Lees reeks by Monumente van Suid-Afrika
BLOEDRIVIER
Waar ons tans drie dae voor 16 Desember weer voorberei vir die herdenking van die Slag van Bloedrivier, sekerlik die bekendste en mees bepalende veldslag in ons volksgeskiedenis, begin ons met 'n reeks oor die monumente van Suid-Afrika – die meeste daarvan nie meer onder ons jongmense bekende bakens nie. Daarby is sommige van hierdie geskiedkundige monumente reeds geskend in die Nuwe Suid-Afrika onder 'n swart kommunistiese owerheid wat hul beywer om die Afrikaner se geskiedenis uit te wis. Daarom is dit belangrik om te bewaar en te onthou wat ons kan, want wanneer ons volk weer vry is, sal ons hierdie monumente herstel net soos dit was.
Die volgende inligting oor die Bloedriviermonument is beskikbaar: 
Ligging: Naby Dundee
GPS-koördinate: S28"06 13.77 E30"32 02.45
Toegang: Die monument staan op 'n beheerde terrein. 'n Toegangsfooi is betaalbaar.
Geriewe: Toilette, 'n restaurant asook oornaggeriewe op die terrein.
Beeldhouer: Coert Steynberg.
Inwyding: 1947.
Die Zoeloevolk se mag is finaal by Bloedrivier gebreek, en die grondslag vir die sukses van die Groot Trek as volksonderneming is daar gelê. Dit is dan ook geen wonder dat daar 'n aantal gedenktekens op die terrein opgerig is nie.
Die eerste was 'n klipstapel in 1867, in die middel van die Bloedrivier-slagveld; tweedens die granietwa, waarvan die hoeksteen presies 100 jaar na die slag gelê is; en derdens die laer van bronswaens wat in 1971 ingewy is. Die granietwa-monument is bo-oor die 1866-klipstapel gebou, maar is in 1971 na die ingang van die terrein verskuif en staan tans voor die museum-kompleks. Die monument is ontwerp as 'n kakebeenwa wat op 'n voetstuk van trappies gebou is. Die monument is simbolies van die wa as woning, vesting en kerk.
Bloedrivier moet in sy historiese konteks gesien word. Ná die moord op die Voortrekkerleier Piet Retief en al die lede van sy afvaardiging op bevel van die Zoeloekoning Dingane in Februarie 1838 was dit onvermydelik dat 'n stryd om oppergesag tussen die Voortrekkkers en die Zoeloes voorgelê het. Hierdie gevoel van onvermydelikheid is verskerp deur die Zoeloekrygers se aanslag op die Voortrekkers aan die bolope van die Tugelarivier tien dae na die Retiefmoord.
Feitlik al die oorblywende Voortrekkers het gesinslede, familielede of hegte vriende verloor en het gevoel dat die Zoeloes gestraf moes word. Die feit dat Andries Pretorius daarin kon slaag om 460 Voortrekkermans vir sy veldtog te werf, dien as aanduiding dat die Voortrekkers nie sou rus solank die Zoeloes 'n bedreiging vir hulle was nie. Die Britte wat by die Voortrekkers aangesluit het en saam met hulle by Bloedrivier geveg het, het daardie sentimente gedeel.
Die Voortrekkeroorwinning by Bloedrivier was volkome. Geeneen van hulle het gesneuwel nie en net drie, waaronder Pretorius self, is tydens die geveg gewond. Al drie het herstel. Aan Zoeloekant het daar na raming sowat 3 000 krygers gesneuwel en het daar waarskynlik ook 'n hele aantal later aan hulle wonde beswyk. Die Voortrekkers het geen wa, perd of trekos verloor nie. Hulle kon binne enkele dae na die slag daarin slaag om Dingane se hoofstad, wat ondertussen op bevel van die koning self afgebrand is, te beset.