PRODUSENT MÓÉT DALK AANKOPER DIREK NADER...

Sterf varsproduktemark uit?

Alani Janeke

Daar is kommer oor die voortbestaan van varsproduktemarkte en die instandhouding daarvan binne die bedryf.

Verenigings vir agente van varsproduktemarke, asook vir die markte self, het hul kommer laat blyk tydens die 2033 'All-Fresh Konferensie'.

Mnr. André Young, voorsitter van die Suid-Afrikaanse vereniging vir voedselmarkte, sê die bedryf het twee keuses om die situasie te hanteer. “Óf ons kan iets doen om die situasie aan te pak, óf ons kan niks doen nie en hoop.”  Uitdagings
Een van die grootste uitdagings vir markte is die feit dat produsente vertroue in markte verloor en direk met groot aankopers sake doen. Nog ’n uitdaging is die instandhouding van markte deur munisipaliteite, asook die huurkoste wat produsente vir uitstalruimte aan die munisipaliteite moet betaal.

Volgens Young moet die vereniging meer doen om die probleme by munisipaliteite op te los. Hy sê die kommissiestelsel verskaf ook groot probleme. Wat die risiko’s en die verlies van produkte betref, sê Young daar moet gekyk word na ’n stelsel waarvolgens die boer nie alleen al die risiko dra nie.

Die bedryf
Volgens mnr. Jaco Oosthuizen, besturende direkteur van operasionele en sake-ontwikkeling by RSA Holdings, is dieselfde hoeveelheid voorraad tussen 1991 en 2010 op die varsproduktemark verhandel. “Maar die bedryf raak al meer mededingend. Dit is nie vir my ’n goeie teken vir die bedryf nie.”

Oosthuizen sê die bedryf is te waardevol vir die ekonomie om verlore te gaan. Dit verskaf jaarliks sowat R500 miljoen se inkomste aan munisipaliteite. “En ek voorspel dat daar teen die einde van die huidige boekjaar handel van sowat R11,3 miljard op varsproduktemarkte sou plaasgevind het.”

Beter samewerking en kommunikasie tussen agente, markte en produsente word deur Oosthuizen as een van die oplossings vir die situasie voorgestel.