MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (29)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

Kaapstad: J.H. Hofmeyr (Onze Jan)-standbeeld

Ligging: Kerkplein, omring deur Plein-, Spin-en Parlementstraat.

Toegang: Die standbeeld is nie omhein nie en permanent toeganklik. Geen toegangsfooi.

Geriewe: Toilette en winkels in die nabyheid.

Beeldhouer: Anton van Wouw.
Onthul: In 1920, deur die Minister van Myn-wese en Nywerheid, F.S. Malan.

Jan Hendrik Hofmeyr is in 1845 in Kaapstad gebore. Hy het sy volwasse loopbaan as joernalis begin en het spoedig beide die redakteur en die eienaar van die koerant De Volksvriend geword.

  Daardie koerant het later onder sy leiding met die meer bekende De Zuid-Afrikaan verenig.

Van 1879 tot 1893 was hy 'n lid van die Kaapse Parlement en wel as die verteenwoordiger van die kiesafdeling Stellenbosch.

 As 'n voorstander van hegter ekonomiese eenheid in Suid-Afrika het hy hom in 1899, kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, daarop toegespits om die Britse regering en die Boererepublieke te probeer versoen en 'n vreedsame oplossing te vind. Dit was egter 'n vergeefse poging en die verwoestende oorlog het gevolg. 

Hoewel Hofmeyr was in die eerste plek bekend as taalstryder. Hy het dwarsdeur sy openbare loopbaan daarvoor gepleit dat die Engelse en Nederlandse tale in die Kaapkolonie op gelyke voet geplaas moes word. In 1890 het hy gehelp met die stigting van die Taalbond. In 1904 het hy hom beywervir die erkenning van die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling deur die onderwysdepartemente en die Raad van die Kaapse Universiteit. In 1905 het hy in Stellenbosch 'n belangwekkende lesing oor die Nederlandse taal onder die opskrif "Is't ons Ernst?" gelewer. In hierdie lesing het hy gepleit vir die handhawing van Nederlands as die skryf- en moedertaal van die Afrikanervolk, al sou dit in 'n vereenvoudigde vorm wees. Die lesing het onsterflike roem aan hom besorg.

Hofmeyr het in 1909 bygedra tot die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. Hy was 'n lid van die eerste Akademie. Kort hierna het hy as lid van die afvaardiging van die Nasionale Konvensie uit Suid-Afrika na Londen in Engeland vertrek. Hulle moes die wetsontwerp wat vir die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika voorsiening gemaak het aan die Britse parlement gaan voorle. Hofmeyr is in Oktober 1909 in Londen oorlede.

Jan Hendrik Hofmeyr het liefde en respek by sy tydgenote afgedwing. Dit word bevestig deur die feit dat sy noemnaam "Onze Jan" spontaan in die volksmond ontstaan en gevestig geraak het.