MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (7)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

PIET EN HENDRINA JOUBERT-STANDBEELD

Ligging: Op die Burgerplein, 'n tuingevul met beelde en 'n museum voor die munisipale kantore op die suidwestelike hoek van Thabo Mbeki- en Landdros Marestraat in Pietersburg.
GPS-koordinate: S23°54.720, E29°27.105.
Toegang: Die Burgerplein is omhein maar bedags oop. Geen toegangsfooi. Die parkeerterrein kan besig raak.
Geriewe: Toilette en winkels in die nabyheid.
Beeldhouer: Danie de Jager.
Inwyding: 1986, deur die Minister van Verdediging, generaal Magnus Malan.

Petrus Jacobus (Piet) Joubert (1831-1900) was die Kommandant-Generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR -Transvaal) van 1883 tot met sy dood in 1900. Vroeër in sy lewe was hy in die regeringstyd van president T.F. Burgers vir 'n kort tydjie die vise-president van die ZAR. Die Britte het die ZAR in 1877 geannekseer.

In 1880 het die Boere by Paardekraal (in die latere Krugersdorp) besluit om hulle self weer vry te verklaar. In die oorlog teen die Britte wat gevolg het (die Eerste Vryheidsoorlog) was Joubert die Boere-aanvoerder met die titel kommandant-generaal. Op 27 Februarie 1881 het die Boere onder sy leiding die beslissende oorwinning oor die Britte in die Slag van Majuba behaal.

Joubert se vrou Hendrina het hom telkens op veldtogte vergesel. Volgens oorlewering was dit sy wat op die oggend van 27 Februarie 1881 die eerste die Britse soldate op die kruin van Majuba gewaar en aan Joubert gewys het.

Daardie moment word op dié monument uitgebeeld.

Pietersburg is in 1886 gestig en na Piet Joubert vernoem.

Ander besienswaardighede in die onmiddellike omgewing:

•          Daar is talle beelde in hierdie beeldetuin, waaronder borsbeelde van Barend Vorster, D.S. Mare, Louis Tregardt, Paul Krugeren W.E. Bok. Voorts is daar'n standbeeld van Tom Naude en is die ou NG-kerkgebou omskep in 'n fotografiemuseum met talle puikfoto's van Pietersburg in sy vroeë dae.

•          Daar is ook talle ander besienswaardighede van belang vir die Afrikanergemeenskap in die dorp, waaronder 'n Anglo-Boereoorlog konsentrasiekampbegraafplaas met besondere gedenktekens.