Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika
EMILY HOBHOUSE-MONUMENT: KOPPIES
Ligging: Voor die NG-kerk, in die middel van die dorp, hoek van Kerkstraat en 2e Straat.
GPS-koordinate: S27°14.500, E27°34.375.
Toegang: Daar is geen toegangsbeheer nie. Voldoende parkering. Geriewe: Geen geriewe by die monument self nie, maarwel in die onmiddellike omgewing.
Inwyding: 1965.
Emily Hobhouse (1860-1926) was 'n Britse vrou wie se landgenote in 1899-1902 'n verwoestende oorlog teen die Afrikaner-Boererepublieke van stapel gestuur het. Nogtans het sy haarself binne 'n kort tydjie onder die Afrikaners as 'n heldin gevestig. Dit was hoofsaaklik omdat sy tydens die Tweede Vryheidsoorlog as die voorste en mees sigbare kampvegter teen die Britse militêre owerhede se verskroeide aarde-beleid en vestiging van konsentrasiekampe na vore getree het; omdat sy met groot sukses noodlenigingswerk in die kampe verrig en tot 'n aansienlike verbetering in toestande in die kampe bygedra het; en weens haar opheffingswerk en vestiging van spin- en weefskole in die voormalige Boererepublieke ná die oorlog. Dit het die vestiging van 'n kantwerkskool in Koppies in die Vrystaat (of Oranjerivier-kolonie, soos dit tussen 1902 en 1910 genoem is) ingesluit.
Emily Hobhouse het weens swak gesondheid in 1905 na Brittanje teruggekeer, maar haar belangstelling in Suid-Afrikaanse sake tot aan die einde van haar lewe behou. Ná haar dood is sy veras en is haar as na Suid-Afrika gebring waar dit in 'n nissie in die Vroue-monument, Bloemfontein geplaas is. 'n Eenvoudige gedenkplaatjie met die bewoording "Hier rus Emily Hobhouse" dui haar 'graf' aan.
Die monument in Koppies gedenk die oprigting van die kantwerkskool. Die ysterklippe op die voetstuk is uit die oorspronklike fondament van die skoolgebou afkomstig. Die bronsplaat op die voetstuk van die monument bevat die volgende opskrif: "Hierdie gedenkteken is 'n nagedagtenis aan die Kantskool van Koppies 1909-1938. Dit bring hulde aan Emily Hobhouse. Dit betuig dank aan Johanna Rood wat die skool begin het. Die Iiefde en moed van hierdie twee dapper vroue sal deur die nageslag onthou word. Opgerig deur die Oranje Vroue Vereniging, tak Koppies".
Daar is ook 'n Emily Hobhouse-monument in Philippolis in die Suid-Vrystaat, waar sy 'n spin- en weefskool opgerig het.