Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika
Gideon Scheepers-monument: naby Arnot-kragstasie
Ligging: Hierdie gedenknaald staan in die familiekerkhof op die plaas Roodepoort. Dit is moeilik om te bereik.
Aanwysings: Draai noordwaarts uit die N4 by afrit nommer 153 na die Arnot-spoorwegstasie se kant toe. Draai regs na Wonderfontein by die T-aansluiting. Ry verby die Mafube myn. Draai links op 'n grondpad by die Arnot-stasie/Uitkyk afrit. Draai links by 'n watertenk wat met Ndebelekuns versier is, duskant die spoorlyn en ry weswaarts al langs die treinspoor af. Gaan oor die spoor en ry steeds langs die spoorlyn, maar nou in 'n ooswaartse rigting verby die stasie. Volg die grondpad tot by 'n grondpad (die D1048) wat regs afdraai. Dit is 6,2 kilometer van waar mens die spoorlyn kruis tot hier. Die bordjie lees Wapadrand. Draai regs (ooswaarts) en volg die pad vir 1,4 kilometer. Draai dan regs in (suidwaarts) op 'n plaaspad waar die naambordjie lees Oosthuizen (BNB1). Ry vir 900 meter aan op hierdie plaaspad verby die opstalle en die voerkrale. Die begraafplaas is aan die linkerkant langs die voerkrale. Daar is 'n muur random die begraafplaas gebou maar die gedenknaald steek bo dit uit. Sophie en Geelbooi Sindane versorg die begraafplaas van die Scheeperse en sal moontlik opdaag en 'n fooitjie vra.
GPS-koordinate: S25"44.390, E28°48.669.
Geriewe: Voldoende parkering maar geen geriewe nie. Daar is geen ander besienswaardighede in die onmiddellike omgewing nie.
Inwyding: 20 Januarie 1945 deur Scheepers se 85-jarige moeder.
Gideon Jacobus Scheepers is in 1878 op die plaas Roodepoort, waar hierdie gedenknaald staan, gebore. Hy was 16 toe hy by die Staatsartillerievan die ZAR aangesluit het, waar hy as heliograaf opgelei is. In die Tweede Vryheidsoorlog het hy spoedig as verkenner naam gemaak.
Vroeg in 1901 is hy deur generaal Christiaan de Wet tot kommandant bevorder en in beheer geplaas van 'n kommando wat die stryd teen die Britte in die Kaapkolonie moes voortsit. Hy het sy opdragte met welslae uitgevoer totdat hy 'n ernstige kwaal opgedoen het. Aangesien hy besef het dat dat hy mediese hulp nodig gehad het, het hy hom in Oktober 1901 aan die Britse magte oorgegee.
Die Britte het Scheepers gesond gedokter maar hom toe van verskeie oorlogsmisdade aangekla. Hy is uiteindelik deur 'n Britse militêre hof skuldig bevind en, ten spyte van die feit dat hy 'n krygsgevangene en nie 'n Britse onderdaan was nie, ter dood veroordeel. Hy is in Januarie 1902 vlak buite Graaff-Reinet deur 'n vuurpeleton gefusilleer. Hy is op die plek van sy teregstelling begrawe, maar sy lyk is daardie selfde nag op 'n onbekende plek deur Britse soldate herbegrawe.
Scheepers het die bekendste Afrikaner-martelaar van die Tweede Vryheidsoorlog geword. Daar is gedigte en boeke oor hom geskryf. Benewens hierdie gedenknaald is daar 'n monument vir hom naby die plek waar hy buite Graaff-Reinet tereggestel is.