Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geluk is soos ‘n boemerang – dit keer altyd terug na diegene wat dit gee. As jy dus regtig in jou hart gelukkig is, moet jy dit met ander deel anders gaan dit verlore. Niks kelder geluk soos selfsug nie.
'BEURTKRAG' WAS NIE NODIG (5)
WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig
Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser
"As gevolg van deeglike prospekteerwerk is dit as waarskynlik geag dat die Republiek die uraanproduksiesyfer van die tagtigerjare tot ver in die volgende eeu sou kon handhaaf en selfs daarop sou kon verbeter."
As 'n mens na menslike en maatskaplike vooruitgang kyk, is groot dele van die uitgestrekte Vasteland van Afrika arm en dit is die lot van miljoene van Afrika-inwoners om onder die broodlyn te lewe. Maar onder die druipnat oerwoud en die brandende woestynsand, in die heuwels en die berge en in die uitgestrekte grasland en bosveld, lê daar ryk minerale-afsettings wat baie lande jaloers maak — olie, steenkool, goud, uraan, diamante, koper, chroom, kobalt en 'n menigte ander onedel en edel materiale sowel as eksotiese stowwe. Dis nou daardie wat nog nie ná 1994 weggedra is nie... Bitter min mense sal die bewering in twyfel trek dat die Republiek van Suid-Afrika met sy gevorderde peil van tegnologie in die vorige eeu, die res van die Vasteland ver voor was met die teboekstelling en ontginning van sy mineralerykdomme.
Steenkoolherwinning het vroeg in die vorige eeu begin, die herwinning van koper teen die middel van die eeu, diamante naastenby 20 jaar later en in 1886 het die opening van die Witwatersrandse goudvelde gevolg. Kort hierna is die Transvaalse Kamer van Mynwese in die lewe geroep om die belange van die goudmyneienaars in die Transvaal te beskerm. Toe die goudmyne in die Oranje-Vrystaat geopen is, is die naam verander na die Transvaalse en Oranje-Vrystaatse Kamer van Mynwese en later tot die Kamer van Mynwese van Suid-Afrika. Met laasgenoemde ontwikkeling het dit ook moontlik geword vir myne wat ander minerale as goud ontgin om lede van die Kamer te kon word.
Alhoewel die Kamer horn gedurende die grootste deel van sy bestaan uitsluitlik met die produksie van goud besig gehou het, het dit tog een uitsondering gemaak naamlik uraan omdat feitlik al SuidAfrika se uraan as 'n neweproduk van goudmynbou herwin is. Om die koördinering van uraanekstraksie- en bemarking aan 'n afsonderlike organisasie toe te wys, sou onprakties wees. So het dit gebeur dat die Kamer vanaf die begin ten nouste betrokke was nie slegs by die produksie van uraan nie, maar ook by die verkoop daarvan. In die middel van die sestigerjare het die eerste tekens van 'n gewone, kommersiële vraag na uraan merkbaar geword. Sodanige handelsvraag was iets anders as die strategiese vraag wat tot die vorming van die Gesamentlike Ontwikkelingsagentskap gelei het. Die Kamer het gevolglik sy eie uraanverkooporganisasie in die lewe geroep. Hierdie liggaam het oor die voorwaardes van uraanverkoopkontrakte onderhandel ten spyte daarvan dat die formele kontrakte tussen die Raad op Atoomkrag en die kopers gesluit is omdat die eiendomsreg op uraan, kragtens die oorspronklike Wet op Atoomkrag, in die Staat gesetel was. Die Wet is in 1967 gewysig en een van die veranderinge wat aangebring is, was die herstel van die eiendomsreg van die privaatnywerheid. As 'n natuurlike gevolg hiervan is die Kamer se uraanbemarkingsorganisasie tot niet gemaak en in die plek daarvan het die Kernbrandstofkorporasie van Suid-Afrika (KEBKOR) tot stand gekom om as verkoopsagent ten behoewe van al die individuele uraanproduserende goudmyne op te tree. KEBKOR het ook die bedryf van die sentrale kalsineeraanleg oorgeneem. Hierdie aanleg het versamel ammoniumdiuranaatflodder van die ekstraksieaanlegte op verskeie myne en dit verwerk om 'n droë uraanoksied (U308) met 'n deurlopende hoë standaard vir uitvoer te produseer. Dit is hierdie grys-groen materiaal wat onder die misleidende naam van `yellow cake' bekend gestaan het.
