ANC- AANSLAG OP DIE KERK (10)

Prof AWG Raath

Lees reeks by Kerk as instrument van ANC-revolusie

(Let daarop dat hierdie reeks oorspronklik in 1989 geskryf is, vandaar verwysings na later-veranderde situasies.)

ROL VAN DIE FREEDOM CHARTER

IN DIE REVOLUSIONÊRE AANSLAG VAN DIE ANC/SAKP-ALIANSIE

"Selfs die kerke is nie gevrywaar teen die opportunistiese pogings van die kommunistiese partye om beheer daarvan oor te neem nie. Die gedagte vind aansluiting by die bolsjevistiese oogmerk dat soveel as moontlik “frontorganisasies” tot stand gebring moet word, sonder dat al die lede van hierdie organisasies noodwendig kommuniste is."

In ’n uitgawe van Umsebenzi (vol.3,1987, p.4), mondstuk van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), verklaar die SAKP dat hy sy ongekwalifiseerde steun aan die Freedom Charter toesê. In geen onduidelike taal nie, verklaar die SAKP dat die verwesenliking van die doelstellings van die Freedom Charter die dringendste en onmiddellike behoeftes van die Suid-Afrikaanse bevolking sal bevredig en die grondslag vir die voortgang van Suid-Afrika, langs nie-kapitalistiese weë, na ’n kommunistiese en sosialistiese toekoms, sal lê. Die vraag is nou hoe die SAKP en die ANC hierdie doelwitte met die Freedom Charter wil verwesenlik en welke rol die Freedom Charter in die revolusionêre aanslag van die ANCISAKP-alliansie speel.

Die ANC/SAKP-Alliansie

Sedert die stigting van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (SAKP) op 29 Julie 1921, het die SAKP homself daarvoor beywer om beheer oor die nie-blankes in Suid-Afrika se politieke en vakbondorganisasies te verkry, ten einde dit tot sy eie voordeel te manipuleer. Die resultaat hiervan was dat die African National Congress (ANC), wat in 1912 tot stand gekom het, volledig deur die SAKP oorgeneem is. So heg is die verband tussen hierdie twee organisasies dat die een nie sonder die ander kan bestaan nie. Inteendeel, dit blyk dat die band tussen die ANC en die SAKP met die verloop van tyd steeds hegter word. Enkele voorbeelde kan in hierdie verband genoem word:

(a)       In die South African Communist Speaks, mondstuk van die SAKP, verwys die SAKP na die beleid van die Party wat daarop gerig is om ’n breë vlak van samewerking tussen die ANC en die ander gemeenskapsorganisasies te bewerkstellig. Die uitgangspunt is om ’n  formele werkbare verhouding tussen die SAKP en die ANC in stand te hou. Voorts verklaar die SAKP dat hy as beweging nooit die feit verdoesel het dat daar ’n besondere noue band tussen die ANC en die SAKP bestaan nie.

(b)       In die program “Forward to the People’s Power - The Challenge Ahead” vir 1980, stel die SAKP die volgende: Die Party is ’n noodsaaklike komponent vir die revolusionêre alliansie vir nasionale bevryding, met die ANC aan die spits. Uitdruklik verklaar die SAKP dat dit sy plig in die volgende dekade is, om hom op ’n groter skaal vir massa-ondersteuning te beywer.

(c)       In 1987 verklaar die SAKP in sy mondstuk, Umsebenzi (vol.3, tweede kwartaal 1987): Die populariteit en krag van die SAKP het aansienlik toegeneem, sowel wat betref die SAKP as ’n onafhanklike organisasie en as ’n onafskeibare deel van die bevrydingsalliansie, soos gelei deur die ANC.

In dieselfde uitgawe verklaar die SAKP voorts: ’n Frontparty, wat die historiese aspirasies van die werkersklas verteenwoordig kan nie ’n massakarakter hê nie. Dit moet slegs die mees gevorderde verteenwoordigers van die werkersklas betrek; meestal professionele revolusionêres met ’n begrip vir die Marxistiese teorie en praktyk, ’n onvoorwaardelike toewyding aan die saak van die werkers, en ’n bereidwilligheid, om indien nodig, hulle lewens vir die saak van vryheid en sosialisme op te offer. Die SAKP is so ’n party.

