Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika
Durban: Vasco da Gama-gedenkteken
Ligging: Reg langs die hawe van Durban, teenoor die klein-vaartuie-hawe, langs Margaret Mncabilaan.
Toegang: Die monument is nie omhein nie en permanent toeganklik. Geen toegangsfooi.
Geriewe: Geen by die standbeeld nie, maar wel in die nabyheid.
Onthul: 1897, tydens die 400-jarige herdenking van Da Gama se naamgewing aan Natal op Kersdag 1497.
Hierdie gietysterfontein gedenk Vasco da Gama, die eerste Europese skeepskaptein wat langs die kus van Natal verby gevaar het. Dit is gepas dat Vasco da Gama met 'n monument in Durban gehuldig word, want hy was vir die benaming Natal en die eerste vermelding van hierdie gebied op wereldkaarte verantwoordelik.
Soos in die geval van Bartolomeu Dias, is daar feitlik niks oor Da Gama se jeug en vroeë loopbaan bekend nie. Die feit dat hy in 1497 deur die Portugese koning aangestel is as bevelvoerder van die ekspedisie wat rondom Afrika tot by Indië moes vaar, dui daarop dat hy 'n bekende seevaarder was. Soos Dias het hy sy reis met drie skepe aangepak.
Da Gama het die Suid-Afrikaanse kus in November 1497 by 'n baai wat sedertdien as St Helenabaai bekend staan, bereik. Teen Kersdag was hulle teenoor die kus van Pondo-land en noem hy dit Natal - ter herdenking aan die geboortedag van Christus.
Teen April 1498 het Da Gama Malindi aan die kus van Kenia bereik. Die sultan van daardie Arabiese handelshawe het hier aan die Portugese 'n ervare loods beskikbaar gestel. Dit het hulle in staat gestel om die Indiese Oseaan regstreeks na Indië oor te steek. Hulle bereik hulle bestemming, die Indiese hawestad Kalikoet, op 20 Mei 1498.
Die verdere besonderhede oor Da Gama se epogmakende seereis is nie hier ter sprake nie. Van belang is dat hy met sy sukses die grondslag van die Portugese handelsryk in die Indiese Oseaan gelê het. Dit is tog opvallend dat die Portugese nooit gepoog het om aan die Suid-Afrikaanse kus'n handelspos of 'n koloniete vestig nie. Wat Da Gama betref; hy het in Augustus 1499 weer Portugal bereik waar hy 'n helde-ontvangs geniet en later die eretitel Onderkoning van Indië verwerf het. Hy is in 1524 in Indië oorlede.