MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (19)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

VLOEDMONUMENT - LAINGSBURG

Ligging: Voor die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Laingsburg, langs die Nl.
GPS-koordinate: S33°19.648, E2CT85.853.
Toegang: Die monument staan op die kerkterrein en is permanent toeganklik. Geen toegangsfooi.
Geriewe: Toilette en winkels in die nabyheid.

Die bewoording op hierdie monument lui: "Ter gedagtenis aan lidmate van hierdie gemeente wat saam met hul leraar ds Malan Jacobs in die vloedramp van 25 Jan 1981 verdrink het. Openbaring 22 vers 1: 'n Rivier uit die troon van God."

Dit was op 'n Sondag, naastenby die normale middagetenstyd, dat die muur van vloedwater die normaalweg droë Karoodorp Laingsburg met verwoestende krag getref het. Die Buffelsrivier loop deur Laingsburg. Hierdie rivier is gewoonlik nie standhoudend nie. Dieselfde geld vir die Baviaansrivier wat net bokant Laingsburg in die Buffelsrivier invloei. Die vloed was die gevolg van'n wolkbreuk noordoos van Laingsburg in die opvanggebied van beide daardie riviere. Niemand in die dorp was skynbaar bewus van die vloedwater wat op hulle afgepyl het nie.

Toe die eerste water die dorp bereik het, het die inwoners steeds nie besef welke verskrikking op hulle wag nie. Ds Malan Jacobs van die plaaslike Nederduitse Gereformeerde Kerk en enkele van sy kerkraadslede het hulle na die ouetehuis, wat vlak langs die rivier gestaan het, gehaas om te gaan kyk of hulle kan hulp verleen. Dit was tevergeefs. Binne minute is hulle saam met die inwoners van die ouetehuis deur die vloedwater meegesleur. Dieselfde lot het meer as 'n honderd Laingsburgers getref. Net enkele van daardie ongelukkiges het met hulle lewe daarvan afgekom. Altesaam 104 het verdrink of is onder slik en modder begrawe. Van daardie 104 is net 32 se lyke agterna gevind.

Die skade aan die dorp was aansienlik. Altesaam 185 huise, die ouetehuis en 23 kantore is totaal verwoes. Die Groot Trek Eeufeesmonument en talle grafstene in die munisipale begraafplaas het weggespoel. Net 21 huise asook die statige gebou van die Nederduits Gereformeerde Kerk het relatief ongeskonde staande gebly. Talle ander geboue, waaronder die spoorwegstasiegebou en die Lutherse kerk, is erg beskadig.

Ten spyte van die groot skade en die persoonlike hartseer wat die oorgrote meerderheid Laingsburgers moes verwerk het die dorp verbasend vinnig herstel. Beide die staat en die privaatsektor het mildelik tot noodleniging bygedra. Die dagblad Die Burger het byvoorbeeld drie miljoen Rand ingesamel. Die monument kan ook as 'n gedenkteken vir die vasberadenheid van 'n verslae gemeenskap beskou word.