Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het aan die fariseërs gesê dat Hy barmhartigheid wil sien by mense, nie allerhande offerandes nie. Is ons nie dikwels wreed en veroordelend teenoor ons medemens sonder goeie rede nie? Ons moet onthou dat die oordeel God alleen toekom.
JY KAN DIE KOMMUNISTE VERTROU (10)
Dr Fred Schwarz
Lees reeks by Jy kan die Kommuniste vertrou
BONDGENOTE VAN DIE KOMMUNISME
Die betekenis van Kommunisme kan nooit gemeet word aan die getal Kommuniste nie. Lenin se slagspreuk was: '....minder, maar beter". 'n Ou gevestigde gesegde lui: "Die Party word sterk deur homself te suiwer." Die teorie van die Kommunisme is dié van die klein klompie uitverkorenes wat georganiseer, gedissiplineer, toegewyd en toegerus is met groter intelligensie en begrip van die wette van die geskiedenis. Deur hierdie uitverkore klompie sal die verowering van die wêreld volvoer word. Die getal werklike Kommuniste was nooit groot nie.
Selfs noukeurige waarnemers wat gelet het op die swakheid in getal van die Kommuniste, het 'n vaste hoop op hierdie feit gebou. Sulke mense begryp nie dat die Kommuniste in staat is om menigtes in hulle diens saam te trek wat totaal onbewus is van die feit dat hulle die Kommunistiese saak dien nie. Die doel hier is om 'n studie te maak van daardie houdings wat welmenende, vaderlandsliewende Christenmense in bondgenote van die Kommuniste verander.
INTELLEKTUELE ONEERLIKHEID
Die vernaamste van hierdie houdings is intellektuele oneerlikheid. Wanneer die waarheid te onaangenaam is, is 'n natuurlike neiging om te weier om dit te glo. As medikus het ek dit dikwels gesien. 'n Karaktervolle en intelligente man ly aan kanker. Hy ken die simptome baie goed en as hy hulle in iemand anders sou sien sou hy geen oomblik twyfel aan die uiteindelike gevolg nie. Wanneer hy egter hierdie simptome in homself gewaar, gebeur daar iets vreemds. Sy kenmerkende eerlikheid en helderheid van oordeel verdwyn. Hy ignoreer die sentrale, simptomatiese stroom, en gryp die randsimptome aan en bou hulle op tot 'n droomwêreld waarheen hy sy toevlug neem terwyl die dood nader kom.
Ongeag hoe helder die getuienis, mense sal altyd 'n uitleg vind wat hulle sal toelaat om vas te hou aan wat hulle graag wil glo. Dit word goed geïllustreer deur die storie van die priester en die rabbi wat agtermekaar in die pad gery het, die rabbi voor en die priester agter. Toe hulle 'n kruispad nader, het die rabbi met verdrag rem getrap en sy motor tot stilstand gebring. Die priester egter, het gesit en rondkyk. Toe hy weer sien, was hy feitlik teen die rabbi se motor; hy het kwaai remgetrap maar tevergeefs, en 'n lelike botsing was die gevolg.
Die priester en die rabbi was besig om die skade te bepaal toe 'n Ierse konstabel daar opdaag. Nadat hy die wrak bekyk het en vasgestel het wie die onderskeie eienaars van die twee motors was, was hy blykbaar in groot emosionele verleentheid. Hy het te staan gekom voor gelyktydige, botsende pligte – sy plig teenoor die Kerke en sy plig teenoor die wet. Hy het begin sweet en hakkel. Meteens kry hy 'n blink ingewing. Die frons op sy voorhoof het verdwyn en 'n uitdrukking van vertroue en kalmte het op sy aangesig verskyn. Hy het die rabbi streng aangekyk en hom toe na die priester gewend en gevra: "Vader, wat was hierdie man se spoed toe hy agteruit in u vasgery het?" Hoe dikwels is die wens die vader van die gedagte!
Die situasie wat ons in die gesig staar is donker en angswekkend. Om die ware situasie onder oë te sien vereis moed en eerlikheid. Die groot meerderheid van mense is totaal onwillig om die waarheid te erken en verkies om die getuienis te ignoreer, of om slegs die feite uit te soek wat hulle vooropgestelde idees steun en nie die verwesenliking van hulle begeertes sal bedreig nie.
