Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie die waarheid verdedig, kan dit nie in eie krag doen nie, maar slegs met God s’n wat Hy beloof: “Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ek help jou, spreek die Here, en jou Losser is die Heilige van Israel” (Jes.41:14).
DIE REGERING HET GELD NODIG...
... EN SOMMER BAIE DAARVAN
E. van Nantes
Die minister van finansies het aangekondig dat hy in die nuwe finansiële jaar, belastings met R13 biljoen gaan verhoog…. dit is nou bo-en behalwe die R15 biljoen verhoging wat hy alreeds in Februarie vanjaar aangekondig het![1]
Die redes deur hom aangevoer vir hierdie verhogings is tweeledig van aard naamlik, dat
(a) persoonlike belastings tot op hede ingevorder, baie minder is as wat oorspronklik verwag is en dat
(b) die BTW tot op hede ingevorder nie aan die verwagtinge voldoen nie aangesien “die vraag na plaaslik vervaardigde- sowel as ingevoerde goedere kleiner is.”
Persoonlike belasting : waarom is die ingevorderde bedrag dan soveel minder as wat SARS verwag het? Is dit omdat belastingbetalers belasting ontduik (wat te betwyfel is gegewe al hul maatreëls om tog net elke moontlike sent wat hulle kan invorder, wel in te vorder), of is dit dalk ‘n verlies aan werksgeleenthede (wat die hoeveelheid belastingbetalers en derhalwe die daarmee gepaardgaande belastinginkomste, noodwendig verminder het)?
BTW : Pryse van goedere, maak nie saak of dit plaaslik vervaardig of ingevoer is nie, word bepaal deur die vraag daarna en die aanbod daarvan. Vraag, aanbod en prys is dus onlosmaaklik deel van mekaar. Gevolglik sal ‘n lae aanbod wat gepaardgaan met ‘n hoë vraag aanleiding gee tot ‘n hoër prys en vice versa. Waarom het die vraag na goedere dan gedaal? Het die prys daarvan te hoog gestyg (bes moontlik a.g.v. loononderhandelinge) of het die Rand sodanig verswak dat die prys van ingevoerde goedere eenvoudig onbekostigbaar geword het, of is daar dalk ‘n nouer verband tussen persoonlike belastings en BTW as wat te kenne gegee word (waar verliese aan werksgeleenthede tot gevolg het dat huishoudings slegs die basiese benodigdhede kán aankoop)?
Bes moontlik is beide opsies hierbo die antwoorde op die onderskeie belastingvrae. Kortom, het werkloosheid in die land toegeneem of afgeneem sedert verlede jaar? Siende dat slegs eersgenoemde die geval kán wees, verstaan ek nie hoe die minister nou verwag om selfs méér belasting uit ‘n selfs kléíner belastingbetalerskorps te tap as die vorige belastingjaar nie!
Met dít in gedagte, begin die herverdeling-van-inkomste-klok hier in my agterkop te slaan want tydens die toespraak van die minister het hy ook verwys na ‘n verhoging in maandelikse staatstoelaes en mik-mik hy na gratis universiteitsonderrig… en iemand moet natuurlik nou instaan vir hierdie onvoorsiene uitgawes.
Die finansiële stelsel van Suid-Afrika kan slegs as ‘n hibriede stelsel beskryf word aangesien :
- die staat (ANC) histories ‘n kommunistiese bestel aanhang waar dit poog om ondernemings en plase by wyse van swart bemagtigings- en onteieningswetgewing vir sý rassegroep te bekom
- alle formele ondernemings onder ‘n kapitalistiese bestel staan waar dit slegs deur die ANC geduld word omdat hulle die maksimum inkomste (in die vorm van belastings en BTW) daaruit kan verkry
- die massas werkloses weer onder ‘n sosialistiese bestel van gratis behuising, medies en opvoeding val met ‘n maandelikse staatstoelaag om hulle in die lewe te hou.
