MONUMENTE VAN SUID-AFRIKA (2)

Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika

VEGKOP

Ligging: Langs die R725-pad 24 kilometer suid van Heilbron.
Toegang: Die terrein waarop die monument staan is omhein en daar is toegangbeheer.
Geriewe: Daar is geriewe soos toilette op die terrein.
Beeldhouer van die Voortrekker en die ses reliëfbeelde: Coert Steynberg
Inwyding: 1984

Verskeie monumente is in die loop van jare by Vegkop opgerig. Eerstens is daar in 1883 'n monument bo-op die kruin van die rant opgerig. Dit is in 1912 verskuif en herbou op die plek waar dit vandag nog staan, wat naastenby in die middel van die slagveld was.

Tweedens is daar in 1938 tydens die Groot Trek-eeufees, 'n piramide van klippe deur die feesgangers gebou. In 1984 is die hele terrein indringend gerestoureer en is 'n nuwe Vegkopmonument aan die voet van Vegkop gebou. Dit bestaan uit 'n simboliese klipkoppie met die beeld van 'n Voortrekker daarop.

Die Slag by Vegkop het in Oktober 1836, tydens die Groot Trek, plaasgevind. Op hierdie dag het nagenoeg 6000 Matebelekrygers die walaer van Andries Hendrik Potgieter aangeval. Daar was hoogstens 40 weerbare Voortrekkermans, waaronder Sarel Ciliiers en Casper Kruger, in die laer. Hulle het egter daarin geslaag om met die hulp van hulle vroue en kinders die Matebele-aanval suksesvol die hoof te bied. Een van die kinders in die laer was die elfjarige Paul, die seun van Casper Kruger, wat later staatspresident van die Zuid Afrikaansche Republiek geword het.

Die Voortrekkeroorwinning by Vegkop het teen 'n hoë prys gekom. Eerstens het daar twee Voortrekkermans gesneuwel naamlik Nicolaas Potgieter ('n seun van A.H. Potgieter) en Piet Botha (sy een skoonseun). Hulle is dieselfde aand naby die laer begrawe. Hulle grafte kan op die terrein besigtig word.

Tweedens is al die Voortrekkers se vee gebuit. Dit was vir sommige van hulle 'n finansiële ramp waarvan hulle nooit herstel het nie. Met die hulp van die Barolongs van hoofman Moroka van Thaba Nchu, wat met: trekbeeste kom help het, kon die Voortrekkers darem daarheen terugtrek en mettter tyd weer op die been kom.

Vir die Matebeles was die slag van Vegkop op die langtermyn 'n groter terugslag as wat dit vir die Voortrekkers was. Daar het na raming sowat 430 van Mzilikazi se krygers in die geveg gesneuwel. Van groter belang was die twee ekspedisies wat die Voortrekkers in 1837 onderneem het om hulle vee by die Matebeles te gaan terugneem. By elke geleentheid is die Matebeles verslaan en het hulle groot verliese gely - so groot dat hulle na die tweede ekspedisie besluit om weg te trek en hulle in die weste van die huidige Zimbabwe te gaan vestig.