Die tweede middel wat Hertzog wou aanwend, kan teruggevoer word na sy kennismaking met die nasionaal-sosialisme in Duitsland. Hy skryf in die verband:

"Ons tweede idee is om op die nuwe idee van behuisings vir jong gekeurde manne, die jong Afrikaner, te konsentreer. Deur bemiddeling van die Regering wil ons die nodige 10 persent kry as 'n tweede verband op elke gebou wat ons oprig, en die orige 90 persent kry ons dan van die Behuisingskommissie in elke stad van die land. So sal ons dan genoegsame tehuise oprig, versprei oor die stad om orals bouwerke aan jong Afrikaners wat gekeur is om hulle puik karakters en idealisme, te huisves. Elke gebou sal georganiseer wees in groepe en elke jong Afrikaner sal opgevoed word in die idea­lisme wat ons oueres besiel. Elke groep sal dan onder leiding van 'n Broer in daardie omtrek staan. Maar die sal saam een groot magtige organisasie vorm."

Hertzog se derde middel is beheer oor die stede. Hieroor skryf hy op 9 Junie 1947: "Ons derde plan is om dit reg te kry dat ons die beheer kry oor die stedelike masjinerieë. Elke stad sal 'n amptenaar as burgemeester aanstel, en daar­die manne met sy amptenare sal direk onder 'n bepaalde hoof of minister staan. Op hierdie manier hoop ons ook om die stadsmasjinerie, geweldig magtig, te kontroleer. Die stemreg van die gewone onbevoegde stadsraadslid moet dan vergoed uitgeskakel word as deurslaggewende faktor."

Hertzog stel dit dan dat dit noodsaaklik is om 'n groep “idealiste" in die Parlement te kry om aan hierdie planne uitvoering te gee en gaan dan voort: "En die interessante is dat ons hier in Pretoria so 'n groep het wat die kern daarvan kan uitmaak."

Dit is duidelik Hertzog se denke wat hieragter sit, maar dit is ewe duidelik dat hy ook die planne met 'n groep in die Uitvoerende Raad van die Broederbond bespreek het. Hierdie groep is diė in Pretoria na wie Hertzog self reeds verwys het. Twee ander UR-lede wat hy ongetwyfeld in sy vertroue sou neem, is Diederichs en Meyer. Hulle het baie van sy idees, veral ten opsigte van die nasionaal-sosialisme en die rol wat die werkers in die verwesenliking van hulle eie oogmerke kon speel, gedeel. Meyer self was in die OB aan die spits van 'n werkersorganisasie nadat hy eers in diens van die Nasionale Raad van Trustees van Hertzog was waar hy die liggaam se werkersbedrywighede moes bevorder.

Hertzog het ook in daardie tyd die saak tentatief by die UR aangeroer. Dit was op 17 Augustus 1946. Dit is oor die boeg van die uitbreiding van die Broederbond getrek. Hieroor skryf Hertzog dieselfde dag:

Die saak soos dit vir my dringend lyk, is as volg: In elke volk is die grootste krag sy inspirasie. In die afgelope sestig jaar was ons eerste groot inspirasie die vryheid van ons volk. Dit het ons tot groot hoogtes en tot groot kragsontplooiing opgevoer. In hierdie eeu was die volgende inspirasie die behoud van ons taal. Maar op die oomblik lyk dit of die Afrikanervolk sonder inspirasie is. En sonder inspirasie kan daar geen krag uit hom kom nie — gaan hy selfs agteruit. Dit is asof die Afrikaner soek na iets. Daar is iets in die lug, maar hy kan dit vir hom nog nie formuleer nie, en die leier wat daarin kan slaag om dit te formuleer, is die leier wat die volk sal kan lei."