Toe die Raad op Atoomkrag se navorsingsprogram in 1959 op die punt van implementering gestaan het, het die uraanproduksie van sewe-en-twintig myne en sewentien behandelingsaanlegte 'n spits van ongeveer 6 400 t U303 bereik, die hoogste produksie wat tot op daardie datum bereik is. Kort hierna het die militêre behoeftes van die VSA en die VK egter gedaal en dit het die heronderhandeling van die bestaande kontrakte tot gevolg gehad waardeur die aflewering van die balans van die uraan wat toe nog verskuldig was oor 'n langer tydperk uitgestrek is as waarvoor in die oorspronklike ooreenkomste voorsiening gemaak is. Dit het beteken dat 'n kleiner hoeveelheid elke jaar afgelewer moes word en gevolglik dat die individuele kwotas van die bydraende myne verlaag moes word wat op sy beurt meegebring het dat voortgesette produksie van uraan deur sommige myne met hoë kostestrukture onwinsgewend geword het. Behandelingsaanlegte is gesluit terwyl erts op 'n selektiewe grondslag vir moontlike toekomstige prosessering opgeberg is. Maar selfs hierdie prosedure was in sommige gevalle ekonomies onaantreklik en die uraan wat in die gouderts was, is eenvoudig weggegooi. Die optimistiese voorspellings vir kernenergie van die sestigerjare het nie rondom die aardbol werklikheid geword nie. In die vroeë sewentigerjare is besef dat die omvang van kernkragprojekte sodanig was dat die vraag nie so vinnig sou ontwikkel soos wat verwag is nie, veral weens die lang tyd wat vereis word om sodanige projekte aan die gang te kry uit sowel 'n konstruksie- as lisensieringsoogpunt gesien. Die nywerheid het deur 'n baie gevoelige tydperk gegaan. Die prys van uraanoksied het gedaal tot die helfte van die Gesamentlike Ontwikkelingsagentskap se oorspronklike kosteplussyfer van R12 per pond (R22,9 per kg) wat bepaal het dat die nywerheid lewensvatbaar sou wees. KEBKOR het dit moeilik gevind om kopers te kry.
Toe het die oliekrisis in 1973 gekom. Dit het die energiebeplanners se voorspelling van 'n geweldige toename in die bydrae van kernenergie tot die energiebehoeftes van die wêreld tot aan die einde van die vorige eeu beklemtoon. Inderwaarheid was die verstommende prysstygings van uraan meer aan die bedrywighede van OPEC te wyte as aan enige ander faktor, want hoe hoër die olieprys gestyg het, hoe hoër kon die uraanprys styg sonder dat dit onmededingend geword het. Ten spyte van die benadering wat deur die destydse administrasie in die VSA gevolg is, was daar later jare in die vorige eeu 'n merkbare ommeswaai vanaf 'n kopers- na 'n verkopersmark vir uraan. Niks bewys dit duideliker as die teenstelling tussen die gemiddelde prys van omtrent R9/kg vir die vyf jaar van 1968 tot 1973 en die styging tot ongeveer R58/kg tussen 1974 en 1976 nie.
Teen die agtergrond van die wêreldbeeld was die RAK se navorsingsbedrywighede wat op die ontwikkeling van die land se kerngrondstowwe gemik was, besonder lonend en is die nadruk wat dr Roux en sy Raad deurgaans op hierdie aktiwiteite geplaas het, voldoende geregverdig. Nie alleen het die pogings om nuwe en beter prosesse in te voer, SuidAfrika in die posisie van 'n wêreldleier op die gebied van die ontginning van uraan uit laegraadse ertse geplaas nie, maar die land se uraanreserwes is toe op 'n beduidende hoër syfer geplaas as wat die geval slegs 'n paar jaar tevore was.
Gelyktydig is metaalkundige prosesnavorsing met sukses by die ontwikkeling van metodes betrek om die produk van die myne in geskikte toevoermateriaal vir 'n uraanverrykingsaanleg te omskep terwyl fisies-metallurgiese pogings op die studie van metodes om verbeterde kernbrandstof te vervaardig en op kernbrandstof se gedrag onder betraling gerig is. Die RAK het voortgegaan met die voorsiening van gespesialiseerde geologiese dienste en met die advisering van mynbou- en opsporingsmaatksappye, veral met betrekking tot die afbakening van teikengebiede, in situ-ertsevaluerings- en prospekteertegnieke.