Wat hierdie hibriede stelsel nog erger maak, is dat die ANC ‘n diktatoriële regeringsvorm navolg met daardie 2/3 meerderheid stem waaroor dit beskik. Neem as bewys hiervan net die hoeveelheid hofsake waarin die ANC hulleself al bevind het rondom beleidsbesluite óf die maniere waarop hulle met belastinggeld omgaan in die aankoop van stralers, die veiligheidsopgraderings aan persoonlike villas, ensovoorts. Waar die ANC, veral nou met die opkomende hersiening van die kredietgradering, poog om die beeld van ‘n Eerste-wêreld-standaard te skep, is dit totaal en al te laat omdat sy piesangrepubliek-praktyke oor die laaste 21 jaar uiteindelik aan die hele wêreld daar buite blootgelê is. Hoe ironies is dit nie dat die regering deur howe en internasionale graderingsagentskappe in die bek geruk moet word omdat hulle hul eenvoudig nie aan die inwoners en opposisie partye van die land steur nie!
Ek vind dit lagwekkend dat die ANC so spartel om die ekonomie te beskerm teen die rommelstatus-etiket terwyl die land as sulks alreeds geruime tyd lank ‘n rommelhoop ís. Alle staatsdepartemente en semi-staatsinstellings is lááánkal tot in die grond “bestuur” deur onbekwame, voorheen benadeeldes. Van hoë treintjies tot onafgelewerde posstukke tot substandaard onderwys, tot vliegtuigies wat teen verliese rondsweef tot ‘n verbrokkelende infrastruktuur, die ANC het voorwaar alles waar hy sy hand aan geslaan het van ‘n kant af opgeneuk.
Die feit dat SARS in die moeilikheid is, is maar net die resultaat van die hibriede ekonomiese stelsel wat deur die ANC nagevolg is. Hulle het gedink dat die bydraes uit die privaatsektor die staatskas as ‘n onuitputlike bron van fondse sou verseker vir hul uitspattige lewenstandaarde en die uitbetaling van maandelikse toelaes aan miljoene voorheen benadeeldes. Die regering het na 21 jaar geen werksgeleenthede geskep nie, inteendeel, dit kon nie eens bestaande werksgeleenthede in die staatsdiens in stand hou nie! Ons weet reeds geruime tyd van die 22% personeelvermindering deur die poskantoor beoog sowel as die vrywillige verminderings by PetroSA, MAAR die minister van finansies gaan 35 biljoen meer invorder in die nuwe finansiële jaar by wyse van hoër persoonlke belastings, BTW en suikerbelasings! Ek is nie geskool in die ekonomie nie, maar al wat ek vir hom as nugterdenkende kan sê is, “good luck with that one”.
As eienaar van ‘n klein sake-onderneming sien ek jaar na jaar hoe my omset net verder en verder krimp, hoe my debiteure sukkel om my te betaal en hoe kwotasies op nuwe toerusting net nie aanvaar word nie, kortom, kliënte het eenvoudig nie meer geld nie! Wat erger is, is dat my boekhouer my meedeel dat hierdie stand van sake eerder die norm as die uitsondering is. Miskien verstaan die uwe die minister nóú hoekom daar nie hierdie jaar aan sy verwagtinge voldoen is nie. Gemeet aan die minister se aankondiging, sou sy raad aan my seker wees om my pryse hoër te maak ten einde my kwynende winste aan te vul. Ongelukkig werk dit nie so nie minister, want ek funksioneer binne ‘n kapitalistiese bestel waar pryse deur vraag en aanbod vasgestel word. Jy sien, die kliënt weeg die waarde van my produk, hy vergelyk pryse en besluit dan om aan te koop aldan nie. Jy aan die ander kant dwing jou substandaard/onsigbare diens op my af waarvoor ek geen vraag of behoefte het nie en dwing my dan by wyse van wetgewing om jou die hoogste moontlike bedrag daarvoor te betaal sodat jou omset nie jaar na jaar krimp nie.
Die ANC en sy makkers het by feesmaal op feesmaal uit die goue bekers van hierdie land gedrink en nooit gedink dat daar ééndag ‘n dag sou kom waar die spreekwoordelike vinger teen die muur “rommelstatus” kom skryf nie.
[1] http://www.fin24.com/Budget/south-africans-to-pay-more-tax-next-year-20161026