SA SE ONVERMOË MET HIDROBREKING

Amelia Genis

Suid-Afrika se onvermoë om die verskillende aspekte van hidrobreking te monitor, is dalk die grootste gevaar wat dié tegniek om skaliegas te ontgin vir die land kan inhou.

Dit was die mening van een van die sprekers Maandag by die Universiteit van Kaapstad se jaarlikse somerskool.

'Morsig'
Hoewel die skaliegas wat só ontgin word, ’n oplossing kan bied vir die toenemende vraag na energie, is so ’n aanleg redelik “morsig”, het prof. Maarten de Wit tydens ’n lesingreeks oor planne om skaliegas in die Karoo te soek, gesê.

Hy is die hoof van die departement van aardwetenskap by 'n Universiteit in Port Elizabeth. De Wit het ook gesê dat die meeste aspekte daarvan egter gemonitor kan word.

“Die krake wat in die skalielaag onder die grond gemaak word, kom neer op aardbewings. Dis baie klein aardbewings wat minus twee op die Richterskaal meet: Kleiner as die skudding wat ’n motor op die pad veroorsaak.

“As jy hidrobreking toepas, kan jy al wat ’n ding is monitor as jy die regte toerusting het. Daar is ’n luisterapparaat wat kan help om te bepaal presies waar daar gekraak word. Jy kan die hele verloop van die proses monitor.”

Kort opgeleides
De Wit sê die probleem is dat dit nie hier gedoen sal kan word nie. “Ons het nie die vermoë, die instrumente of die opgeleide mense om dit te doen nie. Die enigste mense wat dit dalk in Suid-Afrika kan doen, is Anglo American in die steenkoolmyne, maar daar is geen akademici wat dit kan doen nie.”

In die lig van die groot kommer oor die moontlike besoedeling van grondwater in die Karoo het De Wit gesê dat daar in Suid-Afrika ook ’n gebrek aan kennis oor die watersisteme van die Karoo is omdat mense nooit juis in die geohidrologie van die gebied belang gestel het nie.

“Ons het min geohidroloë en stuur sommer altyd die geoloë in om na die water ook te kyk.”

Grondwater
Hulle het gevind dat die Karoo se grondwater 100 m tot 200 m onder die grond gevind word, maar dat daar heelwat dieper vermoedelik ’n enorme soutwater-reservoir is.

Volgens De Wit is brekingstegnologie so aangepas dat dit nou met seewater gedoen kan word. Dis egter iets wat, soos die chemikalieë wat in die brekingsproses gebruik word, gemonitor sal moet word.