Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika
MAJUBA
Ligging: Op die kruin van die berg Majuba. GPS-Koordinate: S27°27.969 E29"50.402 (die ingang na die Majuba-terrein). Toegang: Die berg Majuba staan in 'n beheerde gebied. 'n Toegangsfooi is betaalbaar. Geriewe: Daar is geen geriewe op die berg nie, maar daar is ablusie-geriewe en kampeerplek aan die voet van die berg asook 'n steil paadjie wat na bo lei. Inwyding: 1935.
Die monument is tydens die Majuba-reünie op 7-8 Oktober 1935 deur oudstryders en lede van die publiek opgerig. Dit staan op die historiese terrein van die bekende oorwinning van die Transvaalse Boere onder bevel van kommandant-generaal Piet Joubert oor die Britte op Sondag 27 Februarie 1881.
Dit was tydens die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-81.
Die Britse magte wat in Transvaal teenwoordig tydens uitbreek van die oorlog in Desember 1880, was magteloos teen die Boere en is vir die volle duur van die oorlog in die dorpe waar hulle gestasioneer was, vasgekeer of beleër. Gevolglik was die Britse militêre owerhede in Suid-Afrika genoodsaak om 'n leermag te stuur om so gou as moontlik daardie Britse garnisoene te gaan ontset. Die taak is opgedra aan generaal sir George Pomeroy Colley. Hy was 'n belowende maar onervare offisier.
Colley het talle probleme ondervind in sy pogings om 'n doeltreffende veldmag vir sy offensief in Transvaal in te mobiliseer. Boonop was daar net een wapad wat hy kon gebruik om die Drakensberg by Laingsnek, aan die voet van Majuba, oor te steek. Colley het hom egter nie daardeur laat afskrik nie en boonop die Boere se krygsvaardigheid onderskat. Gevolglik het hy aan die einde van Januarie met sy eerste poging om deur te dring by Laingsnek misluk en sowat tien dae later 'n roemlose nederlaag teen 'n Boere-kommando onder leiding van generaal Nicolaas Smit by Schuinshoogte gely.
Hierna was dit asof Colley desperaat geword het in sy strewe om die Boere te verslaan. Ná donker die aand van 26 Februarie het hy 'n taakmag in sy kamp onderkant Majuba versamel en persoonlik in die donker na die bergkruin gelei. Hulle was skaars daar in posisie toe die Boere hulle gewaar en onmiddellik tot die aanval oorgegaan het. In die loop van die oggend het dosyne Boere daarin geslaag om ongesiens teen die berg op te klim. Kort na die middaguur was hulle feitlik bo. Die Britte was verbluf toe hulle dit besef het en kon nie effektief weerstand bied toe die Boere oor die kruinrand op hulle afgestorm het nie. Die oorwinning is binne minder as 'n halfuur beklink.
Tydens die geveg op die kruin van Majuba is 92 Britse soldate, waaronder hulle aanvoerder Colley, dood en 134 gewond. Die Boereverlies was een burger dood, een dodelik gewond en vyf gewond, maar so lig dat hulle herstel het. Dit was die laaste geveg van die oorlog en is deur 'n wapenstilstand en vredesonderhandelinge gevolg.