MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (15)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

SAREL CILLIERS GELOFTEMONUMENT: KROONSTAD

Ligging: Voor die Nederduits Gereformeerde Kerk, Crossstraat.
GPS-koordinate: S27°40.033, E2714.061.
Toegang: Hierdie terrein is omhein, maar die monument is goed sigbaar van buite indien die terrein gesluit is. Daar is voldoende parkering.
Geriewe: Geen op die terrein, maar voldoende in die nabye omgewing.
Beeldhouer: Coert Steynberg.
Onthul: 16 Desember 1950, deur die Minister van Finansies, N.C. Havenga.

Die aflegging van die Gelofte van Bloedrivier is een van die mees deurslaggewende gebeurtenisse in die geskiedenis van die Afrikanergemeenskap.

Die geskiedenis van die Gelofte word kortliks bespreek waar die Geloftemonument op Roete N4 ter sprake kom. Dit is die enigste monument wat poog om die aflegging uit te beeld, hierdie monument in Kroonstad in die Vrystaat. Dit staan voor die Nederduitse Gereformeerde Kerk, op kerk grond waar Sarel Arnoldus Cilliers lank na afloop van die Groot Trek as een van die eerste ouderlinge van die Kroonstadse gemeente dikwels beweeg het. Op hierdie monument word hy dan ook prominent uitgebeeld.

Sarel Cilliers is in 1801 in Daljosafat, Paarl, gebore. Hy was vyf jaar oud toe hy saam met sy ouers na die omgewing van Graaff-Reinet in die Ooskaap verhuis het. Ná sy huwelik in 1823 het hy noordwaarts getrek en naby die huidige dorp Colesberg gaan boer. In 1836 het hy en sy gesin die Kaapkolonie verlaat. In die suide van die Transgariep, soos die gebied noord van die Oranjerivier destyds genoem is, het hulle by Hendrik Potgieter se trekgeselskap aangesluit en saam verder noord beweeg.

Hierna het Cilliers die lief en leed van die Trek in al sy felheid beleef. Hy was in die laer by Vegkop toe die Matebele van Mzilikazi hulle geselskap in Oktober 1836 aangeval het.

In Februarie 1838 was hy 'n ooggetuie van die slagting wat die Zoeloekrygers met die sogenoemde Groot Moord by Bloukrans en langs die Boesmansrivier in die huidige Kwazulu-Natal onder die Voorrekkers aangerig het. Cilliers het inderdaad die Zoeloes help verdryf.

Aan die einde van 1838 het hy deelgeneem aan die Bloedrivierveldtog en as geestelike leier voorgegaan met die aflegging van die Gelofte. Daar is agterna vertel dat hy tydens die plegtigheid op 'n wa of op 'n kanon, soos hier uitgebeeld, gestaan het.

Ciliers het hom na afloop van die trek op die plaas Doornkloof, sowat 50 kilometer wes van Kroonstad, gevestig, waar hy in 1871 oorlede is.