MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (6)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

MOORDDRIFT MONUMENT

Ligging: Langs ou nasionale pad, tans die R101, sowat agt kilometer suid van Potgietersrus, vlak suid van die brug oor die Nylrivier.
GPS-Koordinate:   524"16.556, E28"58.471.
Toegang:  Die monument  staan vlak langs die teerpad. Geen toegangsbeheer of toegangsfooi nie.
Geriewe:  Genoeg parkeerplek. Geen geriewe.
Opgerig: deur die Geloftefeeskomitee van Potgietersrus.
Onthul:   1937.

Hierdie monument bring hulde aan die slagoffers van een van die mees gewelddadige insidente van swart op wit in die pioniersgeskiedenisvan die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal).

In Oktober 1854 was 'n Boerejaggeselskapbestaande uit 23 mans, vroue en kinders van die Soutpansberg in die noorde na Swartruggens in die destydse Wes-Transvaal oppad. Die wapad wat op daardie tydstip deur reisigersgebruik is, het sowat agt kilometer suid van die latere dorp Potgietersrus die Nylrivier by 'n drif oorgesteek. Die hoofman van die Kekana-Ndebeles, Mokopane, en sy onderdane het naby die drif gewoon.

Mokopane het die gewoonte gehad om reisigers te laat betaal om deur sy gebied te trek. Daar bestaan geen bewyse of mondelinge oorlewering onder die Ndebeles dat hierdie spesifieke jaggeselskap geweier het om te betaal nie. Dit wil egter voorkom asof Mokopane daarop uit was om sy prestige deur middel van magsvertoon te vergroot. Feit is dat sy krygers die jaggeselskap aangeval en almal uitgemoor het. Getuienis dui daarop dat die ses klein kindertjies aan hulle voete gegryp is en dat hulle skedeltjies teen twee kameeldoringbome digby die drif vergruis is. Die volwassenes se Iyke is in die drif, wat sedertdien as Moorddrif bekendstaan, gegooi.

In die bespreking van die Piet Potgieter-monument is aangedui hoe die Boeregemeenskap op die Moorddrifgebeure reageer het. 'n Groot aantal Ndebeles het weens 'n gebrek aan kos en water in die grot, waar die Boerekommando's hulle beleer het, omgekom. Hulle het egter volstrek bly weier om vir Mokopane aan die Boere uit te lewer. Volgens oorlewering het Mokopane gesterf toe hy 'n beker gif gedrink het nĂ¡ die verliese van sy stam. Sy Iyk is nooit gevind nie. Die grot staan sedertdien bekend as Makapansgrot.

In 1889 is 'n beskeie gedenkteken tussen die twee kameeldoringbome opgerig. Hierdie monument is in 1937 vervang met 'n klipmonument van sandsteen. Die koperplaat op die monument, wat inligting oor die gebeure verstrek het, het jare later verdwyn en is met 'n granietgedenksteen aan die voet van die monument vervang. Simboliese grafsteentjies vir die 23 slagoffers is onlangs daar opgerig. Die twee kameeldoringbome het beide met die milleniumwisseling gevrek.