MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (21)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

HUGENOTE-MONUMENT - FRANSCHHOEK

Ligging: Oorkant die suidoostelike punt van Hugenootstraat, langs Lambrechtstraat.

Toegang: Daar is toegangsbeheer by die monument, 'n toegangsfooi is betaalbaar.
Geriewe: Daar is geriewe soos toilette by die monument.
Beeldhouer: Coert Steynberg (met die argitek J.C. Jongens as mede-ontwerper).
Inwyding: 17 April 1948.

In Frankryk was die Rooms-Katolieke Kerk in die sewentiende eeu die oorheersende kerk en is Franse Protestante (wat Hugenote genoem is) op allerhande wyses benadeel, al was daar amptelik godsdiensvryheid. Teen die 1680's was dit duidelik dat die Franse koning Louis XIV, wat in die geskiedenis as die Sonkoning bekend staan, geen simpatie met die Hugenote gehad het nie. Gevolglik het duisende van hulle na die Nederlande uitgewyk. Hierdie uitstroming het geweldig toegeneem toe Louis XIV in 1685 die Edik van Nantes wat die Hugenote se godsdiensvryheid gewaarborg het, herroep het.

Al was talle van die Hugenote uit die middelklas of selfs uit die Franse adel afkomstig kon Nederland nie aan almal 'n heenkome bied nie. Sommige het na Amerika emigreer Die Verenigde Oos-lndiese Kompanjie, wat die Nederlandse kolonie aan die Kaap behee het, het aangebied om 'n klein aantal hier te vestig. Sowat 200 Hugenote-gesinne he uiteindelik van die geleentheid om gratis na die Kaap te kom, waar hulle gratis plase soi ontvang, gebruik gemaak. Die seilskip Voorschoten het op 13 April 1688 die eerste groep Franse Hugenote in Saldanhabaai afgelaai.

Aan die Kaap is die Hugenote tussen die Nederlandse koloniste versprei, met die meerderheid wat in die distrik Stellenbosch in De Fransche Hoek (vandag Franschhoek) gevestig is. Goewerneur Simon van der Stel en sy opvolgers het hulle gedwing om te verhollands, 'n proses wat binne twee geslagte afgehandel was. Die Hugenote was 'n waardevolle toevoeging tot die koloniste-bevolking aan die Kaap en talle van hulle het spoedig leiersposisies in die landbou (veral wynbou) en die gemeenskapslewe gevul.

Die Hugenote-monument, wat daardie groep stamouers van die Afrikanergemeenskap huldig, is gevul met simboliek. Die vrouefiguur verpersoonlik die gees van godsdiens en gewetensvryheid. Die Bybel in haar regterhand en die verbreekte ketting in haar linkerhand simboliseer die inspirasie van die Heilige Skrif en die einde van gebondenheid aan die Katolisisme. Die aardbol toon Frankryk, waar die Hugenote vandaan gekom het, Afrika, waar hulle hulle gevestig het en een van die skepe waarmee hulle hierheen gevaar het. Agter die vrou is daar vier slanke, 12-meter-hoëpilare, wat deur drie lugboë verbind word. Dit simboliseer die goddelike Drie-eenheid. Die middelste boog word deur 'n son en 'n kruis bekroon. Dit stel die Christelike geloof en Son van Geregtigheid voor.