Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika
Kaapstad: Bartolomeu Dias-standbeeld
Ligging: Op 'n verkeerseiland in die sirkel waar Adderley- en Coen Steytlerstraat kruis.
Toegang: Die standbeeld is nie omhein nie en permanent toeganklik. Geen toegangsfooi.
Geriewe: Geriewe in die nabyheid.
Beeldhouer: Salvador Carvao de Silva Barata Feyo. Onthulling: Hierdie standbeefd is in 1960 deur die Portugese regering aan Suid-Afrika geskenk en in die Kompanjiestuin in Kaapstad opgerig. Dit is later na sy huidige staanplek verskuif.
Bartolomeu Dias de Novaes was die eerste Portugese skeepskaptein om 'n seevaart tot by die suidpunt van Afrika te onderneem. Dit was 'n belangrike mylpaal in die voorgeskiedenis van die vestiging van die Afrikanergemeenskap. Oor Dias se vroeë lewensloop is weinig bekend. Hy is in ongeveer 1450 gebore. Daar kan aanvaar word dat hy sy hele volwasse lewe lank 'n seevaarder was, want teen 1482 was hy die kaptein van 'n karveel, soos die destydse Portugese seilskepe genoem is.
Dias se seereis na die suidpunt van Afrika het in 1487 'n aanvang geneem. Hy en sy matrose het oor drie skepe beskik. Ingesluit by hulle skeepsvrag was daar 'n aantal klipkruise (padrao in Portugees) wat hulle op sigbare plekke langs die kus van Afrika moes oprig. Daardie kruise moes dien as aanduiding dat die Portugese koning sy gesag oor 'n gebied aankondig. Terselfdertyd was dit vir die Portugese 'n simbool van die uitbreiding van die Christendom.
Teen Nuwejaarsdag 1488 het Dias-hulle teen die Suid-Afrikaanse kus suid van die mond van die Garieprivier gevaar. Enkele dae later het hulle by Kaappunt verby gevaar. Hulle was nie bewus daarvan nie, want hulle was buite sigafstand van die land af. Sowat 'n week later het hulle, nadat hulle eers ooswaarts en toe noordwaarts gevaar het, die land in sig gekry in die omgewing van die moderne Vleesbaai. Verder oos het hulle die eerste keer in Suid-Afrika by Mosselbaai aan land gegaan.
Dias se opdrag was om 'n seeweg na Indië te probeer vind. Gevolglik het hy van Mosselbaai af steeds verder oos gevaar. Teen daardie tyd was sy bemanning egter uitgeput en het hulle waarskynlik aan skeurbuik gely. Na samesprekings tussen Dias en sy bemanning het hulle gevolglik besluit om om te draai. Hulle het egter eers verder gevaar tot by Kwaaihoek, naby die huidige kusdorp Boknes, waar hulle hul verste padrao opgerig het. Tydens hulle terugvaart het hulle ook op Kaappunt 'n padrao opgerig. Hulle het nie by Tafelbaai ingevaar nie, want hulle is in die nag daar verby.
Dias en sy bemanning het Portugal in Desember 1488 met twee van hulle skepe bereik. Vir die volgende aantal jare was hy in bevel van Portugese goudhandel aan die weskus van Afrika. In die jaar 1500 het hy verdrink toe die skip waarvan hy die kaptein was, naby die kus van Brasilië vergaan het.