MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (9)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

C F BEYERS-MONUMENT - NYLSTROOM

Ligging: By ingang van die konsentrasiekamp-begraafplaas aan die westekant langs die R101, wat noord-suid deur die dorp loop.
GPS-Koordinate: S24"42.161, E28°24.164.
Toegang: Daar is geen toegangsbeheer nie en oorgenoeg parkeerplek.
Geriewe: Daar is geen geriewe by die monument nie, maar voldoende in die nabye omgewing.
Onthul: 1987, deur luitenant-generaal P.W. van der Westhuizen.

Christiaan Frederik Beyers is in 1869 in die distrik Stellenbosch gebore en was 'n student by die Victoria-kollege in daardie dorp waar hy 'n tydgenoot van Jan Smuts was. In 1888 het hy as 19-jarige jongeling na die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR - Transvaal) verhuis. Hy het aanvanklik in Pretoria gewoon waar hy hom as prokureur bekwaam het. Op hierdie stadium was hy'n gedugte rugbyspeler. In 1891 het hy tydens die eerste toer van die Britse Leeus na Suid-Afrika vir die Transvaalspan teen die besoekers gespeel.

Beyers het in 1894 by 'n prokureursfirma in Boksburg aangesluit. Tydens die Jameson-inval aan die einde van 1895 het hy vrywillige kommandodiens verrig en al het hy aan geen gevegte deelgeneem nie, op grond van sy diens volle burgerskap van die ZAR ontvang.

Dit was tydens die Tweede Vryheidsoorlog wat Beyers 'n openbare figuur van naam geword het. Hy was aanvanklik 'n gewone lid van die Boksburg-kommando maar sy kragdadigheid en sterk persoonlikheid het hom sodanig laat uitstyg dat kommandant-generaal Louis Botha hom in September 1900 tot assistent-kommandant-generaal vir die distrikte Waterberg en Soutpansberg benoem het. Toe die Boere-afgevaardigdes in Mei 1902 by Vereeniging byeengekom het om oor die beëindiging van die oorlog te beraadslaag, het hulle hom tot voorsitter van die vredesberaad verkies.

Ná die oorlog het Beyers 'n leiersfiguur gebly. Ná die toekenning van selfbestuur aan Transvaal in 1907 het hy lid van die WetgewendeVergadering geword en is hy as Speaker verkies. Ná Uniewording in 1910 is hy eweneens tot lid van die Volksraad verkies. In 1912 het hy die eerste kommandant-generaal van die pasgestigte Aktiewe Burgermag van Suid-Afrika geword.

Aangesien Beyers nie ten gunste van 'n bondgenootskap met Brittanje was toe% die Eerste Wêreldoorlog in Augustus 1914 uitgebreek het nie, het hy as kommandant-generaal bedank. Kort daarna het hy 'n leiersfiguur in die Afrikaner-Rebellie geword. Dit het direk tot sy dood gelei. In Desember 1914 het regeringsoldate hom naby Makwassie teen die Vaalrivier vasgekeer. Sy poging om die vol rivierte perd oor te steek he tmisluk toe hy aan hartversaking gesterf het voordat hy die oorkantste oewer kon bereik. Hy is op 'n plaas naby Makwassie begrawe.

Ander besienswaardighede in die onmiddellike omgewing:

•          Die ou begraafplaas wat onder meer die Nylstroomse konsentrasiekampbegraafplaas met sy gedenktekens en burgergrafte insluit.

•          Wêreldoorlog en ander oorlog-gedenktekens.