SO STEEL SA-OWERHEDE JOU GOUD

Krugerrand-skandaal ruk SA Munt

Die Afrikaner

Bykans ‘n jaar nadat dit plaasgevind het, het die SA Munt – ‘n filiaal van die Reserwebank – erken dat dit ondergewig proef- en versamelaarsmunte van Krugerrande gemaak het.

Sommige van die Krugerrande wat tussen  April en Mei verlede jaar gemunt is, is na wat berig word, ondergewig en het te min goud bevat.

Die Krugerrand is die gewildste goudmunt ter wêreld en word teen sowat R14 000 verkoop.

Die aangeleentheid word allerweë as baie kommerwekkend beskou omdat SA Munt aan die Reserwebank behoort, wat ‘n baie belangrike staatsinstelling is. Die ekonoom, Dawie Roodt, het aan die media gesê dat die voorval kommer wek omdat die Reserwebank betrokke is en verhewe bo moontlike bedrog moet wees.

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse vereniging van munthandelaars, Glenn Schoeman, het dit as baie ernstig beskryf. Hy het bygevoeg dat hy nie bewus daarvan is dat so iets tevore al gebeur het nie.

Die skandaal volg kort op die hakke van die skorsing einde verlede jaar van twee senior amptenare van SA Munt. Lede van die vereniging van munthandelaars is verlede jaar na ‘n vergadering by die Munt genooi en is blykbaar gevra om ‘n ooreenkoms van vertroulikheid te onderteken dat hulle nie oor die probleme omtrent die munte sou praat nie.

Die Munt het aangebied om die munte wat nie aan die nodige spesifikasies voldoen nie om te ruil.