MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (20)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

AFRIKAANSE TAALMONUMENT - PAARL

Ligging: Op die Paarlberg, by die bopunt van die Gabbema Doordriftpad.
Toegang: Die monument staan in omheinde gebied en is net bedags oop. 'n Toegangsfooi is betaalbaar.
Geriewe: Daar is geriewe soos toilette by die monument.
Ontwerper: Die argitek Jan van Wijk.
Onthul: 10 Oktober 1975 deur die Eerste Minister, BJ. Vorster.

Monumente om spesifieke tale te huldig is geen algemene internasionale verskynsel nie. Tog is daar in Suid-Afrika minstens 30 gedenktekens om die ontstaan en vestiging van die Afrikaanse taal te gedenk. Die mees sigbare en indrukwekkende daarvan is ongetwyfeld die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg in die Kaap. Dit is opgerig om aan die behoefte te voldoen om 'n waardige monument vir die ontwikkeling van Afrikaans tot skryftaal en die vertaling van die Bybel in Afrikaans in herinnering te roep.

Die Afrikaanse Taalmonumentkomitee wat die oprigting van hierdie gedenkteken beheer het, het op Paarlberg as oprigtingsplek besluit omdat hierdie omgewing van deurslaggewende belang in die ontwikkelingsgeskiedenis van die Afrikaanse taal was. In 1965 het die komitee die volgende ontwerpriglyn opgestel: " 'n Simboliese monument word beoog. Dit sluit 'n abstrakte skepping nie in nie. Die monument, of deel daarvan, sal sterk belyn moet wees om van veraf sigbaar wees. Die visuele aspek is van belang. Die funksionele speel geen rol nie. Materiaal en afwerking moet duursaam wees."

Die ontwerp wat die argitek Jan van Wijk voorgelê het, is aanvaar. Dit is geïnspireer deur die tydlose terrein met ronde granietrotse waar die monument gebou sou word deur die skrywer C.J. Langenhoven se vergelyking van Afrikaans met 'n "snelstygende boog" en die skrywer N.P. van Wyk Louw se beskrywing van Afrikaans as  " 'n oorbrug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika."

Soos die monument vandag daar staan verteenwoordig die drie suile links die tale en kulture van die "helder Weste". Die drie rondings op die podium aan die regterkant verteenwoordig tale en kulture van die "magiese Afrika". Die enkele suil op die trapaantrede verteenwoordig die ingevoerde Maleisiese tale. Die bopunt van die trapaantrede simboliseer die "brug" tussen die Weste en Afrika wat uitloop op die "snel stygende boog" van die hoofsuil. Dit is 57 meter hoog en eindig in 'n geronde wortelpunt. Aanhalings uit Langenhoven en N.P. van Wyk Louw se beskrywings is op 'n brons plaat voor die monument aangebring. By die trapaantrede is die geskiedkundige woorde van J.H. (Onze Jan) Hofmeyer in brons letters aangebring: Dit is ons Erns.