Lank gelede het ek 'n man ontmoet wat ek al lank bewonder het. As 'n koerantman wat simpatiekgesind was teenoor die Sowjetregering is hy in die dertigerjare na Rusland gestuur. Daar het hy ontdek wat werklik aan die gang was, waarop hy te werk gegaan het om die wêreld die waarheid omtrent die Kommunisme mee te deel. Hy het kosbare boeke geskryf wat my diep beïnvloed het toe ek hulle jare gelede gelees het. Toe ek hom ontmoet, het ek hom bedank vir wat hy gedoen het, en hom meegedeel hoe diep sy boeke my beïnvloed het. Hy het my met 'n somber uitdrukking aangekyk en gesê: "Dit het nie eintlik baie goed gedoen nie, het dit? Toe ek daardie boeke geskryf het, het die Kommuniste honderd-en-sestigmiljoen getel. Nou tel hulle 'n biljoen. Die Westere beskawing is gedoem. Ons sal net so seker uitgestorwe raak soos die Indiaanse beskawing geraak het voor die opmars van die witman."
U kan hierdie man afskryf as 'n volslae pessimis, as u wil, maar u kan nie so maklik wegdoen met die feite nie. As ons die getuienis van Kommunistiese verowering weeg volgens enige van die standaardmetodes om mensekennis te beoordeel, is dit baie moielik om te ontkom aan die gevolgtrekking wat hy gemaak het. Hierdie getuienis kan onder vyf hoofde bespreek word:
- Die numeriese getuienis
- Die militêre getuienis
- Die ekonomiese getuienis
- Die opvoedkundige getuienis
- Die kommunikasiegetuienis
DIE NUMERIESE GETUIENIS
In die jaar 1903 het Lenin die beweging bekend as Bolsjewisme gestig met sewentien ondersteuners. In 1917 het Lenin Rusland verower met 'n Party van naastenby veertigduisend lede. Teen 1959 het die Party van Lenin een biljoen mense verower. In een geslag het die godlose Kommuniste twaalf maal soveel mense as wat aan die begin van die Tweede Wêreloorlog onder Hitler se heerskappy gestaan het, onder hulle beheer gehad , twaalf maal soveel as dié waaroor Japan geheers, en ses maal die bevolking van die VSA. In minder as 'n half eeu het hulle baie meer verower as die totale getal van die wêreld se bevolking wat ooit na tweeduisend jaar die minimum-verhaal van Christus uit enige bron verneem het. Die wat van Christus gehoor het uit enige bron – Protestant, Katoliek, Jehowagetuie, Mormoon, of Christian Scientist – tel naastenby sewehonderd-en-vyftigmiljoen. In een geslag het die Kommunisme 'n biljoen verower. Daar was in 1960 in die wêreld vir elke vyf kinders op skool wat die godlose leerstellings van die Kommunisme in besonderhede leer, een op enige skool waar ook al, wat iets omtrent Christus leer. Hierdie feite was toe reeds angswekkend om te betrag.
Hierdie syfers is soveel te meer angswekkend wanneer hulle gekontroleer is soos elke eerlike sakeman hulle sou kontroleer. In Sint Louis, Missouri, het ek die bestuur van 'n klein maar welvarende firma toegespreek. Die bestuurder van die firma het my meegedeel dat hy my die geheim van hulle sukses wou toon. Hy het my na 'n sekere kamer geneem en my 'n elektroniese rekenmasjien (die begin van rekenaars) gewys. "Ons is nie tevrede om die verlede en die hede te weet nie," het hy gesê; "ons moet die toekoms weet. Eindelik het ons uitgevind hoe om die toekoms te ontdek. Hierdie masjien is die antwoord. Ons voer hom met syfers van die verlede en kry van hom die voorspellings van die toekoms. Daardie voorspellings is so akkuraat dat ons ons produksie en markstate daarop baseer." Die masjien was so waardevol dat hulle daardie tyd reeds $2 000 huur per maand daarvoor betaal het, hoewel hulle maar 'n klein maatskappy was wat slegs omtrent driehonderd mense in diens gehad het.
"Hier is nou 'n stel syfers," het ek vir hom gesê, "om in die masjien te voer. Lenin het die Bolsjewisme in 1903 met sewentien volgelinge gestig. In 1917 het hy Rusland verower met veertigduisend. In 1960 het die Party van Lenin een biljoen verower. Die bevolking van die wêreld is twee en 'n driekwart biljoen. Teen watter jaar sal daardie syfer bereik word?"
Sy antwoord was: "Ek is bang om dit te probeer."
Hy het rede gehad om bang te wees. Die antwood sou inderdaad angswekkend gewees het.
Die militêre getuienis... vervolg