ESKOM SE SELFVERRYKING

TLU-MEDIAVERKLARING

TLU SA het met weersin kennis geneem van die omvang van salarisaanpassings in Eskom se top-echelons. Terwyl verbruikers gebuk gaan onder onbekostigbare tariefstygings wat veroorsaak was deur Eskom se onvermoë om tydig maatreëls te tref om die stygende energievraag te akkomodeer, is die einste topbestuur nou die bevoordeeldes wat baat vind by die toename in inkomste. Dit alles desondanks die feit dat ’n verdere tariefverhoging verbruikers in die oë staar.

 “Uit syfers wat in die media gerapporteer is, is daar ’n duidelike verband tussen die toename in inkomste (28,6%) en die afgelope twee jare se tariefverhogings”, aldus mnr Ben Marais, president van TLU SA. “Die vraag kan dus met reg gevra word of Suid-Afrika se energieverbruikers genoeë moet neem met die nuutste toedrag van sake? Waarom word die styging in inkomste nie benut om verbruikers, wat reeds in ’n onbenydenswaardige kosteknyptang vasgevang is, tegemoet te kom nie?”

 “Ek kan tot geen ander gevolgtrekking kom as dat daar ’n selfverrykingsproses aan die gang is wat deur kliente gefinansier word terwyl energievoorsiening steeds ’n risiko vir verbruikers inhou nie.”

 “Dit is hoogtyd dat Eskom se topbestuur hand in eie boesem en beursie steek”.