Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika
Krugerstandbeeld - Pretoria
Ligging: Op Kerkplein, die middelpuntvan Pretoria. Toegang: Kerkplein is perma¬nent oop vir die publiek. Geen toegangsfooi.
Geriewe: Parkering rondom Kerkplein. Daar is toilette en eetplekke in die nabye omgewing.
Beeldhouer: Anton van Wouw.
Onthul: 1954, deur die Eerste Minister, D.F. Malan.
Stephanus Johannes Paulus (Paul) Kruger (1825-1904) is sekerlik een van die belangrikste figure in die geskiedenis van die Afrikanergemeenskap. Hy is in die Ooskaap gebore en het as seun saam met sy ouers die Groot Trek meegemaak.
As jong man het hy spoedig 'n leiersrol in die gemeenskapslewe van die Zuid-Afrikaansche Republiek gespeel. Reeds voor sy 40ste verjaarsdag is hy tot kommandant-generaal van die Republiek verkies en tydens die Eerste Vryheidsoorlog was hy as vise-president die waarnemende regeringshoof. Van 1883 af tot aan die einde van die bestaan van die ZARin 1902 het hy as staatspresident gedien.
Hy is in ballingskap in Europa oorlede, want hy wou nie ná die Tweede Vryheidsoorlog na Suid-Afrika terugkeer om 'n Britse onderdaan te word nie.
Die Krugerstandbeeld op Kerkplein het 'n merkwaardige geskiedenis. Die voorstel om dit te laat oprig was van die nyweraar Sammy Marks afkomstig, wat dit self gefinansier en vir Van Wouw as beeldhouer aangestel het.
Hy het vyf beelde gemaak - 'n staande Kruger in formele drag geklee, asook vier hoekwagte om rondom die voetstuk van die beeld te plaas, naamlik twee Boerebrandwagte uit die Voortrekkertyd en twee uit die tydperk van die Eerste Vryheidsoorlog. Daarbenewens het hy vier bronspanele gemaak wat hoogtepunte uit Kruger se loopbaan uitbeeld en wat rondom die voetstuk geplaas sou word.
Van Wouw het die beelde in Europa laat giet, vanwaar dit na Suid-Afrika verskeep is. Teen die tyd dat dit in Delagoabaai (vandag Maputo, in Mosambiek) aangekom het, het die Twee Vryheidsoorlog reeds uttgebreek. Gevolglik is dit lank daar by die hawe gestoor. Ná die oorlog het die Britse bevelvoerder, lord Kitchener, die brandwagbeelde na Brittanje geneem waar dit opgerig is. Die beeld van Kruger is later na Pretoria gebring waar dit in 1913 in Prinsepark opgerig is. Generaa! Smuts het, nadat hy selfs die Britse eerste minister gevra het om in te tree, daarin geslaag om die vier brandwagte na Suid-Afrika te laat terugstuur. Die beeldgroep is kort daarna, in 1925, op die plein voor die spoorwegstasie in Pretoria opgerig. Die publiek het egter toenemend daarop aangedring dat Kruger op Kerkplein hoort, wat dan ook op die finale verskuiwing in 1954 uitgeloop het.
Ander besienswaardighede in die onmiddellike omgewing:
• Die historiese geboue rondom Kerkplein, waaronder die Ou Raadsaal en die Paleis van Justisie.
• Die Krugerhuismuseum in Kerkstraat-Wes.
• Die grafte van Kruger asook ander bekendes soos Andries Pretorius in die Ou Begraafplaas,Kerkstraat-Wes.