MELKBOERE BEDREIGDE SPESIE

Alani Janeke

Meer en meer melkboere verlaat die bedryf, en die Melkprodusente-organisasie (MPO) reken die land het tans minder as 2600 oor.

Dr. Koos Coetzee, die organisasie se senior ekonoom, sê vroeër is bereken dat die land sowat 2 630 melkboere oor het. “Ek dink tans gaan ons onder dié syfer inkom.”

Coetzee sê volgens hulle syfers bevind die meeste van die boere wat die bedryf verlaat, hulle tans in die Vrystaat, Transvaal en Oos-Transvaal. “Dit is veral kleinboere of boere met ‘n gemengde boerdery wat eerder op ander sake wil fokus.”

Vleispryse styg
Die feit dat die bedryf al hoe minder en minder winsgewend word vir boere is die groot dryfkrag agter dié afname. Volgens Coetzee is die pryse wat verwerkers en melkkopers tans aan boere betaal, deel van die afname in winsgewendheid.

Intussen het die vleispryse toegeneem. Coetzee sê derhalwe kom dit toenemend voor dat boere die suiwelbedryf verlaat om eerder hulle koeie, wat dalk nie meer top melkproduseers is nie, vir vleisdoeleindes te verkoop.

Prysvlakke
Volgens mnr. Déan Kleynhans, voorsitter van die MPO, dui Statistieke SA aan dat die prys wat melkboere in Junie die jaar verdien het 7% minder is as tydens die ooreenstemmende tydperk in 2010.

“Só is produsentepryse in Amerika, die EU en Nieu-Seeland in Junie 2011, 38%, 12% en 9% hoër as in Junie 2010.Die feitlike situasie is dat internasionale produkpryse tans 10% hoër is as aan die einde van 2010, en 99% op is vanaf die laagtepunt in Februarie 2009. Suid-Afrikaanse boere het dus nog nie in die voordele van die opswaai gedeel nie, terwyl graan en vleisprodusente reeds die vrugte van die styging in internasionale pryse pluk,” aldus Kleynhans.

Kleynhans sê indien proseerders geslaagd wil wees in hulle pogings op die behoeftes van die groeiende mark te voldoen, “sal produsente vergoed moet word vir die die skerp styging in produksiekoste sedert die einde van 2011.”