Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet jy waarom jy soms aan 'onverklaarbare' angs ly? Gaan soek die rede by die moontlikheid dat jy jou hoop op dinge vestig wat nie noodwendig binne God se wil gesentreer is nie.
JY KAN DIE KOMMUNISTE VERTROU (11)
Dr Fred Schwarz
Lees reeks by Jy kan die Kommuniste vertrou
DIE MILITÊRE GETUIENIS
Die oseane wat Amerika omring, tradisioneel die barrikade van beskerming teen die vyand, het die bron van oneindige gevaar geword. Die Kommuniste het in 1960 tot hulle beskikking sowat vyfhonderd duikbote gehad. Baie daarvan was langafstandbote en kon projektiele afvuur wat 'n trefafstand het van etlike honderd myl. Hulle kon 'n atoom- of kernkop in die neus dra. Op enige gegewe oomblik wat die Kommunistiese leier verkies, kon duikbote uit die waters van die Stille en die Atlantiese Oseaan asook die Golf van Meksiko opduik, hulle geleide projektiele afvuur en duik.
Gelykertyd kon Washington, Baltimore, Philadelphia, Boston, Miami, New Orleans, Houston, San Diego, Los Angeles, San Francisco, Portland en Seattle uitgewis word. Die vermoë om dit te doen het werklik bestaan met geen effektiewe verdediging daarteen nie.
Richard Arens, direkteur van die Nie-Amerikaanse Aktiwiteite-komitee, vertel hoe hulle komitee toe die militêre man opgeroep het wat hulle as die bes toegeruste beskou het om die onderwerp, Kommunisme, te verduidelik, naamlik generaal Wedemeyer, adjudant van generaal MacArthur in die Verre Ooste. Arens het hom gevra: "Generaal, hoe laat dink u is dit op die Kommunistiese tydtafel vir wêreldverowering?"
Generaal Wedemeyer se antwoord: "Te laat. As ek die Kommunistiese leiers moes dien met raad sou ek sê: 'Moenie een ding in julle program verander nie. Julle is besig om te wen net so seker as enige groep ooit enige slag in die geskiedenis van die mens gewen het.' "
Aan die einde van die generaal se getuienis het Richard Arens gevra: "Generaal, in die lig van hierdie angswekkende dinge wat u ons meegedeel het, wat raai u ons aan om te doen?"
Sy antwoord: "As u my hierdie vraag vyftien jaar gelede gevra het, sou ek dit met gemak kon beantwoord. As u dit tien jaar gelede gevra het sou ek dit met moeite kon beantwoord. As u dit vandag vra is die enigste eerlike antwoord wat ek kan gee: 'Ek weet nie!.' "
DIE OPVOEDKUNDIGE GETUIENIS
Deur 'n geweldige konsentrasie op opvoeding het die Kommuniste reeds in 1960 drie maal soveel ingenieurs en wetenskaplikes as die VSA gegradueer. Toe hulle program vir China ryp word het hulle tien maal meer gradueer.
'n Algemene reaksie op hierdie informasie is om troos te soek in die feit dat daar in Kommunistiese lande geen akademiese vryheid is nie. Een van die groot dwalings van Amerikaanse opvoeders is dat akademiese vryheid noodsaaklik is vir die bereiking van materiële resultate. As 'n kind die gewoonte aangekweek het om te studeer en dan gedwing word om wiskunde, wetenskap en vreemde tale te bestudeer, sou hy baie leer, of die stelsel nou vry is of nie. Dissiplinering en tirannie was altyd in staat om groot dinge tot stand te bring. Die Farao's het die piramides gebou; die Chinese het die Groot Muur van China gebou; Hitler het wondere in Duitsland verrig, en daar is hoegenaamd geen bewys dat hy dit moeilik gevind het om sy opgevoede klasse te beheer nie. Onder 'n gesagstelsel van gedissiplineerde opvoeding het die Duitsers geweldige vooruitgang gemaak in die wetenskap van vuurpylwerk en elektronika, sowel as in die ontwikkeling van die spuitvliegtuig, Eweneens is die Kommuniste met hulle nadruk op wetenskap, vreemde tale en wiskunde besig om geweldige vooruitgang te maak. Die kwessie was nie watter opvoedkundige stelsel beter gebalanseerde persoonlikhede ontwikkel nie. Die kwessie was van die begin af watter stelsel van opvoeding sal hierdie algemene oorlog wen?
Ek het destyds 'n Amerikaanse kollege besoek. Voordat ek tien minute daar was, het die president my met trots vertel van 'n jongman wat roem en eer vir hulle skool besorg het. Oral waar ek op die terrein geloop het, het ek sy lof hoor besing. Eindelik het ek hom ontmoet, en 'n pragtige jongman was hy. Sy liggaam soepel en slank, en hy was goed ses voet twee duim lank. Hy was hulle uithaler korfbalspeler. Sy behendigheid in die spel was so groot dat hy gekies is om na Melbourne, Australië, te gaan om die VSA in die Olimpiese Spele in 1956 te verteenwoordig. Wat 'n eer vir die skool!
