TERRORISTE UIT KONGO VERMOOR NOU ONS VOLK

Mariné Jacobs

‘n Nuwe probleem staar tans Bloemfontein polisie in die gesig.  Volgens ‘n betroubare polisiebron raak polisie toenemend bewus van onwettige aktiwiteite deur ‘n bende genaamd die International Junior Portugese, of IJP.  Hierdie bende blyk meestal in die groter Mangaung-gebied bedrywig te wees, maar ook op verskeie klein dorpies dwarsoor die Vrystaat.

Nege-en-dertig van die bende se lede is in Brandfort gearresteer. Hulle doelwit is skynbaar ‘control the economy.’   Die polisiebron vertel dat baie skoolkinders by die bende betrek word, juis omdat hulle maklik intimideer kan word en in ‘n hof as jeugmisdadigers tereg sal staan.  “IJP werf ook lede in die tronk,” sê hy.  “Hulle werk baie dieselfde as die berugte triple six bende.”   Lede word gekenmerk deur die letters IJP en drie kolletjies wat op die linkerkant van die bors of op die linkerarm getattoëer word.  Die polisie vermoed ook dat die bende satanisties georïenteerd is.

Alhoewel die spesifieke doelwit van die IJP nie duidelik is nie, is hulle betrokke by verskeie misdaad, insluitend inbrake, rooftogte, verkragtings en moorde.  Die polisiebron vertel ook dat ‘n voornemende lid vermoedelik moet deelneem aan die pleeg van ‘n moord om by die bende ingesluit te word.  ‘n 13-jarige meisie wat uit nuuskierigheid lid van die bende geword het, het onlangs die polisie se hulp kom vra uit vrees vir haar lewe.  Sy het ‘n stuk plastiek oor haar IJP tattoëermerk gesit en met ‘n oop vlam probeer wegbrand.  Nadat ‘n lid van die bende dit gesien het, het hy vir haar gesê dat sy 24 uur het om die merk weer op haar lyf aan te bring, anders sou die bende haar en haar familie doodmaak.  “Dis die ding van hierdie bende,” sê die polisiebron.  “As jy in is, is jy in.  Daar is nie sprake van die bende verlaat nie.  Dit beteken jy is dood.”

Provinsiale polisie werk glo tans saam om lede van die bende vas te trek.