MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (16)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

NASIONALE VROUEMONUMENT - BLOEMFONTEIN

Ligging: Ingang uit Monumentstraat.
GPS-koördinate: S29°08.397, E26°12.569.
Toegang en geriewe: Daar is toegangsbeheer by die monument, maar dit is bedags oop. Geen toegangsfooi word gehef nie. Daar is geriewe soos toilette en 'n kafeteria.

Een van die mees ingrypende en terselfdertyd tragiese gebeure in die geskiedenis van die Afrikanergemeenskap was die dood van bykans 30 000 vroue en kinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog, waarvan 90% in konsentrasiekampe gesterf net. Die Britse militêre owerhede het altesaam 50 sodanige kampe spesifiek vir blankes opgerig. Daar is by die meeste van hierdie kampe steeds begraafplase en/of gedenktekens.

Daarbenewens is daar in talle dorpe en stede in Suid-Afrika huldebetuigende strukture vir die slagoffers van die Britse konsentrasiekampstelsel opgerig. Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein is die grootste asook die bekendste van daardie strukture.

Dit is 'n ontroerende paar oomblikke wanneer mens deur die paadjie oppad na die hoogste punt van die monument stap en die inskrywings op die gedenkplate weerskante die paadjie lees. Die plate bevat die getalle van sterftes in elke kamp afsonderlik.

Die inisiatief om die Vrouemonument te laat oprig het van oud-president M.T. Steyn van die Oranje-Vrystaat uitgegaan. 'n Komitee om die oprigting te behartig is in 1906 in Bloemfontein saamgestel. Hulle het 'n fondsinsamelingsveldtog van stapel gestuur asook 'n versoek aan beeldhouers en argitekte om met voorstelle vir die ontwerp vorendag te kom. Die komitee het die voorstel van die beeldhouer Anton van Wouwen en die argitek Frans Soff aanvaar.

Genoeg geld is teen 1911 ingesamel, soos Steyn dit gestel het, "Nie uit die rykdom van die rykes nie, maar uit die armoed van die armes".  Die oprigting kon toe voortgaan en op 16 Desember 1913 ook die onthulling. Emily Hobhouse sou die taak uitvoer, maar kon weens swak gesondheid nie die reis van Brittanje tot in Bloemfontein voltooi nie. Mevrou Rachel Isabella Steyn het gevolglik die monument onthul.

Die Vrouemonument huldig nie net vroue en kinders nie: vyf mense is daar begrawe. Hulle is Emily Hobhouse, Rachel Isabella Steyn, en dan die bekende Vrystaatse driemanskap: die staatsman M.T. Steyn, die godsman ds J.D. Kestell en die krygsman, Christiaan de Wet.