Die feit dat Suid-Afrika oor groot reserwes herwinbare uraan beskik is nooit met dadelose selfvoldoening aanvaar nie maar wel met bevrediging, 'n bevrediging wat getemper is deur die oortuiging dat die toekomstige vraag na hierdie mineraal die wêreld se hulpbronne sou oorskry. Toe die vraag in 1965 'n laagtepunt bereik het, het die Raad sy oortuigings in dade omgesit deur 'n uitgebreide uraanopsporingsprogram aan te moedig. Die Geologiese Opname het gevolglik 'n lugradiometriese en magnetiese opname aangepak wat binne 'n paar jaar daartoe gelei het dat uraanafsettings in verskeie dele van die land ontdek is, of weer ontdek is, deur sowel staatsliggame as die privaatnywerheid.
Die beduidendste ontdekkings was die afsetting by Rössing in die Distrik Swakopmund van Suidwes-Afrika en die uraandraende gesteentes van die Dominion Reef-groep in die Distrik Klerksdorp van Transvaal. In albei gevalle was dit reeds lank bekend dat daar wel uraan in die betrokke gebiede is. Die Rössing -afsetting was veral belangrik en in April 1969 het die Minister van Mynwese aangekondig: "Diamantboorwerk by Rössing wat gedurende die afgelope twee jaar gedoen is, het aangedui dat daar 'n uitgebreide laegraadse afsetting van uraan bestaan wat ontgin kan word deur dagboumetodes as dit sou blyk dat dit 'n ekonomiese proposisie is".
'n Aanvooraanlegstudie het bewys dat die skema wel lewensvatbaar sou wees en in Maart 1976 is die eerste ammoniumdiuranaat geproduseer. Daar is verwag dat die produksie van uraanoksied teen 1979 4 500 t/a sou nader en gesien in die lig van die hoeveelheid materiaal wat uit die groot oop gat gehaal word, was dit die grootste uraanmyn in die wêreld. Ook geologies gesien, was die Rössing -afsetting uitsonderlik omdat geen ander belangrike afsetting van uraan in granietertse nog opgespoor is nie.
Gedurende die middelsewentigerjare is 'n groot aantal beperkte voorkomste van uraanmineralisasie in die suidelike Karoo ontdek en daarna het etlike mynboumaatskappye aktief daar voortgegaan met grootskaalse prospekteerbedrywighede. Daar was heelwat probleme eie aan hierdie afsettings, soos dat uraanmineralisasie in kolle voorgekom het maar namate 'n groter wordende gebied intensief ondersoek is, was daar aanduidings van lewensvatbare afsettings.. 'n Omvattende, luggeofisiese opname van die hele Karookom is vir die Geologiese Opname deur 'n buitekontrakteur in noue samewerking met die RAK uitgevoer. Met 'n begroting van R3-miljoen is dit as die grootste enkele opname in sy soort beskou wat ooit in die wêrelduitgevoer is.
Dr Roux het die moontlikheid bespreek om 'n aanleg in die Karoo op te rig om die opbrengs van die afsettings te verwerk. Hy het die aansienlike belangstellingversterk deur sy verklaring dat dit in die nasionale belang was dat Suid-Afrika sy hulpbronne ten volle moet ontgin —selfs die klein hulpbronne en selfs as hulle slegs gesamentlik oorweeg kan word. Hy het bygevoeg "...die Staat mag uiteindelik hulp verleen om die kleiner afsettings in die Karoo en elders lewensvatbaar te maak en dit mag die vorm aanneem van hulp met die finansiëring van die oprigting van 'n sentrale aanleg in 'n gerieflik geleë sentrum".