Ongelukkig laat Hertzog na om aan te dui hoe hy sy saak by die UR gestel het en of hy dit wel daar geopper het. Die gedagtes wat hierna volg, is wat hy na afloop van die UR-vergadering geskryf het, sonder enige vermelding van besonderhede oor die verloop van die samesprekings in die UR self. Sy aantekeninge lui:

"In die verlede was dit groot inspirasies wat die lotgevalle van die wêreld beslis het. Vandag lewe ons in so Jn wêreldstroom. Dit is die wêreldstroming van geregtigheid teenoor die verontregting van die ekonomies mindere. Ons leef in 'n tyd soos die tyd van Christus. Ons staan vandag aan die einde van die tydperk van die vrye individualisme en van vrye privaat inisiatief — of soos ons dit noem kapitalisme. Die hele wêreld oor het die konsensie van die mensheid wakker geword vir die onreg teenoor die massas van die wêreld se volke.

"Oor die wêreld trek daar soos 'n golf Sosialisme in sy een of ander vorm: In Denemarke, Swede en Noorweë bestaan daar al Sosialistiese regerings vir byna 20 jaar. In byna elke land van Europa is Sosialisme in een of ander vorm aan die orde van die dag. Selfs in Engeland is dit vandag aan die bewind in die vorm van die Labour Party. In Rusland is die uiterste vorm naamlik Kommunisme.

"Ons volk in Suid-Afrika is ryp vir 'n dergelike volkstroming. Die vereistes daarvoor is armoede, 'n gevoel van menslikheid, en 'n simpatie met die werkers van die volk. Die Afrikanervolk voldoen aan al hierdie vereistes. Ons was oorrompel vir meer as 60 jaar deur 'n skaamtelose kapitalisme; ons is arm; ons is die werkers, en die Afrikaners is in die eerste plek menslik. Tensy dat ons uiting gaan gee aan daardie ideale en daardie ideaal vir ons volk in die een of ander aanneembare vorm gaan voorhou as sy einddoel, sal ons die Afrikanervolk nie kan lei nie en sal ons Afrikanerorganisasies nie veel krag kan gee nie."

Vervolgens, nog steeds op dieselfde dag as die UR-vergadering, kyk Hertzog indringend na die leiers van die Afri­kanervolk op daardie tydstip. En sy oordeel is nie baie vleiend nie.

"Dit is opvallend," skryf hy, "hoedat die Afrikanerleiers van vandag nie besef wat die Volk voel nie. Hulle voel nie die stroming van die land nie. En hier is die oorsaak waarskynlik dat hulle nie kontak met hulle eie Volk gehou het nie. Die Volk het stadigaan verstedelik. Leiers is nog in voeling met die plattelanders en die welgestelde man. Hulle besef nie dat die groot massa van hulle volk in armoedige omstandighede in die stede leef nie. Met die Volk het hulle nie meer kontak nie; hulle verstaan hulle nie; hulle kan die Volk se ideale nie uitdruk nie. Hiemstra (watter Hiemstra is nie duidelik nie) is 'n leidende man in Bloemfontein, waar hy die plattelander leer ken het maar die werker vreemd van hom staan. Dönges en Johan Conradie (die voormalige Speaker en LV vir Godonia) is manne van die gegoede klasse van Kaapland. Met die werkers het hulle nog nooit iets te doen gehad nie. Nic Diederichs is al sn bietjie meer reg omdat hy en Ivan (Ivan Lombard, jarelange Hoofsekretaris van die AB) albei meer kontak het met Verwoerd. En Verwoerd is taamlik reg, omdat hy op die Rand noue voeling met die werker het."

Dan sluit Hertzog hierdie stuk soos volg af: "Dit is op­vallend hoedat so baie van die Afrikaners van die ou kaliber en van die platteland in die woord Sosialisme iets vreesliks sien. Hulle verstaan dit nie. Hulle dink dit is Kommunisme. As ons ons Volk wil red, dan beteken dit eenvoudig dat ons die leiding sal moet neem in die nuwe Sosialistiese rigting. Hierin kan die mynwerkers 'n geweldige rol speel. Dit kan die Afrikaner die leier van sy Volk maak. Want sonder so 'n sterk band met die werker sal die Afrikaner in die ou kanale bly voortgaan, sal hy al hoe meer vreemd word vir die massa van die Volk, en sal hy uiteindelik vir altyd die leiding verloor."

