Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika
Tweede Vryheidsoorlog Burgermonument - Ermelo
Ligging: Langs Joubertstraat (tussen Jan van Riebeeck- en Kerkstraat), voor die NederduitseGereformeerde Kerk. GPS-koordinate: S26°31.263, E29°59.062.
Toegang: Die monument is nie omhein nie en permanent toeganklik. Geen toegangsfooi.
Geriewe: Toilette en winkels in die nabyheid.
Onthul: Op 31 Mei 1935 deur die Adjunk Eerste Minister, Jan Smuts.
Die Tweede Vryheidsoorlog het aan die burgers van die Boererepublieke asook aan die Kaapse rebelle en buitelandse vrywilligers wat by hulle aangesluit het, groot roem as gedugte krygsmanne ingeoes. Dit is inderdaad so dat hulle vir die grootste deel van die oorlog hulle vryheid teen 'n geweldige oormag van uiteindelik meer as tien Britse soldate teen een burger moes verdedig. In die proses het daar vanselfsprekend talle burgers gesneuwel, of as gevolg van verwonding of siektes beswyk. Historici bereken dat daar altesaam sowat 4000 burgers op die slagveld en 2 000 as gevolg van ander oorsake dood is. Aan Britse kant was die ongevalle aansienlik hoër. Daar word bereken dat sowat 8 000 lede van die Britse gewapende magte, waaronder Suid -Afrikaners wat by die Britte aangesluit het, op die slagveld dood is en dat 'n verdere 22 000 aan ander oorsake, waaronder veral siektes soos maagkoors, dood is.
Die burgers wat in die vryheidstryd dood is, is sedert die oorlog op verskeie wyses gedenk. Een van die mees algemene gedenkwyses was die oprigting van burgermonumente ter herdenking van die burgers van spesifieke distrikte wat in die oorlog dood is. Daar is minstens 50 sodanige monumente in Suid-Afrika - oor al nege provinsies versprei. Die mees algemene gebruik was om sodanige monument op die kerkterrein van die mees prominente Nederduitse Gereformeerde gemeente in 'n distrik op te rig. Soms is die monumente op openbare terreine soos in begraafplase of op die sentrale plein in dorpe opgerig. In sommige sentra is die name van oorledenes op gedenkplate gegraveer en op plekke soos die ingangsportaal van kerke aangebring. Sommige burgermonumente is taamlik beskeie en bevat basies net die name. Ander is meer indrukwekkend, soos die enkele monumente van burgers met hulle perde. Die monument op Ermelo val in laasgenoemde kategorie. Dit is aanvanklik langs die straat voor die NG-kerk opgerig, maar is later na die terrein voor die munisipale kantore en die stadsaal verskuif. Na 1994 het is dit weer terug verskuif na die straat voor die kerk, waar dit tans staan.