Maar toe ek vra: "Wie is julle beste wetenskapstudent?" het hy my verwonderd en verbaas aangestaar. Hy kon daardie vraag nie beantwoord nie. Om inligting van daardie aard te bekom sou 'n noukeurige studie van die puntestate vereis het.
Ek wil dit duidelik maak dat ek niks teen korfbal het nie. Ek beskou dit as 'n uitstekende sport. Die vermoë om 'n opgepompte sferiese bal deur 'n ysterhoepel te projekteer is inderdaad 'n merkwaardige gawe. Maar dis moeilik om jou voor te stel hoe ballistiese projektiele doeltreffend gekeer kan word met korfballe. In die aangesig van ons stryd om bestaan teen 'n vyand wat geen moeite spaar om die jeug op te lei in die gebiede wat sal help om die oorwinning te behaal nie, het dit geskyn of die waardebepaling in die Amerikaanse opvoedingstelsel wel hersien moes word.
DIE EKONOMIESE GETUIENIS
As ons 'n grafiek moet trek van die totale ekonomiese produk van Rusland en Amerika en die tempo van hulle groei, sou die lyne binne 'n sekere periode mekaar sny. Die presiese lengte van daardie periode is verskillend bereken. Jare gelede is gesê dat hulle mekaar binne vyftien jaar sou kruis.Chroesjtsjof het beweer dat hulle in ooreenstemming met die gaping tussen die Russiese en Amerikaanse produksie besig was om te krimp.
Die probleem was egter nie maar net dat die Russiese totale ekonomiese produk dié van Amerika spoedig sou kon ewenaar nie. Die groot probleem lê in die persentasie van die Rusiese ekonomiese produk wat tot beskikking van die Kommuniste is vir klasse-oorlog. Aangesien die Kommunistiese Party alleenbesitter is van die ganse Russiese ekonomiese produk, kon hy die ekonomiese produk na willekeur gebruik. Vanweë hulle alleenbesit kon die Kommuniste besluit hoeveel elke individuele Rus mag kry, en hoeveel van die totale produk agtergehou word vir gebruik in die ekonomiese oorlog teen die VSA. Deur die volk op 'n baie lae lewenspeil te hou was hulle in staat om 'n groot proporsie van hulle ekonomiese produk te gebruik om Amerika se buitelandse mark te vernietig deur hulle ware goedkoper te verkoop as die Amerikaanse produk.
Monopolie het 'n geweldige voorsprong in mededinging met klein nywerhede. Onbeskerm deur die wet kan geen klein saak met slegs 'n klein klompie werknemers stand hou teen die groot nasionale korporasies nie. As dit nie was vir die beskerming verleen deur anti-trustwette nie, sou 'n groot kettingwinkel baie maklik die klein kruidenier op die hoek dooddruk. Die kettingwinkel sou maar net 'n tak daar naby hoef te open. Aangesien hierdie tak maar net een is van honderde wat aan die saak behoort, is dit nie nodig om wins te maak nie. Hulle kan alle goedere goedkoper verkoop. Hulle klein mededinger, egter, het beperkte finansiële hulpbronne. Hy moet wins maak om sy skulde te betaal en sy saak voort te sit. Hy kan 'n beperkte tydjie uithou. Mettertyd raak sy hulpbronne uitgeput en is hy verplig om toe te maak.
Die Kommuniste doen dieselfde ding op 'n wêreldwye skaal. Hulle kan in enige Amerikaanse buitelandse mark inskuif as hulle dit wenslik ag. Hulle het nie nodig om wins te maak nie – hulle profyt is die chaos wat hulle in die Amerikaanse ekonomie veroorsaak, en in die agente wat hulle deur hulle handel in die land laat insypel.
'n Voorbeeld van Kommunistiese tegnieke van ekonomiese oorlog kon gesien word in hulle handelinge in Irak. Irak het destyds groot somme geld as winsaandeel in die oliebedryf op hande gehad om aan ontwikkelingsondernemings te bestee. 'n Groot aantal kontrakte vir hierdie ondernemings het na Rusland gegaan. Om 'n kontrak in die hande te kry, het die Kommuniste hierdie eenvoudige metode gevolg: van pro-Kommuniste elemente in Irak se regering het hulle uitgevind wat die laagste tender was wat deur enige Westelike firma gemaak is, en het hulle net twintig persent laer getender. Hulle het nie nodig gehad om 'n direkte wins te maak nie want hulle profyt was geleë in die Kommunistiese agente wat hulle laat insypel het, en die ondermynende leesstof wat hulle versprei het, sowel as in die verswakking van die Irakse ekonomie. Dit is moeilik om te sien hoe enige saak wat op wins aangewys is om te bestaan, met hulle kan meeding.
Die toenemende Kommunistiese ekonomiese binnedringing in Amerika het ernstige kommer onder vooraanstaande sakemanne gebring soos die situasie jaar na jaar vererger het.
Getuienis op die Gebied van Kommunikasies... vervolg