Doelwitte van die SAKP'. 1962-1987

In sy program The Road to South African Freedom wat in 1962 opgestel is en vir 25 jaar geldig moet wees, is onder andere die volgende uitgangspunte as fundamentele beleid deur die SAKP aanvaar:

(a)       Die enigste weg waarvoor die SAKP homself beywer is ’n sosialistiese en kommunistiese toekoms op die Marxistiese lees geskoei.

(b)       Die SAKP beywer hom vir die Nasionale Demokratiese Revolusie, wat gerig is op die bevryding van die swart volkere.

(c)       Die hoofdoelwitte en riglyne van die Suid-Afrikaanse demokratiese revolusie is omskryf in die Freedom Charter, wat deur die ANC en die ander partye in die nasionale bevrydingsalliansie onderskryf is. Alhoewel die Freedom Charter nie ’n program vir sosialisme is nie, is dit ’n gemeenskaplike program vir ’n vrye, demokratiese Suid-Afrika, soos deur sosialiste en nie-sosialiste onderskryf. Terselfdertyd doen die Freedom Charter ’n beroep vir diepgrypende ekonomiese verandering.

Die SAKP verklaar sy ongekwalifiseerde steun vir die Freedom Charter. Dit sien die verwesenliking van hierdie doelwitte as ’n antwoord op die dringendste en noodsaaklikste behoeftes van die mense en die basis vir die voortgang van die land langs nie-kapitalistiese weë na ’n kommunistiese en sosialistiese toekoms.

Hierdie doelwitte van die SAKP kan slegs begryp word indien ons met die SAKP as ’n bolsjevisties-kommunistiese organisasie rekening hou. Hiervan is die volgende aspekte besonder belangrik:

(a)       Die SAKP as bolsjevisties-kommunistiese organisasie is gegrondves op die uitgangspunt van Lenin dat die proletariese werkersklas geen ander wapen in die stryd om mag het, behalwe organisasie nie. Deur grootskaalse organisasie, indoktrinasie en agitasie probeer die SAKP die werkersklasse saamsnoer.

(b)       Wat die propagandistiese oogmerke van die SAKP betref, steun dit op Lenin se gedagte in sy werk “Left" Communism dat die bolsjevisme alle vorme van oppertunisme moet benut om die kommunisme te versprei. Daarom vind ons oproepe in SAKP geledere dat alle vorme van strategieë, instrumente, onwettige metodes en infiltrasie gebruik moet word om die kommunisme te bevorder in daardie instansies wat deur die SAKP geïnfiltreer word.

(c)       Ook onderskryf die SAKP die Leninistiese uitgangspunte wat ’n onderskeid tussen propaganda en agitasie tref. “Propaganda” oftewel “indoktrinasie” behels die verspreiding van vele fundamentele gedagtes aan klein groepe. “Agitasie” is die verspreiding van enkele idees, of slegs een idee, aan baie lede van die bevolking. Hierdie onderskeid kom daarop neer dat die SAKP blootgestel is aan die volle trefwydte van kommunistiese doelstellings en metodes, terwyl die meerderheid van die bevolking gemobiliseer word deur anti-kapitalistiese slagspreuke en oproepe vir “brood”, “grond” en “eenheid”.

Die kommunistiese partye wêreldwyd sien die bevolking van ’n land as ’n manipuleerbare massa - ’n belangrike bron van energie in hulle onuitblusbare sug na mag. In hierdie verband sentreer die party se aandag om die vraag hoe die bevolking gemobiliseer kan word in sy sug na totale magsoorname.

(d)       Soos kommunistiese partye elders in die wêreld, beywer die SAKP hom daarvoor om ander nie-kommunistiese organisasie te infiltreer, beheer daarvan oor te neem en dit as ’n massa-organisasie uit te bou ten einde ’n “demokratiese front” tot stand te bring. Selfs die kerke is nie gevrywaar teen die opportunistiese pogings van die kommunistiese partye om beheer daarvan oor te neem nie. Die gedagte vind aansluiting by die bolsjevistiese oogmerk dat soveel as moontlik “frontorganisasies” tot stand gebring moet word, sonder dat al die lede van hierdie organisasies noodwendig kommuniste is.

