SOORT SAL ALTYD SOORT SOEK!

Mediaverklaring

Boere-Afrikaners in Kleinfontein

Herstigte Nasionale Party

Mens staan eenvoudig verstom oor die naakte rassehaat wat straal uit die kommentaar van die Regering se Kommunikasie en Informasiestelsel se Hoof Uitvoerende Beampte, Phumla Williams, oor Kleinfontein.

Terwyl die ANC se Grondwet waarop sy haar beroep,

  • elkeen se "reg op vryheid van assosiasie" erken (art 18);
  • uitdruklik bepaal dat "Persone wat aan ’n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, nie die reg ontsê mag word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap, hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie" (art. 31); en
  • "die reg van enige gemeenskap wat ’n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ’n territoriale entiteit in die Republiek" erken (art. 235),

matig sy haar aan om Boere-Afrikaners wat bostaande regte uitoefen, te veroordeel omdat hulle nie wil opgaan in die geïntegreerde Suid-Afrika nie.

Intussen gaan dit by haar verby dat 'n paar kilometer vanaf Kleinfontein, die yslike swart woongebied, te wete Mamelodi, geleë is waar uitsluitlik Swartes woon, net soos in die honderde ander lokasies en "informele woongebiede" wat dwarsoor Suid-Afrika versprei lê. En anders as meeste van hulle, betaal Kleinfontein vir die dienste wat hy ontvang.

Williams is in een opsig reg: ons volk is nie deel van die geïntegreerde "demokrasie" nie en ons wil ook nie deel daarvan wees nie. Ons het immers nie vir die huidige Grondwet gevra of deelgeneem  aan die skepping daarvan nie.

Daar is 'n lewenswet wat lui: soort soek soort. Waarom is dit dan vir Williams en haar genote so 'n doring in die oog as ons onsself van hulle afskei?