ZUMA SE SALARIS WEER VERHOOG

Mediaverklaring;

Herstigte Nasionale Party

Zuma se salarisverhoging is ‘n skande

Die salarisverhoging vir die ANC-staatshoof, Jacob Zuma, is ’n skande en is misdadig teenoor die landsburgers as in ag geneem hoe groot die armoede en ellende in die land is.

Zuma se salaris van R2,6 miljoen per jaar is met 5% aangepas. Hy ontvang nou ruim meer as R2,7 miljoen per jaar.

Die feit dat Zuma dié verhoging aanvaar het, is die bewys van hoe gewetenloos hy is in die pos van staatshoof van Suid-Afrika. Met so ’n salaris aan hom en ook die enorme salarisse van kabinetslede, word die staatskas en die Suid-Afrikaanse ekonomie geplunder. Naas die salaris van meer as R2,7 miljoen het Zuma ook nog ’n magdom ekonomiese voordele soos reis-, onthaal- en ander voordele.

Die miljoene wat hy ontvang het in Nkandla, maak die saak soveel te meer onaanvaarbaar. As in ag geneem word dat Eskom nie in staat is om aan die bevolking elektrisiteit te voorsien nie omdat daar nie genoegsame fondse is nie, en die verbruiker met buitensporige verhogings belas word, dan kan Zuma se salaris net in hoofletters as ’n SKANDE beskryf word.

Zuma is die hoofamptenaar van die staat. In enige werksituasie sal ’n amptenaar wat nie in die pos waarin hy aangestel is, presteer nie, summier afgedank word. Zuma presteer nie in die pos wat hy beklee nie. Eerder as om ‘n salaris van R2,7 miljoen te aanvaar, moet hy homself uit die pos van staatshoof verwyder.