ONS BREEK KAROO, BASTA!

Letitia Winters

Susan Shabangu, ANC-minister van Minerale Sake, erken ruiterlik dat sy geen kennis van hidrouliese breking het, dit terwyl sy haar neus vierkantig hierin steek en nie 'n duit omgee wat die verreikende gevolge vir die Karoo en selfs verder kan inhou nie.
Hierdie erkenning het sy gister in haar onkunde kwytgeraak toe daar weer heerlik op die belastingbetaler se geld groot ontbyte in Kaapstad geëet is.

Sy het herhaaldelik gesê dat "fracking" 'n tegniese proses is wat sy nie kan bespreek voordat die taakspan wat die gevolge van die ontginningsproses navors, sy verslag aan haar voorlê nie.
Mnr. Jonathan Deal, voorsitter van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG), is gefrustreerd omdat sy groep aansoek gedoen het dat die name van die taakspan aan die TKAG bekend gemaak word, maar dat hy geen antwoorde gekry het nie. Hy het Shabangu gewys op die TKAG se frustrasies rakende die gebrek aan kommunikasie vanaf die Regering oor die taakspan wat die proses van hidrouliese breking ondersoek en het ook beklemtoon dat die Departement van Minerale Sake dan homself roem op sy hoë vlakke van deursigtigheid. Maar Shabangu sê dat geen lede van die burgerlike samelewing in die groep toegelaat sal word nie. Dit beteken geen lid van 'n omgewingsgroep of diegene wat die Karoo-burgers se regte wil beskerm, sal regstreekse insae in die verslag van die taakspan kan kry nie.

Intussen is die moratorium vir die aansoeke van lisensies vir die skaliegasontginning hernieu. Hoewel die hoop was dat die taakspan sy verslag in Augustus aan die ANC-Kabinet sou voorlê, is dit volgens Shabangu nou duidelik dat dit eers in September sal gebeur – maar moet asseblief nie daarop peil trek nie!