Twee opmerkings is hier noodsaaklik: uit hierdie stuk blyk, benewens sy ondersteuning van die Sosialisme wat hy as "einddoel" vir die Afrikaner stel, ook die feit dat Hertzog in daardie tyd, toe die republikeinse gedagte sterk na vore getree het, nie in die republikeinse strewe opgegaan het nie. Hertzog, net soos sy vader, was trouens geen groot republikein nie. In sy geskrifte vind 'n mens nêrens die entoesiasme vir die republikeinse strewe wat byvoorbeeld 'n man soos Strijdom uitgestraal het nie. Wat Hertzog bedoel het met die woorde "Verwoerd is taamlik reg", is nie baie duidelik nie. By ander geleenthede lê Hertzog Verwoerd dit ten laste dat hy 'n te groot demokraat, te partygebonde, is en nie die werkers ken en niks namens die werkers vermag nie.

Hertzog se belangstelling in die werkers as 'n politieke faktor was so intens dat hy heimlik van harte gehoop het dat hy Minister van Arbeid sou word nadat die HNP in 1948 aan bewind gekom het en hy in Ermelo verkies is. Op 28 Mei 1948, twee dae na die verkiesing, teken hy aan dat hy graag Minister van Arbeid wil word, nie omdat hy graag in die Kabinet wil wees nie, maar slegs om die wer­kers te konsolideer. Hy glo nie iemand anders is bevoeg om die taak te verrig nie en hy stel dit ook baie duidelik dat hy in geen ander portefeulje sou belangstel nie.

Hy was daarom baie ontnugter toe Malan sy eerste Kabinet aangekondig het. Sy ontnugtering slaan deur in sy aantekeninge op 28 Mei 1948: "Tot ons verbasing het dr. Malan en 'n paar van sy sogenaamde leiers eenvoudiglik gekom en ‘n klomp Ministers aangestel. Hulle het niemand in aanmerking geneem nie. Die slag is gelewer, nie deur hulle alleen nie, maar deur talle van ons. Nou moet ons sien dat hulle eenvoudiglik so aanmatigend is dat hulle 'n klomp mense aanstel as Mi­nisters sonder om die minste ag te slaan op die oorwegings van enigeen van ons — nie dat enige van ons Ministers wou wees nie — ek sou graag my uit alle hoë posisies hou, maar ons moet weet dat as ons die werkers op die Rand gaan verloor en die naturelleprobleem nie gaan oplos nie, dan gaan ons ten gronde en ons hele Volk daarby."

Hertzog was dus ook skerp krities oor die aanstelling van Ben Schoeman as Minister van Arbeid. Hy sê hy is onkundig aangaande die praktiese probleme van die werkers. Sy grootste moeilikheid met Schoeman was egter dat hy die indruk gewek het van iemand wat altyd baie graag gewild by almal wou wees en homself nie aan kritiek wou blootstel nie.

Avril Malan het 'n belangrike rol gespeel in Hertzog se beplanning met die Blanke werkers en daarom is ook heim­lik   gehoop dat Malan Minister van Behuising sou word.

Toe sowel hy as Hertzog nie in die Kabinet opgeneem is nie, het Avril besluit om Stals, wat wel in die Kabinet aangestel is, te gaan spreek en daarna vir Strijdom en Malan persoonlik. Schumann, wat ook 'n belangrike plek in die beplanning beklee het, het Avril na Stals vergesel. Wennie du Plessis, wat Smuts in Standerton verslaan het, het later ook daar opgedaag.

