SA-BOERE KAN BEGIN RYS VOORSIEN

Charl van Rooyen

Die beoogde verbouing van rys in Suid-Afrika het nuwe stukrag gekry danksy die toetrede van ’n sakeman en ’n boer om die projek ’n werklikheid te maak.

Kommersiële proefaanplantings is verlede jaar in verskeie plekke van die land gedoen, onder meer deur mnr. Alfonso Visser van Vaalharts, wat heel in sy skik met die opbrengs was. Mnr. Hennie Kruger, ’n sakeman van Delmas, sê hy neem nou die leiding om rysverbouing ’n werklikheid te maak.

“Groot hoeveelhede rys word elke jaar ingevoer wat waardevolle valuta opslurp. Ons behoort self ’n groot deel van ons rys te verbou. Dit kan selfs op vier na die grootste graanproduk word,” sê hy.

Geriewe benodig
Die nodige geriewe om rys skoon te maak, is nog nie in Suid- Afrika beskikbaar nie. Dit moet nog gebou word, waarvoor heelwat kapitaal nodig is. Kruger en ’n boer is besig om met ’n groot finansier daaroor te onderhandel. Die plan is om aanvanklik net saadvermeerdering te doen.

’n Plaaslike groot saadmaatskappy stel belang om die saad te verpak. Kruger sê boere het nog tot die helfte November tyd om rys op grond met meer as 15% klei te plant, mits dit besproei word. Rys word byna net soos somergars verbou. Genoeg saad is verlede somer in Suid-Afrika geproduseer.