Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika
Karel Landman-monument
Ligging: Op die plaas De Kol-rant langs 'n grondpad wat noordwaarts uitdraai uit die R72 tussen Alexandria en Port Elizabeth.
Toegang: Die monument is nie omhein nie en permanent toeganklik. Geen toegangsfooi.
Geriewe: Die naaste geriewe is in dorpe/stede in die omgewing.
Argitek: Gerard Moerdyk.
Onthul: 1939, deur ds W.A. Landman, 'n seun van Alexandria en bloedverwant van Karel Landman.
Hierdie monument bring hulde aan Karel Pieter Landman, 'n Voortrekkerleier en Andries Pretorius se tweede-in-bevel tydens die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838. Die monument huldig voorts al die Voortrekkers uit daardie omgewing, wat destyds in die wyk Oilfantshoek van die distrik Uitenhage was, en weggetrek het.
Landman is in 1796 in die distrik Uitenhage gebore. Hy was 'n ywerige en hardwerkende boer en het boerderybedrywighede met sukses bestuur. In 1835-36 het hy egter in die Sesde Grensoorlog swaar verliese gely. Hy was vervolgens genoodsaak om sy plaas te verlaat. Hy het aanvanklik agtergebly toe die eerste Voortrekkers in 1836 uit Olifantshoek weggetrek het. In Oktober 1837 het hy egter aan die hoof van 39 gesinne die Kaapkolonie verlaat.
Landman het sy skrede na Natal gewend waar hy hom naby die mond van die Umgeni-rivier by Port Natal gevestig het. Hy het 'n leidende rol in die vroeëre geskiedenis van Natal gespeel. In hierdie verband was hy onder meer 'n gekose lid en voorsitter van die Volksraad van die Republiek Natalia en ook landdros van Pietermaritzburg. Ná die Britse besetting van Natalia het hy hom in die binneland van Natal gaan vestig. Hy het vir meer as 30 jaar op die plaas Uithoek aan die Kliprivier geboer, waar hy in 1875 kort voor sy 80ste verjaarsdag oorlede en begrawe is.
Hierdie unieke monument bestaan uit 'n aardbol met 'n deursnit van ongeveer vyf meter. Dit is van beton gemaak en hol binne. 'n Ossewa word op die aardbol deur 'n span osse oor Suider-Afrika getrek. Dit simboliseer die feit dat die binneland van Suider-Afrika deur die Voortrekkers met hulle waens oopgestel is.