BID ASB VIR ONS BOERE

Die afgelope week se erge koue in die Oos-Kaap het sowat 5000 Angorabokke geëis, met die skade wat op sowat R3,5 miljoen staan.

Mnr. Barries Snijman, die voorsitter van die Rietbron-sybokhaarkwekersvereniging, sê 12 boere in die distrik het diere verloor, en by drie boere het 1000 of meer bokke gevrek.

Baie van die bokke is twee weke gelede geskeer. Snijman sê boere het hulle bes probeer om hulle bokke by skuilings te hou, maar as ‘n bok vir meer as 24 uur in die reën staan en ‘n koue wind waai, gaan die dier verkluim.

Nie boere se fout Snijman sê dié vrektes word baie keer voor die deur van die boer gelê met beskuldigings dat hulle nie behoorlik na hulle diere omgesien het nie.

“Een boer, wat jare lank al in die bedryf is en weet wat hy doen, se skade is amper R750 000. Jy kan voorbereidings tref soveel as wat jy wil, maar jy kan nie alles beheer nie.”

Volgens Snjiman het verskeie boere reeds voorbereidings getref vir die koue wat die naweek in die land verwag word. Hy sê hulle is bekommerd en wil verhoed dat nog diere vrek.

“Dit het gister (28 Julie 2011) weer liggies begin reën, maar vanoggend (29 Julie 2011) skyn die son darem weer. Hulle voorspel wel nie vir ons reën vir die naweek nie.”

Kommer oor bedryf
Snjiman sê met dié slag wat die bedryf getref het ná ‘n erge droogte, en die tol wat verlede jaar se uitbreking van Slenkdalkoors geëis het, is hulle bekommerd oor die toekoms van die bedryf. “Baie boere het al die bedryf verlaat omdat die verliese vir hulle te groot is.”

Die bestuur van die Sybokhaarkwekersvereniging gaan die distrik volgende week besoek om hulle te vergewis van die situasie.

“Ons wil die kwessie van jassies met hulle bespreek, want dit lyk na een van die beste volhoubare oplossings, maar dit voel asof daar voete gesleep word. Die kwessie van ‘n versekeringskema is dalk ook iets wat weer oorweeg kan word”, aldus Snijman.