(e)       Soos kommunistiese partye elders in die wêreld, is die SAKP se uitgangspunt ook om deur middel van “frontorganisasies” soveel moontlik mense te mobiliseer - selfs daardie wat teen die kommunistiese ideologie gekant is. Hiervoor word die slagspreuke van “burgerlike vryheid” (civil liberty) deur kommunistiese partye gebruik. Dit is byvoorbeeld niks vreemds om verskeie “defence committees” te sien verskyn wanneer ’n lid van die kommunistiese partye vervolging in die gesig staar nie. Hiermee word ’n mate van legitimiteit deur ’n kommunistiese party verkry. As gevolg hiervan word ’n denkklimaat geskep wat die kommuniste as “normale opponente” in die stryd om politieke mag sien. Deurentyd is die SAKP egter daarop bedag dat dit sy ware anti-patie jeens burgerlike vryhede (civil rights) verswyg. Geensins gun die SAKP, op grond van sy bolsjevistiese oogmerke, vryheid aan sy vyande of selfs vir diegene wat hulle as vriende van die kommunistiese beweging beskou nie.

In die lig van hierdie agtergrond moet die SAKP en die ANC se agitasie vir die implementering van die doelwitte van die Freedom Charter beoordeel word.

Rol van die Freedom Charter volgens die ANC/SAKP-Alliansie

Volgens sowel die ANC as die SAKP is die Freedom Charter ’n “revolusionêre dokument”. In die publikasie ANC Speaks: Documents and Statements of the African National Congress (p.17) verklaar die ANC dat die ANC en sy bondgenote in ’n gewapende stryd vir die omverwerping van die rasistiese regime in Suid-Afrika is. In die plek daarvan wil die ANC ’n “demokratiese staat” op die grondslag, soos in die Freedom Charter aangedui, tot stand bring. Alhoewel die Freedom Charter in 1956 (moet wees 1955) aanvaar is bly dit, volgens die ANC, so relevant soos ooit tevore. Hieraan word toegevoeg dat sommige mense wat die voorwaardes van die dokument vergeet het, dink dat die voorwaardes van die gewapende stryd sommige bepalings van die dokument tot niet maak. Dit word egter duidelik gestel dat die Freedom Charter se revolusionêre boodskap eerder verbreed en uitgebrei moet word (deur die gewapende stryd).

In die ANC-lyfblad Sechaba (3e kwartaal, 1989, p.7) word van die Freedom Charter verklaar dat dit die grondslag is en ’n voorwaarde vorm vir die verdere ontwikkeling en radikalisering van die revolusie. In die publikasie Liberation het Mandela in Junie 1956 oor die Freedom Charter verklaar: Die Handves is meer as bloot ’n lys van aansprake vir demokratiese hervorminge. Dit is ’n revolusionêre dokument omdat die veranderinge wat beoog word, nie verwesenlik kan word, sonder om die bestaande ekonomiese en politieke bestel in Suid-Afrika te vernietig nie. Om hierdie eise te verwesenlik word vereis organisasie, inisiëring en ontwikkeling van massa-stryd op die grootste moontlike skaal. Hierdie eise sal slegs verwesenlik en gekonsolideer kan word, as die resultaat van die landswye kampanje van agitasie deur onwrikbare en gedetermineerde massa-stryd.

Hierdie uitgangspunte ten aansien van die Freedom Charter vind aansluiting by Oliver Tambo se uiteensetting van die revolusionêre strategic van hie ANC. Volgens Tambo rus die revolusionêre stryd op vier pilare:

  1. Eerstens die omvattende frontaktiwiteite van die ANC se ondergrondse strukture;
  2. tweedens die verenigde massa-optrede deur die bevolking;
  3. derdens die gewapende offensief soos aangevoer deur Umkhonto We Sizwe;
  4. en vierdens die internasionale inisiatief om Suid-Afrika te isoleer en wêreldwye morele, politieke en materiele steun vir die stryd te werf.

Die ANC se oogmerke met die Freedom Charter sluit veral by die tweede en vierde doelstellinge hierbo aan: eerstens moet die massas gemobiliseer word met slagkrete van burgerlike vryhede en tweedens moet ook langs politieke weë, steun vir die stryd teen Suid-Afrika gewerf word.

Hierdie uitgangspunte sluit nou aan by die SAKP se uitgangspunte dat ’n sosialistiese orde in Suid-Afrika slegs bereik kan word indien die politieke mag in die hande van die proletariaat geplaas word. Hiervoor visualiseer die SAKP ’n nasionaal-demokratiese revolusie. Hiervoor gebruik die SAKP die ANC as instrument. Eksplisiet verklaar die SAKP dat die voor die hand liggende instrument vir die bereiking van die doelwitte van ’n nasionaal-demokratiese revolusie, ’n massabeweging is wat in staat is om al die klasse in ’n aanslag teen die bestaande orde te mobiliseer. Die ANC word as so ’n instrument beskou.

