ANC SELF DIE MISDADIGERS

U sou in gister se Die Burger die berig opmerk oor die 'rower' wat aan diens by die polisie is. Verhoorafwagtende konst. Makonxa is einde April op borgtog vrygelaat en het opdrag van die provinsiale polisiekantoor gekry om onmiddellik na sy pos by die Kabega-polisiekantoor terug te keer. Dít ten spyte van ’n vroeëre onderneming deur 'n swart brigadier van die provinsiale polisiewoordvoerder, dat met ’n interne tugproses begin is en ’n “nuwe skorsing” in werking sou tree. Dit is die werklikhede waarmee ons in 2012 te doen het. Die misdadigers is die land se polisie – sogenaamde wetbeskermers.

Hierdie regering is nie in staat om mense of hul eiendom en lewens te beskerm nie. Misdaad gaan nie afneem nie want die respek vir gesag en wet en orde het totaal verval. En in 'n bevolking waar grense afgebreek is en mense nie meer deur sterk sosiale bande gebind word nie soos nou in Suid-Afrika die geval is, ken mense mekaar al minder en word die sosiale afkeer van misdaad al meer uitgeskakel.

Namate misdaad toeneem sal dit lei tot 'n al hewiger soort oorlog in die land bo-oor die etniese grense maar ook tot versameling van mense wat hulself sal moet beskerm. Suid-Afrika was kort na oorname van die ANC in 1994 reeds wêreldwyd berug as die moorddadigste land in die wêreld. Toe reeds het The Star berig dat 'n voertuig elke 54 minute gesteel word – vandag is dit elke 4 minute; toe was daar 'n moord elke 30 minute, 'n verkragting elke 26 sekondes, 'n rooftog elke 6 minute, 'n huisbraak elke 2 minute – vandag kan u u indink tot waar hierdie syfers gestyg het.

Met 'n berig soos gister in Die Burger kan ons seker almal verstaan waarom hierdie misdaadsyfers, wat vandag deur die korrupte ANC verberg word, ten hemele hoog is. Wanneer 'n regering die misdaad nie net aanhelp nie maar aktief deel daarvan is, word die land beheers deur misdaad wat daagliks erger sal word.