MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (3)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

LOUIS TRICHARDT-SKOOLMONUMENT

Ligging: In 'n monumentetuin op 'n plein direk suid van die NG-kerk, langs Erasmusstraat, tussen Burger- en Kroghstraat. GPS-koordinate: S23°02.536, E29"54.433. Toegang: Die monumentetuin is nie omhein nie en permanent toeganklik. Geen toegangsfooi. Geriewe: Toilette en winkels in die nabyheid. Oprigting: In 1994 opgerig deur die Rapport-ryerskorps van Louis Trichardt in samewerking met die Stadsraad van Louis Trichardt.

Louis Tregardt (of Trichardt, soos sy nageslag die van gespel het) was die enigste Voortrekkerleier wat 'n dagboek bygehou het. In hierdie dagboek het hy in Maart en April 1837 enkele opmerkings oor die oprigting van 'n skoolgebou gemaak. Houtpale en dekgras is vir hierdie doel gekap en met osse nadergesleep. Op Saterdag 22 April was die gebou gereed en skryf Tregardt: "... ook hed ouwe Daniel (Pfeffer) de kinderen en de School gezit: Gusstaf, Louw Albach en Diederik (en) de anderen." Hierdie was die eerste skoolgeboutjie in Suid-Afrika noord van die Garieprivier. Daar is vandag geen teken meer daarvan tesien nie.

Louis Tregardt was een van die voorste Voortrekkers. Hy en sy gesin, vergesel van enkele ander gesinne, het die Kaapkolonie in 1835 verlaat en noordwaarts koers gekies. In die omgewing van die Vaalrivier het hulle die trekgeselskap van Hans van Rensburg raakgeloop. Aangesien beide groepe beplan het om via Portugees-Oos-Afrika (vandag Mosambiek) met die buitewêreld kontak te maak, het hulle vir 'n ruk lank saam verder noordwaarts getrek. Die Van Rensburgs is op 'n stadium vooruit en het van die Soutpansberg af ooswaarts geswenk. Hulle het die Limpoporivier in die huidige Mosambiek bereik en is almal daar uitgemoor. Sommige van die Van Rensburgtrek se gesinne het teen daardie tyd by Tregardt aangesluit.

In Junie 1836 het die Voortrekkerleier A.H. Potgieter vir Tregardt en sy mense by die Soutpansberge raakgeloop en daarna ooreengekom dat hy sy trekgeselskap sou gaan haal. Die Tregardts het tot Augustus 1837 suid van die Soutpansberg vir Potgieter gewag. Hulle het op verskillende plekke kamp opgeslaan, waaronder vir 'n paar maande langs die Dorpsrivier, sowat vier kilometer suidwes van die monumentjie se staanplek. Dit is daar waar hulle die skooltjie gebou het.

In Augustus 1837 het Tregardt en sy mense besluit om na Delagoabaai (tans Maputo) te trek ten einde voorrade te gaan aanvul. Hulle was agt maande op ongebaande wee aan't trek en moes onder meer die Oos-Transvaalse Drakensberge oorsteek. In Mosambiek het 'n groot aantal van hulle, waaronder Tregardt self en sy vrou, slagoffers van malaria geword. Sy trek het uiteindelik niks blywends opgelewer nie. Tregardt sal onthou word as die daadkragtige, dagboekskrywende pionier, onstuitbaar en onverskrokke, maar 'n tragiese held.