ANC EN SHELL KONKEL OOR HIDROULIESE BREKING

Corli van der Merwe

Die Suid-Afrikaanse Regering staan voor ’n massiewe besluit oor hidrouliese breking(fracking) met onomkeerbare gevolge vir die toekoms van die land en sy inwoners.

Só meen mnr. Jonathan Deal, voorsitter van die Bewaar die Karoo Aksie Groep (TKAG), wat Landbouweekblad Dinsdag (16 Augustus) besoek het om die groep se standpunt oor hidrouliese breking te stel.
Navorsing is nodig

Deal het dit duidelik gemaak dat die groep nie gekant as teen die brekingsproses as sodanig nie, maar dat hulle gekant is daarteen dat met die kontroversiële mynmetode in die Karoo begin word sonder dat die nodige navorsing daaroor gedoen is.

Deal sê die TKAG is baie gefrustreerd met  Susan Shabangu, die Minister van Minerale Hulpbronne, en haar departement weens gebrekkige (of geen) kommunikasie tussen nie-regeringsorganisasies en die media oor moontlike skaliegasontginning in die Karoo.

“Ons het ’n paar maande gelede daarin geslaag om met Shabangu ’n afspraak te maak, maar sy het op die laaste nippertjie gekanselleer, terwyl ons reëlings reeds getref was en ons amper op pad was,” sê Deal.

Dit terwyl  Bonang Mohale van Shell Maandag (15 Augustus) in ’n onderhoud op SAfm gesê het Shell is in “konstante gesprek” met die Regering oor sy planne in die Karoo.

Dit het vrese laat opvlam dat die Regering agter die skerms met Shell saamwerk om die eksplorasie en ontginning van skaliegas in die Karoo goed te keur.

Talle faktore ter sprake
Hoewel die TKAG baie besorg is oor die impak van hidrouliese breking op die ekologie en waterbronne in die Karoo, sê Deal daar is ook ander faktore om in ag te neem.

“Skade aan die padinfrastruktuur, rioolprobleme, gesondheidsgevare en die onderbreking van boerdery- of toerismebedrywighede moet in ag geneem word,” sê hy.

Intussen het mnr. Jan Willem Eggink, hoofbestuurder van stroomop-werksaamhede van Shell Suid-Afrika, wat Landbouweekblad ook onlangs besoek het erken dat massiewe hoeveelhede water in dié mynproses gebruik sal word.

Shell kan egter nie sê waar en hoe hulle dié water in die hande sal kry nie. Die maatskappy mag nie met plaaslike boere om waterbronne meeding nie.