MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (17)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

CHRISTIAAN DE WET: RUITERBEELD, BLOEMFONTEIN

Ligging: In die noordwestelike hoek van die Vierde Raadsaal-terrein op die hoek van Pres. Brand- en Charlesstraat.
Toegang: Die standbeeld is nie omhein nie en permanent toe-ganklik. Geen toegangsfooi.
Geriewe: Toilette en winkels in die nabyheid.
Beeldhouer: Coert Steynberg.
Onthulling: 1954 deur Izak de Wet, enigste oorlewende seun van Christiaan de Wet.

Christiaan de Wet was op sy dag een van die mees bekende en gerespekteerde lede van die Afrikanergemeenskap - 'n man wie se roem tot buite die Afrika-kontinent gestrek het.

'n Goeie aanduiding van sy prestige is dat daar selfs in Nederland 'n standbeeld van hom opgerig is wat steeds bestaan.

De Wet is op 7 Oktober 1854 op 'n plaas in die distrik Smithfield gebore. As jong man het hy gaan boer asook vir 'n tyd lank op die diamantvelde by Kimberley transport gery. In 1880 het hy na die distrik Heidelberg in Transvaal verhuis. Hy het kort daarna aan die Eerste Vryheidsoorlog deelgeneem en was op 27 Februarie 1881 een van die burgers wat die Britte op Majuba die loef afgesteek het.

Ná die oorlog het De Wet 'n lid van die Transvaalse Volksraad geword, maar toe na die Vrystaat terug verhuis.

In 1889 het hy lid van die Vrystaatse Volksraad geword.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in Oktober 1899 is De Wet as 'n gewone burger na die Natalse front, maar hy het vinnig opgang gemaak. Kort voor die tragiese oorgawe van generaal Piet Cronje aan die Britte by Paardeberg in die Wes-Vrystaat in Februarie 1900 het De Wet die Hoofkommandant van die Vrystaatse magte geword. Hy het groot roem guerillavegter verwerf en was'n vertroueling van president Steyn.

Toe Steyn kort voor die einde van die oorlog weens swak gesondheid uit sy pos bedank het, het De Wet die waarnemende president van die Vrystaat geword.

Ná die Tweede Vryheidsoorlog het De Wet sy boerdery heropgebou en ook 'n bedrywige rol in die landspolitiek gespeel.

As volgeling van generaal Barry Hertzog se beleid van Suid-Afrika Eerste het De Wet se politieke weë geskei van dié van sy eertydse strydkamerade, generaals Louis Botha en Jan Smuts. In 1914 het hy die uiterste stap geneem om 'n gewapende protes teen die Botha-regering se steun vir Brittanje in die Eerste Wêreldoorlog te lei. In hierdie Afrikaner-rebellie is De Wet se een seun dood en hy self het ná sy gevangeneming 'n paar maande tronkstraf uitgedien.

De Wet is in 1922 as 'n verarmde bejaarde oorlede. Sy ondersteuners het hom egter nie vergeet nie. Hy is by die voet van die Vrouemonumentin Bloemfontein begrawe. Hierdie standbeeld, wat hom op die rug van sy beroemde perd Fleur uitbeeld, is presies 100 jaar na sy geboortedag onthul.