OLIEPRYSE RAAK KUNSMISBEDRYF

Alani Janeke
KUNSMISBEDRYF BEGAAN OOR OLIEPRYS

Die wisselvalligheid van die internasionale olieprys gee die kunsmisbedryf tans hoofbrekens, sê dr. Gert van der Linde, direkteur van die Misstofvereniging van SA. Hy sê terwyl kunsmispryse in 2007 en 2008 drasties gestyg het, het oliepryse ook ‘n drastiese styging getoon.

“Toe dié pryse weer begin daal, het die pryse van kunsmis weer begin daal,” vertel Van der Linde. Hy het tydens die 11de AMT-kongres in Pretoria sy kommer uitgespreek oor die huidige wisselvalligheid van oliepryse, asook oor voorspellings dat dit gaan styg, en die uitwerking daarvan op die bedryf.

“Olie word gebruik om verskeie produkte van kunsmis te produseer, en om dié produkte en die eindprodukte te vervoer, beteken nóg olie-verwante kostes.” Van der Linde sê een van die plaaslike bedryf se grootste uitdagings is dat hy prysnemers en nie prysleiers is nie.

Groei in die bedryf
Volgens Van der Linde voorsien die vereniging se lede nie dat die bedryf in Suid-Afrika in die volgende 10 jaar aansienlike groei gaan aanteken nie. “Hulle dink nie dat hier veel meer as twee miljoen ton kunsmis gebruik gaan word nie. Hulle is wel van mening dat uitvoergeleenthede na elders in Afrika sal toeneem.”

‘n Internasionale opname het onlangs aangedui dat die wêreld se kunsmis-aanbod teen 2015 tot 183 miljoen ton vergroot moet word om in die internasionale vraag na voedsel te kan voorsien. Om die bedryf tot op dié punt uit te brei, sal sowat VSA$88 miljard nodig wees. “En ons voorsien nie dat daar enige probleme met die verskaffing sal wees nie.”

In Suid-Afrika word sowat 40% van die plaaslik geproduseerde kunsmis vir mielieproduksie gebruik. Die provinsie wat die meeste kunsmis verbruik, 20% van die land se voorraad, is die Vrystaat. Die ander agt proivinsies gebruik die oorblywende 80% van die aanbod.