Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika
JAN MARAIS-STANDBEELD - STELLENBOSCH
Ligging: Op die Jan Marais-plein in die middel van die kampus van die Universiteit van Stellenbosch, bokant die biblioteek.
Toegang: Dit word deur die Universiteit van Stellenbosch beheer. Geen toegangsfooi nie.
Geriewe: Toilette en kafeterias op die Universiteitskampus.
Beeldhouer: Coert Steynberg.
Onthul: In 1950, deur sy eggenote, mev. E.J.H. Marais.
Op die voetstuk van hierdie monument; standbeeld staan die volgende opskrif: "J.H. Marais. Ons weldoener." Johannes Henoch (Jan) Marais was 'n Stellenboscher in murg en been. Hy is in 1851 op die plaas Coetzenburg in Stellenbosch gebore en het sy opleiding aan die Stellenbosch-Gimnasium ontvang.
As negentienjarige jongman het hy van 1870 af saam met sy broers sy geluk by die diamantdelwerye in Griekwaland-Wes gaan beproef. Hy was suksesvol genoeg dat hy met sy terugkeer na Stellenbosch in 1892 die plaas Coetzenburg van sy moeder kon koop. Hierna het hy hom vir sewe jaar voltyds op boerdery toegele.
Van 1899 tot met Uniewording in 1910 het hy as lid van die Afrikanerbond die kiesafdeling Stellenbosch in die Kaapse Wetgewende Vergadering verteenwoordig. Na Uniewording is hy verkies tot Volksraadslid vir Stellenbosch wat hy tot met sy dood in 1915 gebly het.
Dat Marais die eretitel "weldoener" verdien het, word bevestig deur die veelheid van aktiwiteite waarby hy ten behoewe van die Afrikanergemeenskap betrokke was. Hy het deelgeneem aan die oprigting van die koerant De Burger (later Die Burger) in 1914-15: Hy het verskeie beurse en lenings aan Afrikanerstudente bewillig ten einde hulle in staat te stel om aan die Victoria-kollege te studeer. Hy was betrokke by inisiatiewe om Afrikanersaak te bevorder en het groot bemakinge gedoen aan instansies soos die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, die Instituut vir Dowes en Blindes op Worcester en die Kindersendinghuis in Kaapstad. Deur sy mildelike skenkings het hy boonop oprigting van sekere geboue aan die Victoria-kollege moontlik gemaak. Sy grootste bydrae was ongetwyfeld sy nalatenskap van £100 000 vir die stigting van 'n universiteit op Stellenbosch. Dit was destyds 'n enorme bedrag. Dit was bowenal hierdie weldaad wat die stigting van die Universiteit van Stellenbosch, wat die eerste Afrikaanse universiteit in Suid-Afrika was, in 1918 moontlik gemaak het. Benewens al die bogenoemde is 'n kapitaalkragtige fonds, wat as Het Jan Marais Nationale Fonds bekend staan, met die geld wat in sy boedel oorgebly het, gestig. Verskeie Afrikaner- en nasionale sake het oor die loop van tyd daarby baat gevind.
Hierdie monument is ingevolge 'n besluit van die Raad van die Universiteit van Stellenbosch opgerig.