MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (11)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

Andries en Marthinus Wessel Pretorius-standbeeld - Pretoria

Ligging: Voor die Stadsaal van Pretoria aan die westekant langs Paul Krugerstraat, tussen Visagiestraat en Minnaarstraat.
Toegang: Die plein voor die Stadsaal is permanent oop vir die publiek. Geen toegangsfooi.
Geriewe: Voldoende parkering maar geen toilette nie. Eetplekke in die nabye omgewing.
Beeldhouer: Coert Steynberg.
Onthul: 1955.

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (1798-1853) is op Graaff-Reinet gebore, in welke omgewing hy in die jare wat die Groot Trek voorafgegaan het, 'n leiersposisie beklee het. Hy en sy gesin, waaronder sy oudste seun, Marthinus Wessel Pretorius (1820-1901) het eers in die tweede helfte van 1838 uit die Kaapkolonie weggetrek.

Onmiddellik na sy aankoms by die Voortrekkers in Natal is hy deur die Volksraad as aanvoerder van die veldtog teen die Zoeloes van koning Dingane aangestel. Dit was op sy inisiatief wat die Gelofte tydens hierdie veldtog afgelê is en onder sy leiding wat die Voortrekkers die Zoeloemag in die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 verslaan het.

Andries Pretorius het hierna tot met sy dood is 1853 'n leiersrol vervul. Hy is op sy plaas Grootplaas, wat tans deur die Hartbeespoortdam bedek word, begrawe, maar in 1891 in die Ou Begraafplaas in Pretoria herbegrawe.

Marthinus Wessel Pretorius het sy vader in 1853 as kommandant-generaal vir Potchefstroom en Rustenburg opgevolg. In 1855 het hy twee plase aangeskaf waarop hy 'n sentrale, nuwe dorp wou laat aanlê. Die Volksraad het die dorp op sy versoek Pretoria Philadelphia, wat na die Pretoriusfamilie verwys, genoem.

In 1857 het die Volksraad hom aangestel as president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal), wat terselfdertyd tot stand gekom het. Sy regering in hierdie pioniersjare is deur storm en drang gekenmerk en het in 1871 geëindig toe hy bedank het.

Hierna was hy weer kortstondig op die voorgrond toe hy in 1880-81, tydens die Eerste Vryheidsoorlog, as lid van die Driemanskap gedien het.

Ná die oorlog het hy van die openbare toneel verdwyn. Hy is op Potchefstroom oorlede en is ook daar begrawe. Die beeldegroep huldig die man na wie Pretoria in die eerste plek genoem is, Andries Pretorius, asook die stigter van die stad, sy seun Marthinus Wessel Pretorius.