Hertzog teken op 31 Mei 1948 aan dat Stals hulle planne baie simpatiek gesind was. Hulle het dit aan Stals gestel dat sonder hulle werk in Pretoria en aan die Rand en ook in Ermelo en Standerton die HNP kwalik die verkiesing sou kon wen. "Ons het dus die morele reg dat ons die arbeidersake moet kan hanteer. Dr. Stals het vir Avril en Schu erken dat Ben Schoeman maar dom is, maar hy het gesê sy moeilikheid is dat Ben Schoeman as senior politikus 'n groter reg het volgens hulle reëltjies," skryf Hert­zog.

Vervolgens lui Hertzog se aantekeninge op 1 Junie 1948: "Avril, Wennie en Schu het die middag met Strijdom ge-eet (ek was in die bed met griep, maar ek sou tog nooit soontoe gegaan het nie). Strijdom het eenvoudiglik die standpunt ingeneem dat dit onmoontlik is om iemand wat net in die Parlement kom, 'n Ministerskap te gee terwyl daar andere is wat alreeds in die Parlement was. Dit is die reël en dit kan nie verbreek word nie. Die ouere mense het die grootste reg. Avril en Schu het hulself laat oorbluf deur hierdie reëltjie wat deur Strijdom en sy kollegas opgestel is om hulself se ontwil en die saak was daargelaat. Avril was so uit die veld geslaan dat hy selfs nie eers verder moeite gedoen het om vir dr. Malan te gaan sien nie. Dit het my so die indruk gegee dat Avril nie 'n saak kan deurbyt as dit nodig is nie.'*g

Mnr. Daan Ellis, Hoofsekretaris van die Mynwerkersunie, het ook 'n slag probeer om die Hertzog-manne se saak by Malan te gaan stel, maar dieselfde antwoord is aan hom egee as wat Strijdom aan Avril Malan gegee het: die senior manne in die Party moes voorkeur kry. Daarmee is die saak daarge­laat.

Dat daar ook in ander kringe ontevredenheid was oor Ma­lan se eerste kabinet, is bekend en reeds in 1973 op skrif ge­stel. Strijdom was so ontevrede, nie soseer oor sy eie portefeuljes nie (Lande en Besproeiing), maar omdat die Trans­vaal met die samestelling van die Kabinet so afgeskeep is. Toe die lede van die eerste Kabinet kort na 26 Mei 1948 deur Malan byeengeroep is, was dit opvallend dat Strijdom net 'n kort rukkie vertoef het en daarna Nylstroom toe vertrek het.

Wat egter minder bekend is, is dat by Verwoerd en die redaksie van Die Transvaler net so 'n groot ontevredenheid geheers het. Verwoerd het nie verwag dat die Kaaplanders so oorheersend in die eerste Kabinet sou wees nie. Strijdom het Malan probeer oorreed om Verwoerd as Minister van Vervoer in die Kabinet op te neem en J. Wilkens het reeds ingestem dat hy sy setel, Ventersdorp, aan Verwoerd sou afstaan. Ma­lan het egter nie kans gesien hiervoor nie en het mnr. P.O. Sauer die portefeulje van Vervoer gegee.

Malan het klaarblyklik teruggedeins vir Verwoerd in sy eer­ste Kabinet omdat Havenga hom nie kon verdra nie.

Verwoerd was so ontevrede oor die afskeping van die Transvalers dat hy dit ernstig oorweeg het om in 'n hoofartikel 'n skerp aanval op Malan en die Kabinet te doen en daarna met sy hele redaksie te bedank. Hy het die steun van al sy redaksielede gehad.

Strijdom was ten volle ingelig oor hierdie planne, maar hy het beslis opgetree en Verwoerd opdrag gegee om nie daarmee voort te gaan nie. Kort daarna is Verwoerd toe wel in die Kabinet opgeneem as Minister van Naturellesake nadat hy tot senator verkies is. Malan sou waarskynlik nie maklik en so gou toegestem het om Verwoerd in die Kabinet in te bring as Strijdom nie kwaai druk op hom uitgeoefen het nie.

Joodse alliansie: Vervolg...