Vir die ANC vorm die Freedom Charter die politieke grondslag waardeur die ANC sy revolusionêre strategie in Suid-Afrika tot uitvoer wil bring. In hierdie verband sien die ANC die Freedom Charter as “’n revolusionêre aksieprogram” vir bevryding.

Samevattend:

(a)       Volgens die SAKP sal die bereiking van die doelstellings, soos in die Freedom Charter vervat, die weg na ’n kommunisties-sosialistiese bestel vir Suid-Afrika voorberei.

(b)       Volgens die SAKP moet ’n kommunistiese staatsbestel in Suid-Afrika, na ’n revolusionêre bewindsoorname - soos met die Freedom Charter in die vooruitsig gestel - tot stand gebring word. Van hierdie fase wat na afloop van die revolusionêre demokratiese bewindsoorname sal volg, verklaar die SAKP dat die perspektief van die heropbou van die staatsaparatuur na die bewindsoorname gebaseer is op die lank gevestigde kommunistiese teorie, wat aansienlik verskil van die benadering van die sosiale demokrasie, en beslis van dié van die nasionale bevrydingsbewegings.

(c)       Vir die ANC speel die Freedom Charter ’n belangrike rol in die “strewe na eenheid” wat die ANC onder alle lede van die bevolking in Suid-Afrika wil skep, ten einde die massa teen die regering te mobiliseer. Oliver Tambo verklaar byvoorbeeld dat met die aanvaarding van die Charter alle strydaktiwiteite deel van een word: die stryd vir die oogmerke van die Charter.

(d)       Ten einde hulle oogmerke met die Freedom Charter te bereik werp die ANC/SAKP alles in die stryd om die dokument so wyd as moontlik te propageer en sover moontlik steun vir hierdie dokument te werf.

Enkele Kritiese Opmerkings

Die ontstellende verskynsel tans in ons land is eerstens dat mense die vae en wye ideale wat in die Freedom Charter vervat is, beoordeel sonder om die grondslag waarop dit berus en die oogmerke van die opstellers van die dokument in aanmerking te neem. Aldus verklaar Gilbert Marcus van die Centre for Applied Legal Studies by Wits dat die Freedom Charter ’n pleidooi vir ’n “demokratiese Suid-Afrika” bevat. Volgens Peter Gastrow behoort die regering duideliker positief kennis van die Freedom Charter te neem. Hierdie naïewe beoordelings van die Freedom Charter, sonder om die teoretiese grondslae en oogmerke waarop dit steun te verreken, speel uitstekend in die hande van die SAKP en ANC en die revolusionêre oogmerke wat hulle met hierdie dokument nastreef.

Tweedens is daar egter diegene wat grootliks bewus is van die revolusionêre ondertone van die Freedom Charter en tog aktief meedoen aan die popularisering daarvan. So verklaar Raymond Suttner van Wits byvoorbeeld in 1984 dat die Freedom Charter “herontdek” is. Vervolgens bepleit hy dat die Freedom Charter aktief gesteun moet word in alle fronte van die stryd.

Die SAKP/ANC-alliansie staan stewig op die uitgangspunte van die bolsjevistiese kommunisme met sy ideale van revolusionisme, opportunisme en magsbeheer deur middel van die diktatuur gegrondves. Hierdie uitgangspunte vind ook in die pleidooi vir die implementering van die Freedom Charter neerslag. Met hierdie uitgangspunte kan die Christelike Calvinistiese staatsopvatting homself nie versoen nie. Ook kan die Christelike staatsbeskouing nie die vae terme van die Freedom Charter steun, terwyl die opsteller van hierdie dokument radikaal anderse motiewe met hierdie dokument nastreef nie. Die lewens- en wêreldbeskoulike uitgangspunte van die Christelike Calvinisme verskil so daadwerklik van dié van die bolsjevistiese-kommunisme dat geen kompromie moontlik is nie. In die lig hiervan moet ons dus ’n ernstige beroep van tweërlei aard op alle inwoners van Suid-Afrika doen: eerstens om die revolusionêre en opportunistiese oogmerke van die SAKP en die ANC in berekening te bring by enige bespreking van die Freedom Charter, tweedens om nie die vae en wye doelstellinge van hierdie dokument te onderskryf of selfs te oorweeg sonder om die lewensbeskoulike oogmerke van die opstellers daarvan in aanmerking te neem nie.

Vervolg...