MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (13)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG VREDESMONUMENT: VEREENIGING

Ligging: Op plein voor Burgersentrum, Stadsplein, ingang uit Joubertstraat, op hoek met Marketlaan, Vereeniging.

Toegang: Dit staan op 'n terrein wat deur 'n palissade-heining omring word. Toegang net moontlik indien vooraf bespreek. Bel Mary by 013-4503024. Goed sigbaar deur die heining. Voldoende parkering.

Geriewe: Geen geriewe by die monument self nie, maar voldoende in die omgewing.

Beeldhouer: Coert Steynberg.

Onthul: 1961, deur die Eerste Minister, H.F. Verwoerd.

Hierdie monument gedenk een van die mees dramatiese byeenkomste in die geskiedenis van die Afrikanergemeenskap, naamlik die vredesberaad wat in Mei 1902 by Vereeniging aan die Vaalrivier plaasgevind het. Die Tweede Vryheidsoorlog was teen daardie tyd reeds bykans drie jaar aan die gang, sonder dat 'n oorwinning vir die Boeremagte teen die Britse oormag in sig was.

In April 1902 het die regerings van die twee Boererepublieke in Klerksdorp byeengekom en besluit om met die Britse owerhede te beraadslaag oor voorwaardes waaronder die verwoestende oorlog tot 'n einde gebring kon word. Al waarop die twee kante kon ooreenkom was dat afgevaardigdes van die Boerekommando's op Vereeniging kon byeenkom om verder oor die kwessie te besin.

Die vergadering het op 15 Mei 'n aanvang geneem. Die 60 Boere-afgevaardigdes, 30 uit Transvaal en 30 uit die Vrystaat, het 'n regsgeleerde, generaal C.F. Beyers, tot voorsitter verkies. President Steyn het horn op grond van swak gesondheid van die verrigtinge onttrek en as president van die Oranje-Vrystaat bedank. Generaal Christiaan de Wet het hierna in sy plek waargeneem.

Die Britse owerhede het by monde van lord Milner en lord Kitchener laat weet dat die Boere sal moet toestem tot Britse onderdaanskap, wat die einde van die onafhanklike republieke sou beteken. Vir talle afgevaardigdes was dit onaanvaarbaar, maar aan die ander kant het leiersfigure soos generaal Koos de la Rey daarop gewys dat die bitter einde bereik is. Uiteindelik het 'n afvaardiging van die vredesberaad in Pretoria verder met die Britte onderhandel en het hulle op 'n vredesooreenkoms besluit wat, ten spyte van die verlies van hulle politieke vryheid, heelwat voordele vir die Boere sou inhou. Terug by Vereeniging moes die 60 afgevaardigdes besluit of hulle die voorwaardes aanvaar. Op die oggend van 31 Mei het hulle gestem. Die meerderheid vir vrede was 54 teen ses. Daardie selfde aand het die Republikeinse regerings by Melrose-huis in Pretoria die traktaat, wat as die Vrede van Vereeniging bekend geword het, onderteken.

Die vredesmonument stel 'n sterwende Boerekryger voor. Langs horn lê sygeweer, sy leë bandelier en sy hoed, simbolies van die wapens en uniform wat by Vereeniging neergelê is. Langs horn lê ook 'n krans, simbolies van die rou oor die verlies van onafhanklikheid. Maar uit die sterwende Boerekryger se hart styg daar 'n abstrakte figuur triomfantlik hemelwaarts. Daardie abstrakte figuur is simbolies van die Afrikanergemeenskap wat ná die oorlog opnuut verrys het. Die enigste inskripsie op die monument is die woorde: Gewond - maar onoorwonne. Vereeniging 31 Mei 1902.