BEGRAFNIS? OF PARTYTJIE...

Belastingbetalers betaal ANC-raadslid se begrafnis

Opposisiepartye in Bloemfontein is hewig ontsteld omdat die ANC R80 000 van die belastingbetalers se geld gevat het om ‘n begrafnis vir ‘n ANC-raadslid te betaal.

Die ANC in Bloemfontein se stadraad het goedkeuring gegee dat die geld gebruik word, ondanks die teenkanting van drie opposisiepartye in die raad. Volgens dié partye is dit onregverdig om die geld van die reeds swaar belaste belastingbetalers vir die begrafnis te vat, aangesien R20 000 van die raadslid se pensioengeld vir dié doel voorsiening maak.

Volgens die partye is R80 000 nie net buitensporig nie, maar ook teenstrydig met regulasies wat deur die minister van finansies ingestel is. Daarvolgens word munisipaliteite verbied om die publiek se geld vir begrafnisse te gebruik, met die uitsondering van ‘n R 1 250 vir ‘n begrafnis vir ‘n armlastige.

Die opposisie meen dat die familie en vriende van die oorlede raadslid, Zwelitsha Sekoi, vir die kos by die begrafnis kon betaal het, en nie die belastingbetalers nie.

ANC-raadslid, Zollie Nancotywa, het aan ‘n Vrystaatse dagblad gesê dat die R80 000 vir Sekoi se begrafnis minder was as die R100 000 wat gegee is vir die begrafnis van ‘n ander ANC-raadslid, Kedibone Choene, wat ‘n voormalige burgemeester was.

“Daarom het ons op ‘n verantwoordelike wyse gevra dat slegs R80 000 beskikbaar gestel moet word,” het Mancotywa gesê.

Met erkenning aan Die Afrikaner