Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die HERE nie deur sy groot genade 'n klein oorblyfsel van ons volk beskik het nie, sou daar soos met Sodom en Gemorra van ons niks oorbly nie. Maar Hy hét, ten spyte van ons wederstrewigheid. Leef dan só, dat Hy nie daaroor spyt word nie!
JY KAN DIE KOMMUNISTE VERTROU (12)
Dr Fred Schwarz
Lees reeks by Jy kan die Kommuniste vertrou
GETUIENIS OP DIE GEBIED VAN KOMMUNIKASIES
“Wanneer ons sien wat die Kommuniste doen sonder dat ons die reëls van die spel ken, sonder dat ons die Kommunistiese leringe, moraliteit, doelstellinge en metodes ken, wanneer ons ons eie basiese Christelike standaarde daarop projekteer, is ons gevolgtrekkings belaglik, natuurlik! Daar is geen plaasvervanger vir kennis nie; onkunde is boos en verlammend. Die grootste bondgenoot wat die Kommunisme het, is die onkunde omtrent sy ware karakter. En dit is hierteen wat daar oorlog verklaar moes word!”
Die wêreld is in drie groot areas verdeel:
- daar is die Kommunistiese area, 'n groot tronk wat biljoene slawe bevat;
- daar is wat bekend staan as die Vrye Wêreld, wat bestaan uit Amerika en sy bondgenote;
- en tussen hierdie twee is daar die ontsaglike onverbonde area van die wêreld wat meer as 'n biljoen mense bevat.
Die volke van die wêreld is deur die Kommuniste bearbei en gewin, nie met bomme en koeëls nie maar deur woorde en boeke. Vir elke persoon wat met Christelike of ware demokratiese waarheid bereik word, word 'n paar honderd mense met Kommunistiese leuens bereik. Hulle groot lektuurveldtog het volmaak geslaag. Hulle produseer pragtige lektuur in byna elke taal en versprei dit in elke hoek van die wêreld. In baie lande kos hierdie leesstof feitlik niks.
'n Voorbeeld hiervan is 'Probleme van Leninisme' deur Josef Stalin. Hierdie boek van meer as agthonderd bladsye kon in enige boekwinkel in Amerika vir vier dollars gekoop word; in Kanada het dit een dollar vyftig sent, gekos; in Australië sewentig sent; in Indië of Japan tien sent. Die prys wat gevra is het nie in verband met die produksiekoste gestaan nie maar saam met die ekonomiese vermoë van die kopers.
'n Voorbeeld van hulle pragtige kleurtydskrifte is 'China Pictorial' wat elke veertien dae in Peking gedruk is in Chinees en vyftien ander tale. Elke gesig het 'n stralende glimlag gehad, met pragtige kleurfotografie. Die morele gees was uitstekend: geen geweld, misdaad, naaktheid, seks en alkohol nie. Elke bladsy skilder oorvloed, skoonheid, voorspoed, vryheid en vrede. 'n Mens kan nie deur so 'n tydskrif blaai sonder om beïndruk te word nie.
Ook kinderboeke het geweldig baie aandag gekry sodat dit klein kindergemoedere kon beïnvloed.
Die Kommuniste deel steeds hulle lektuur in twee kategorieë: Propaganda; en Agitasie.Propaganda definieer hulle as dit wat baie idees aan 'n klein klompie mense meedeel. Propaganda leer die Kommunistiese teorie, filosofie, organisasie en leerstellings. Dit is in die eerste plek bedoel vir die denkende, studentegemoed.
Vir die groot menigtes publiseer hulle Agitasie. Agitasie definieer hulle as dit wat een idee aan baie mense meedeel. Die Kommunisme se groot lektuurveldtog is bedoel om aan die mense van die hele wêreld die eenvoudige idee mee te deel dat oral waar die Kommunisme die bewind oorneem, die mense dadelik gelukkig, gesond, voorspoedig en vry word.
KULTURELE UITRUILING
'n Tweede bondgenoot van die Kommunisme is die naïewe geloof dat die waarheid omtrent Kommunisme deur oppervlakkige waarneming geleer kan word. 'n Idee wat destyds groot byval gevind het, is dat egte informasie omtrent die Kommunisme slegs verkry kan word deur 'n besoek aan 'n Kommunistiese land.
Toe ek dikwels deur Amerika gereis en lesings gegee het oor Kommunisme is ek telkens gevra of ek al in Rusland was. Die gevolgtrekking was klaarblyklik dat as ek nie daar was nie, ek onmoontlik veel omtrent die Kommunisme sou kon verstaan. Aan gehore wat daardie vraag gestel het, het ek geantwoord dat ek nog nie in Rusland was nie en dat dit 'n ernstige nadeel is. Maar daarmee saam het ek telkens die hoop uitgespreek dat, nadat ek my kwalifikasies aan hulle geskets het, hulle almal mildelik sal bydra om my te finansier om soontoe te gaan.
Ek was omtrent nege jaar lank dikwels in Amerika. Ek het in ses-en-veertig state gereis, derduisende mense toegespreek, ek met volkome vryheid van beweging en spraak. As Australiër praat ek uitstekende Engels, en kon oral met my taal die geleenthede benut om te praat. En as iemand my wil help om Rusland toe te gaan sou ek dalk met die taal sukkel maar dit is nie eintlik belangrik nie want die Kommunistiese regering het al lank gelede daaraan gedink en byvoorbaat toereikende voorsiening daarvoor gemaak – tolke opgelei wat algeheel toegewy was aan die Party.
Eerstens moet hulle my rondneem en toesig hou oor wat ek mag sien en wie ek mag ontmoet.
Tweedens moet hulle 'n oog hou oor die kontakte wat ek maak sodat as iemand van hulle oor die tou trap, later onder hande geneem kan word.
Derdens moet hulle my vrae verkeerd voorstel en die antwoorde verkeerd vertolk. Ek nader 'n groep mense en vra die tolk om hulle te vra of hulle die Kommunistiese regering liefhet. Hy draai hom na hulle toe en uiter 'n stroom van wat vir my 'n onverstaanbare brabbeltaal is. Hulle antwoord in dieselfde trant. Dan sê hy vir my: "Hulle het die Kommunisme van ganser harte lief." Al moeilikheid is dat ek geen manier het om te wete te kom wat hy vir hulle gevra en hulle hom geantwoord het nie.
Honderde mense wat Rusland besoek en teruggekom het om te kom vertel, was in presies hierdie posisie. Hulle het geen manier gehad om vas te stel wat die waarheid is nie al het sommige van hulle meerderwaardig probeer klink oor hul besoek aan Rusland.
Wanneer ons sien wat die Kommuniste doen sonder dat ons die reëls van die spel ken, sonder dat ons die Kommunistiese leringe, moraliteit, doelstellinge en metodes ken, wanneer ons ons eie basiese Christelike standaarde daarop projekteer, is ons gevolgtrekkings belaglik, natuurlik! Daar is geen plaasvervanger vir kennis nie; onkunde is boos en verlammend. Die grootste bondgenoot wat die Kommunisme het, is die onkunde omtrent sy ware karakter. En dit is hierteen wat daar oorlog verklaar moes word!
BREINSPOELING... vervolg