Om die dataversamelingsbedrywighede in hierdie gebied te vergemaklik en ook om tegniese advies aan die betrokke maatskappye te verleen, het die RAK 'n Geologiese Takkantoor in Beaufort-Wes opgerig. Ander gebiede binne die Republiek isook met die oog op die bepaling van bykomende uraanhulpbronne ondersoek. Etlike mynboumaatskappye het ook die potensiaal van uraanmineralisering in granietrotse sowel as in die jonger oppervlakafsettings in die noordwestelike Kaapprovinsie ondersoek. Daar was ook belangstelling in die steenkoolafsettings van die Springbokvlakte, die metamorfiese rotse en Witwatersrandtipe-afsettings van Natal en in die alkaliese Pilanesbergkompleks. Die styging in die pryse van goud en uraan het ook prospektering in die Witwatersrandkom in so 'n mate aangewakker dat bemoedigende vondse in die Oranje-Vrystaat opgespoor is en dat nog twee nuwe goud-uraanmyne in die Transvaal gevestig is.
As gevolg van hierdie ontwikkelinge en van aanbevelings deur die NEA-IAEA-gidsgroep sowel as van INFCE het Suid-Afrika sy uraanhulpbronne in alle kategorieë herwaardeer, iets wat die RAK met jaarlikse tussenpose onderneem het. Gepaard met die versameling van hierdie inligting is indringende studies onderneem van die reserwes in myne wat in bedryf was en in ander potensiële gebiede in noue samewerking met die mynboumaatskappye wat versoek is om met tussenpose van ses maande aan die RAK verslag te doen. Al die gegewens is statisties verwerk en hulpbronskattings vir die verskeie rotstipes sowel as vir individuele maatskappye is op skrif gestel tesame met die totale bedrag wat aan lugopnames, boorwerk en opsporing bestee is. So is daar gedurende 1978 altesaam R21-miljoen aan prospekteerbedrywighede in die Republiek bestee waarvan die Staat R800 000 vir lugopnames bygedra het. Wanneer uraanhulpbronne vasgestel word, is die koste om hulle te ontgin natuurlik 'n kritieke faktor, gesien dat die hulpbronne wat slegs teen buitensporig hoë koste ontgin kan word van geen praktiese betekenis is nie. Dit was dus reeds lank 'n gevestigde internasionale praktyk om uraanhulpbronne met 'n uitdruklike produksiekostekategorie in verband te bring. Vanaf 1966 tot 1972, was die boonste kostegrens vir U308 R29/kg. Daarna is die kostesyfer in 1974 tot R57/kg verhoog en aangesien die styging in die uraanprys versnel het, is 'n bykomende kategorie van R96/kg bygevoeg. Gedeeltelik as gevolg hiervan, maar ook weens die uitstaande sukses van die prospekteerprogram, was daar sedert 1976 'n dramatiese verhoging in die gesamentlike hulpbronne van Suid-Afrika en Suidwes-Afrika. In 1976 is die gesamentlike U308-hulpbronne van Suid-Afrika en Suidwes-Afrika/ Namibië wat teen 'n koste van minder as R57/kg ontgin kon word op 401 000 t geskat, terwyl 'n syfer van 625 000 t in 1978 slegs vir die Republiek van Suid-Afrika verstrek is vir hulpbronne wat teen 'n prys van minder as R96/kg ontgin kon word. Ongeveer 9 % van Suid-Afrika se uraanhulpbronne word buite die groot Witwatersrandkom gevind. Hiervan was die belangrikste die ontdekte uraandraende steenkoolafsettings van die Springbokvlakte gevolg deur die voorkomste in die suidelike Karoo en die oppervlakafsettings van die noordelike Kaapprovinsie.
Dit is natuurlik onrealisties om te verwag dat uraanproduksie die opwaartse kromme van die hulpbronsyfers slaafs sou navolg. Produksie is op vraag gegrond en dit was nie voor 'n aantal jare ná die oliekrisis van 1973 en die gevolglike nadruk wat op kernkrag gelê is, dat 'n sigbare styging in die vraag waargeneem is nie. Maar daarna het Suid-Afrika se uraanproduksie uit 16 aanlegte wat in bedryf was beduidend toegeneem.
Die Raad op Atoomkrag het in samewerking met die mynboubedryf bereken dat Suid-Afrika in staat sou wees om in die vroeë tagtigerjare 13 000 t U308 per jaar te produseer. As gevolg van deeglike prospekteerwerk is dit as waarskynlik geag dat die Republiek hierdie syfer tot ver in die volgende eeu sou kon handhaaf en selfs daarop sou kon verbeter.
Vervolg...